Kies ’n boek: Die seuns van Bird Island

Seuns-web

Willie Burger kyk na die opspraakwekkende boek Die seuns van Bird Island

In André P Brink se roman Duiwelskloof besef Grootvaar Lermiet dat iemand wat absolute mag oor ’n groep mense wil uitoefen, nodig het om hul geskiedenis te beheer. Maar hy besef ook dat dit nie altyd maklik is nie, want, soos hy verduidelik: “Die ding met gister is: hy bly nooit lê nie, jy moet hom altyd van voor af platslaan.” As mens ’n spesifieke weergawe van die wêreld wil vestig, en ander weergawes daarvan nie wil laat vertel nie, moet gister elke dag van voor af platgeslaan word.

Wanneer die mag om gister te bly platslaan egter wegval, kan mens verwag dat gister nie gaan bly lê nie. Sekere stories wat in die verlede deur die magtige masjinerie van die NP-regering platgeslaan is, het ’n neiging om weer op te staan: soos die gerugte wat generaal Magnus Malan, as minister van verdediging gedurende die 1980’s, een van die magtigste mense in Suid-Afrika van daardie tyd, met pedofilie verbind. Die verskyning van Die seuns van Bird Island, ’n boek vol skokkende onthullings deur Mark Minnie en Chris Steyn oor ’n beweerde pedofilie-netwerk waarby drie ministers van die destydse NP-regering betrokke was (Magnus Malan, John Wiley en ’n derde ongeïdentifiseerde minister), het hewige reaksie ontlok.

Sedert die boek verskyn het, was daar byna daagliks berigte daaroor of kommentaar daarop in die sosiale media. Boonop het Minnie intussen, kort ná die boek se verskyning, gesterf. Hoewel sy dood as selfdood beskryf is, is daar talle mense, waaronder lede van sy familie, wat hul kommer uitgespreek het dat sy selfdood baie herinner aan die selfdood van Dave Allen en John Wiley wat in die boek beskryf word. In die boek word aangedui dat hulle nooit selfdood gepleeg het nie, maar eerder vermoor is op maniere wat dit na selfdood sou laat lyk, ten einde te keer dat die storie uitkom. Om Die seuns van Bird Island te lees, is ’n vreemde ervaring. Dit is nie geskryf soos ander feitlike onthullings oor vergrype van die NP-regering nie (byvoorbeeld Jacques Pauw se ondersoek na “apartheidsmoordenaars” in Into the Heart of the Whore). Daardie soort werk bied ’n soort joernalistieke, feitlike leeservaring.

LEES OOK: Kies ‘n boek ‘n Droë wit seisoen

Mark Minnie se vertelling, daarenteen, voel meer soos Bennie Griessel wat Scully van die X-files ontmoet. Hierdie gevoel het met styl te doen. Minnie span al die verteltegnieke van die tipiese speurriller in: Eerstens is daar die tipiese speurder – die beeld van homself as hardgebakte speurder wat baie drink, nie skroom om ’n kroeggeveg betrokke te raak nie, ervare om op allerlei maniere verklarings uit mense te kry, wat self ’n hartseer verlede het, maar wat ’n onblusbare wil het om die waarheid te laat seëvier – selfs al kos sy beginselvastheid oor sy speurwerk hom sy loopbaan. Tweedens word die verhaal van Minnie se speurwerk en die moeisame opbou van ’n saak wat in die hof kan staan, die verdwyning van die dossier terwyl hy uit die bloute verplaas word en selfs aanslae op sy lewe oorleef, nie as ’n sistematiese dreunende vertelling aangebied nie – dit word “lewendig” gemaak deur toneel ná toneel te beskryf, vol fyn besonderhede, selfs oor die pasteie wat hy eet, die sigarette, die reuke van die geboue – “showing, not telling”, soos die kreatiewe skryfkursusse voorskryf.

Verder word spanning geskep deur inligting geleidelik deur die verloop van die vertelling te onthul. Hy vertel byvoorbeeld van ’n opsienbarende verklaring wat hy afneem, maar die inhoud daarvan word eers bladsye later aan die leser onthul. Hy maak ook ruimskoots van realistiese dialoog gebruik, kompleet met die vloekwoorde getrou aan enige hardebaardspeurder. Hierdie vertelstyl oortuig, sleur die leser mee na die benoude Suid-Afrika onder ’n noodtoestand en ’n byna almagtige minister van verdediging. Om te voorkom dat Die seuns van Bird Island bloot soos goeie misdaadfiksie aandoen, word Minnie se vertelling onderbreek deur korter hoofstukke deur Chris Steyn, ’n verslaggewer wat ook destyds probeer het om meer oop te krap rondom die raaiselagtige omstandighede van minister Wiley en Dave Allen se dood.

Voorts word die boek ingelui deur die bekende verslaggewer Marianne Thamm, wat Minnie en Steyn se vertellings kontekstualiseer en hul geloofwaardigheid bevestig. Die voordele van die oortuigingskrag wat die konvensies van misdaadfiksie bied, word met die nugterder weergawe van sensuur op Steyn se joernalistieke werk gekombineer. Die gevolg is ’n onthutsende leeservaring en al is die boek redelik skraps op konkrete feite wat ’n hofsaak sal deurstaan, is daar genoeg inligting om die leser te laat glo in die waarskynlikheid dat die voormalige ministers met monsteragtige dade verbind kan word. Niemand was destyds te vertrou nie. Daar is skynbaar steeds sinistere magte aan die werk om die gisters elke dag van voor af plat te slaan. En dit is nou noodsaaklik dat die saak opnuut ondersoek word. In die eerste plek ter wille van die slagoffers, maar ook vir almal in hierdie land omdat dit noodsaaklik is om gister te konfronteer. Ons is op ’n manier almal slagoffers van die platslaan van daardie verlede, slagoffers van die ongebreidelde en siniese mag wat oor ons uitgeoefen is.

Send this to a friend