Ken jou storie: romans en mites

Willie Burger kyk na moeilike romans en mites

Etienne Leroux se romans, al was hulle vir die meeste lesers taamlik onverstaanbaar, het ’n groot invloed op die Afrikaanse letterkunde gehad. Nie net het sy romans ander skrywers beïnvloed nie – dink veral aan Ingrid Winterbach, maar ook ’n jonger skrywer soos Jaco Fouché – sy opvatting van wat ’n roman veronderstel is om te wees, het ’n groot invloed gehad op baie mense se beskouing van wat literatuur is en wat letterkundestudie behels.

Hierdie invloed op mense se literatuurbeskouing was nie noodwendig positief nie. Talle lesers het na aanleiding van Leroux se romans die idee gekry dat slegs moeilike, byna onverstaanbare letterkunde “goed” is. Die idee is ook gevestig dat die skrywer (en ander kunstenaars) byna soos profete is, wat belangrike boodskappe vir ons bring, maar dat hierdie boodskappe, soos in die geval van talle heilige geskrifte, moeilik verstaanbaar is en daarom is dit dikwels nodig dat spesialiskenners dit vir ons gewone lesers moet uitlê. (Ongelukkig word hierdie opvatting dikwels deur onderrig in skole versterk – leerders word nie aangemoedig om gedigte en verhale self te lees en te ervaar nie, maar wag op die onderwyser se verduideliking van wat dit nou eintlik beteken.)

Op 6 Mei 1960 het Leroux ’n lesing voor die Afrikaanse Studiekring in Stellenbosch gehou met die titel: “Die mens, en veral die skrywer, op soek na die lewende mite.” In hierdie lesing verduidelik Leroux wat hy as die taak van die skrywer sien. Die skrywer behoort volgens hom, die “waarheid”, wat in die mensdom se kollektiewe onbewuste geleë is, bloot te lê. Vir hierdie beskouing put Leroux uit die werk van die sielkundige Carl Gustav Jung. Saam met sy eie roman Sewe dae by die Silbersteins het Leroux se lesing tot ’n hele stroom van literêre kritiek in Afrikaans aanleiding gegee wat aangesluit het by die sentrale plek wat mites reeds vroeër in die moderne Europese romankuns en kritiek ingeneem het.

Soos in baie van die modernistiese romans wat lank voor Leroux se Sewe dae by die Silbersteins in Europa verskyn het, byvoorbeeld die romans van James Joyce, Virginia Woolf, Robert Musil, Hermann Broch en Franz Kafka, het Leroux ook die tegnieke van realistiese romans ondermyn. ’n “Lekker”, volgbare storie word nie meer vertel nie. In talle modernistiese romans is daar tydspronge, ruimtes skuif oor mekaar, die karakters is ongeloofwaardig en die vertelling is soms so deurmekaar dat mens nie presies weet wat aangaan nie. So ’n oënskynlike deurmekaarspul word egter baie keer saamgebind deur ’n mite te gebruik.

’n Streng struktuur word aangewend – soos die sewe dae wat by die skeppingsverhaal aansluit. As mens net eers raaksien dat daar ’n mite as saambindende faktor onder hierdie verhaal lê, dan raak die oënskynlike deurmekaarspul meer verstaanbaar. Al leef die mensdom aan die begin van die 20ste eeu volgens TS Eliot in ’n wêreld wat dreig om uitmekaar te val, bied ’n roman wat so wonderlik aanmekaargesit is – waarin alles so netjies by mekaar aansluit danksy die vorm van die mite – iets betroubaars buite al die chaos en koersloosheid van die moderne wêreld. Mens moet in gedagte hou dat die oorspronklike mites ook verhale was wat buite die alledaagse wêreld gestaan het.

Dit was verhale oor gode en helde en fabelagtige diere soos drake of slange met baie koppe en het in ’n ander tyd, “lank gelede” afgespeel. Hierdie verhale oor ’n ander tyd en ander wêreld is egter as singewend beskou. Mense het hul beskouings van die wêreld en van wat goed en kwaad is op hierdie verhale gegrond. In die moderne tyd glo mense nie meer dat die mites van ouds waar is nie. Daarom is die skrywer op soek na ’n nuwe mite. Maar as romans (en ander kunswerke) soos mites ’n estetiese geheel bied, as mens ná ’n versigtige lees en herlees kan ontdek hoedat elke aspek van die roman, elke woord en beeld eintlik verbind is en by mekaar aansluit, vul dit die leser met bewondering.

So ’n wonderbaarlik ineengeweefde kunswerk staan in skril kontras met die chaos en deurmekaarspul van die moderne wêreld. Op grond van só ’n beskouing neem die roman die plek van ’n mite in. Die estetiese skoonheid word bewonder as iets van buite die moderne wêreld wat aan ons bestaan kan sin gee; dat dit ’n mite is wat die waarheid openbaar omdat dit buite ons werklikheid iets vir ons bied. Dit is hierdie kunsbeskouing wat romans byna as heilige tekste beskou wat saam met modernistiese kuns ontwikkel het.

Dit is egter ’n gevaarlike spel om so ’n hoë verwagting van kunswerke te koester. Ná alles is hulle, hoe keurig dan ook inmekaargesit, steeds menseskeppings en bied nie toegang tot ’n hoër waarheid wat sin aan ons lewens kan gee nie. Toenemend het baie ander moderne romans, en veral ook postmodernistiese romans, begin blootlê hoedat mites en verhale nie die mens kan red nie.  

Send this to a friend