Goedhartigheid

Sal dit nie wonderlik wees as ons ’n beweging van goedheid en vriendelikheid kan begin nie!

Die bekende prediker Charles Swindoll het gesê: “Goedhartigheid is iets wat blinde mense kan sien en dowe mense kan hoor.” Wat dink jy? Het die wêreld ’n bietjie meer goedhartigheid nodig?

Het jy geweet goedhartigheid is ’n eienskap van God? Daarom behoort dit ook ’n eienskap van ons as God se kinders te wees. Paulus sê: “Behandel mekaar mooi en goed(Efesiërs 4:21, Die Boodskap). Die woord “goedhartigheid” gaan nie net oor ’n sentiment of ’n gesindheid wat ’n mens moet hê nie, maar dit is iets wat in dade moet oorgaan, om goed te wees en goed te doen teenoor ander. Soos om ’n brief van vergifnis te skryf of ’n oproep van besorgdheid oor iemand se welstand te maak. Goedheid doen, dit tree goed op. Ons sien dit beslis in die eienskappe van God. “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! “(Romeine 2:4) “Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn.”(Titus 3:4)

God is goed. God is goed teenoor ons. Die Here kom en Hy bemoei hom met elkeen van ons. Hy is nie net partykeer goed nie, Hy is nie net soms goed nie, Hy is nie net goed as Hy lus het om vir ons goed te wees of as ons dit verdien nie. Hy is vir ewig goed.

Sal dit dan nie wenslik wees, sal dit dan nie reg wees vir ons om op ons beurt goed te wees teenoor ander nie? Ons leef in ’n baie hardvogtige wêreld. Daar is baie slegte dinge oral om ons aan die gebeur. Jy was dalk die slagoffer van iemand se onvriendelikheid. Miskien was iemand ’n slagoffer van joune. Sal dit nie wonderlik wees as ons ’n beweging van goedheid en vriendelikheid kan begin nie!

Jesus sal ons dade van goedhartigheid onthou. Hy het eenmaal gesê: “Waar julle dit ook al aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit ook aan My gedoen.” Is daar iemand in jou lewe aan wie jy goedheid kan betoon om die Here se onthalwe? Is daar miskien in jou familie, by jou werkplek, in jou straat of by die skool iemand aan wie jy goedheid kan bewys, vir die Here se onthalwe? Kom ons laat die Gees van die Here ’n oomblik toe om ’n antwoord op daardie vraag te gee. Kom daar ’n naam van iemand by jou op wat by jou optrede van goedhartigheid kan baat? Terwyl jy probeer om daardie naam te identifiseer, sal jy asseblief ’n naam daarby voeg – jou eie naam. Sal jy goed wees vir jouself? God is goed vir jou, wees jy ook goed vir jouself. Ons is ons eie ergste kritici – stem jy saam? Ons is die strengste met onsself. En lank nadat die Here die lys met al ons foute en sondes verbrand het, lees ons nog daaroor en haak daarby vas. Miskien is dit tyd om goed te wees vir jouself en jouself te vergewe. As Hy besluit het jy is dit werd, dat Hy teenoor jou goed is, is dit dalk tyd vir jou om teenoor jouself ook goed te wees.

Send this to a friend