Ken jou storie: Verhale oor liefde

Willie Burger kyk na die definisies van die liefde

Die woorde “ek het jou lief” en variasies daarvan rol maklik oor die tong. Soms word dit in ’n intieme oomblik gefluister, soms oor luidsprekers gebulder, soms op mure geskryf. Dit is egter moeilik om te verduidelik wat mens presies daarmee bedoel. Denkers, digters en liedjieskrywers sowel as bankklerke en busbestuurders het al hul hande aan definisies van die liefde gewaag, soms met indrukwekkende metafore en keurige rymwoorde, ander kere met vervelige gemeenplase.

Paul, die hoofkarakter in Julian Barnes se jongste roman, The Only Story, skryf al die definisies wat hy van die liefde teëkom in ’n boek neer. Later, soos hy meer ervaring van die lewe en die liefde opdoen, trek hy sommige van die definisies weer dood. Party definisies wat Paul neerskryf, is die weldeurdagte uitsprake deur filosowe en die geïnspireerde woorde van digters. Ander definisies is die geyktes op koffiebekers of op T-hemde waarin die liefde met babahondjies of sonstrale of blommetjies, iets eetbaars of iets troetelbaars, vergelyk word. Hy oorweeg elke uitspraak versigtig en trek die meeste dood.

Een van die definisies wat hy nie doodtrek nie, lui: “In my opinion, every love, happy or unhappy, is a real disaster once you give yourself over to it entirely.” Die een sterk punt van hierdie definisie is dat die moontlikhede van gelukkige en ongelukkige liefde ingesluit word, maar die eintlike krag van die definisie lê vir Paul in die idee dat rampspoed op “volledige oorgawe” volg. In die talle literêre werke waarin die liefde ’n sentrale plek beklee, ontstaan ’n konflik tussen liefde en plig. Onskuldige, passievolle liefde bots met ’n plig teenoor die familie, die kerk, die staat, die gemeenskap. Soms triomfeer die liefde oor die plig wat die omstandighede op die karakters lê, soms word die liefde deur die verpligtings vernietig. Soms gebeur albei en gewoonlik noem ons dit ’n tragedie. Romeo en Juliet se liefde triomfeer, maar albei sterf. In die meeste gemeenskappe is daar steeds verpligting waarteen individue se liefde stuit.

Volgens Paul spesifiek in godsdienstige, patriargale en hiërargiese gemeenskappe. Hierdie botsing tussen liefde en verpligtings ten opsigte van godsdiens, geslag, klas, sosiale status, rykdom, ouderdom, seksuele voorkeure en voorkoms verskaf steeds weer en weer ryke stof vir die skrywers van verhale oor die liefde. Paul wys egter op ’n ander, fyner nuanse van verpligting. Selfs in ’n gemeenskap waar al hierdie ander dogmas verval het, word die ervaring van verpligting deel van liefde: liefde self word ’n plig: “You had a duty to love.” As mens in die liefde glo, bring die liefde verpligtings. Die liefde kan swaar weeg, dit kan ’n mens vasbind en uiteindelik net so baie rampspoed veroorsaak as wat deur liefde se botsings teen tradisionele verpligtings veroorsaak is.

Een van die weinige uitsprake oor die liefde wat Paul nie doodtrek nie, lui: “In love, everything is both true and false; it’s the one subject on which it is impossible to say anything absurd.” Julian Barnes is natuurlik ’n ou meester as dit by vertel kom. Hy vertel die verhaal van die 19-jarige Paul wat tydens ’n somervakansie by die klein dorpie se tennisklub op ’n vrou verlief raak wat diep in haar veertigerjare is. Die roman verloop in drie dele. Die ouer, volwasse Paul dink terug aan daardie wonderlike somer toe hy en Susan Macleod op mekaar verlief geraak het. Hy probeer om die oorrompelende, meesleurende liefdeservaring van meer as tien jaar te onthou en weer te gee.

Hy probeer sy roekelose geloof in die waarheid van die liefde te rekonstrueer. Dit word ’n mooi liefdesverhaal, met enkele vooruitwysings wat die leser laat besef dat dit nie so goed afgeloop het nie. Maar dit is nog net die eerste deel. In die tweede en derde deel word ook ander kante van dieselfde verhaal vertel en telkens nagedink oor wat mens onthou, oor hoe mens liefde en rampspoed onthou. Dit word nadenke oor geluk en ongeluk, oor die huwelik, oor verlore liefde en die gebrek aan liefde. Benewens die liefde gaan die roman ook oor die geheue (ook die effek van alkohol op die geheue), en die vertelling word ook nadenke oor mens se vrye wil, jou keusemoontlikhede, of die gebrek daaraan, veral in sake van die liefde.

Hoeveel keuses het ons regtig? Hoeveel beslissings word deur biologie veroorsaak? Wat is die effek van ouderdom op keuses? Die belangrikste vraag is waarskynlik: Wat is die storie wat ons liefdes voorafgaan? Later gooi Paul sy boek met liefdesdefinisies opsy en besef dat hy eintlik sy tyd daarmee gemors het. Liefde kan nie in ’n definisie vasgevang word nie, slegs in ’n storie. Maar dieselfde storie, so demonstreer die roman, kan ook op verskillende maniere vertel word – op verskillende plekke begin en beëindig word, verskillende feite kan onthou en gefabriseer word. Barnes vertel hierdie liefdesverhaal meesleurend. Dit is roerend en droewig en ontstellend. Die boek is vol neerskryfbare opmerkings oor die liefde. Maar uiteindelik sal elkeen van ons daardie aanhalings opsy moet gooi en ons eie stories van ons eie liefde vertel. (Na aanleiding van: Julian Barnes. 2018. The Only Story. London: Vintage) 

Send this to a friend