Kuns: Rembrandt

Selfportret in olie op doek
(84,5 cm x 66 cm) wat Rembrandt
op 53 geskilder het.

Ondanks sy huidige aansien as meester uit die Goue Eeu, was Rembrandt nie altyd die goue seun van die kunswêreld nie

Deur JOHAN MYBURG

Kort op die hakke van die groot Rembrandt-uitstallings wat in 2006 wêreldwyd aangebied is om die 400ste geboortedag van dié meester van Nederland se Goue Eeu te vier, is veral Nederland in rep en roer om 2019 as “Die jaar van Rembrandt” te vier.

Dit is vanjaar 350 jaar ná sy sterfdag in 1669.Die Rijksmuseum in Amsterdam neem die leiding met Al die Rembrandts, ’n uitstalling waarin die museum vir die eerste keer al die Rembrandts in sy versameling – 22 skilderye, 60 tekeninge en die meer as 300 beste voorbeelde van Rembrandt se grafiese werk – vertoon. Die Rijksmuseum se jongste aanskaffing, twee huweliksportrette van Marten Soolmans en Oopjen Coppit, maak dié museum se versameling Rembrandt- skilderye nou die grootste ter wêreld.

Die juweel in dié versameling bly egter Die Nagwag, wat in 1642 geskilder is. Dié tamaai skildery (3,5 m x 4,5 m) is vir die duur van Al die Rembrandts tot 10 Junie te sien, waarna intensiewe restourasiewerk aan die skildery aangebring gaan word. Die restourasiewerk begin in Julie en die skildery word vir die duur van die herstelwerk nie uit die museum verwyder nie. Besoekers aan die museum sal die restoureerders kan dophou waar hulle in ’n glaskas van sewe vierkante meter aan die doek werk.

Dié restourasiewerk is die omvangrykste van die 25 behandelings wat die skildery deur die jare al ondergaan het. Benewens besoekers aan die Rijksmuseum wat die vordering sal kan aanskou, sal die werk ook regstreeks op die internet gevolg kan word. Aanduidings is dat die werk taamlik stadig gaan verloop, en dat die projek etlike miljoene euro gaan kos. Die Rijksmuseum se tweede groot uitstalling dié jaar begin in Oktober en plaas Rembrandt se werk binne die historiese konteks van sy tyd deur die werk van sy Spaanse tydgenoot, Diego Velázquez, saam met dié van Rembrandt te vertoon.

Rembrandt was nie altyd die goue seun van die kunswêreld nie. Saam met dié wat sy grootsheid gesnap het en van oral oor Nederland gekom het om sy assistente en/ of leerlinge te wees, was daar biograwe wat gemeen het hy was ’n ongeletterde, vulgêre ghwar. Volgens Joachim von Sandart, wat in 1675, ses jaar ná Rembrandt se dood, ’n biografie oor die kunstenaar geskryf het, het Rembrandt nié die klassieke kanon onder die knie gehad nie, en het die onderwerpe wat hy gekies het nie van goeie smaak getuig nie. Gelees binne die algemeen gangbare kunssmaak van die Italiaanse Renaissance was Rembrandt ’n buiteperd.

Teen die middel van die 18de eeu het die taksering van Rembrandt van buitestander na genie wat nie begryp is nie, geskuif. In die 19de eeu is hy as die boheem, die vrydenker en die ware Romantikus gesien; en in die 20ste eeu het hy een van dié kunstenaars van alle tye geword. Waaraan word dié status toegeskryf? Die kunskenner Robert Hughes het dit só gestel: Rembrandt was die kunstenaar wat erken het dat die mens nie perfek en ook nie ewigdurend is nie. Hy het trouens dié imperfeksie en sterflikheid die primêre oogmerk van sy kuns gemaak. En daarmee het Rembrandt uitgeblink as die “sonderlinge connoisseur van gewone dinge”. Besoek www.rijksmuseum.nl vir nog inligting

Send this to a friend