Kuns: Unseen Art

‘Ons wil hê blinde mense moet toegang tot dié werke en ook fotografie in museums, wetenskapsentrums en kultuurinstellings hê,’ het John Olson, fotograaf en medestigter van Unseen Art gesê

Deur JOHAN MYBURG

Die soen is nie net Gustav Klimt se bekendste skildery nie, maar ook een van die kunsskatte van die Belvederemuseum in Wene. Meer as ’n miljoen besoekers kom jaarliks na dié Oostenrykse museum om dié werk met hul eie oë te sien.Onlangs het dié museum dit ook vir blinde mense moontlik gemaak om met behulp van ’n 3D-reliëf dié skildery te “sien”. Andreas Reichinger het rekenaartegnologie ingespan om ’n reliëfweergawe van die Klimt-skildery vir die Belvedere te maak. Die eindproduk was só suksesvol dat ’n blinde besoeker aan die museum kon aanvoel dat die skildery moet blink.

“Ek kan dit nie sien nie, maar ek kan dit voel,” het sy gesê. Met behulp van die 3D-druktegniek is dit deesdae maklik om skilderye in driedimensionele perspektief weer te gee, sodat blinde en siggestremde mense ook toegang tot skilderkuns kan kry. Dit was die Finse onderneming Unseen Art wat ’n paar jaar gelede met die plan vorendag gekom het om van die wêreld se grootste kunswerke vir die sowat 285 miljoen blinde en siggestremde mense wêreldwyd toeganklik te maak. Hulle het met ’n geldinsamelingsveldtog begin om hulle in staat te stel om sagteware te ontwikkel waarmee beroemde kunswerke afgelaai kan word en met ’n 3D-drukker uitgedruk kan word.

“Ons glo almal moet toegang tot die wêreld se klassieke kunswerke hê, en dit moet gratis wees,” het Mark Dillon, een van die stigters van Unseen Art, op die webwerf Tech- Crunch gesê. “Ons wil hê blinde mense moet toegang tot dié werke en ook fotografie in museums, wetenskapsentrums en kultuurinstellings hê, eers in Finland, en dan ook wêreldwyd,” het John Olson, fotograaf en medestigter van Unseen Art gesê. In ’n video waarmee die projek en die geldinsamelingsveldtog van stapel gestuur is, sê Dillon: “Verbeel jou jy weet nie hoe Mona Lisa se glimlag lyk nie, of Van Gogh se Sonneblomme. Verbeel jou jy hoor mense daaroor praat, maar jy het dit self nog nooit ervaar nie …”

In die einste video is ’n blinde vrou, wat besig is om die kurwes te bevoel, se gewaarwording vasgevat: dat die portret “nie dié van ’n klassieke skoonheid is nie”, maar wel ’n langerige neus het “en die geheimsinnigste glimlag”. Presies waarvoor dié skildery eeue al bekend is. Wetenskaplike ondersoek na neuroplastisiteit dui volgens Olson daarop dat die menslike brein in staat is om tasbare inligting wat van die vingerpunte kom, te lees asof dit van die oë kom. Wanneer ’n blinde persoon sy of haar vingers oor die 3D-oppervlak laat gaan, skep die brein ’n prentjie daarvan soortgelyk aan dié van ’n siende persoon.

In sommige van die 3Dweergawes is sensors in die reliëf aangebring wat ’n klankbaan aktiveer wat kommentaar lewer oor die betrokke deel van die skildery wat bevoel word. Museums begin al meer voorsiening vir siggestremde besoekers maak. Die Prado in Madrid, Spanje, het met ses skilderye begin, verteenwoordigend van verskillende genres wat met 3Dtegnologie ’n wêreld vir blindes kan oopmaak. Inligting oor die werk word daarby in braille en in oudiogidse gegee. “Fotografie het vir my ’n wêreld oopgemaak,” het Olson by geleentheid oor sy projek gesê. “Ek het gewonder hoe ’n lewe sonder foto’s en sonder kuns moet wees. Al wat ek wil doen, is om die ervarings wat ek my lewe lank as vanselfsprekend aanvaar, te deel.”

Send this to a friend