Kuns: Barbara Hepworth

0914-vk1-barbara-web

‘Dit is ’n cliché dat ’n beeldhouer ’n gespierde man moet wees wat ’n stuk klip takel. Klip gee nooit aan geweld toe nie’

Deur JOHAN MYBURG

Barbara Hepworth en Henry Moore was tydgenote en vriende. Hulle is vyf jaar en iets soos 15 km uit mekaar in Yorkshire, Engeland, gebore, het mekaar op die Leeds-kunsskool leer ken en het elkeen in eie reg bekendheid as beeldhouer verwerf. Dié twee het ook mekaar se werk wedersyds beïnvloed. Maar dié ooreenkomste is deur intense mededinging op ’n professionele vlak oorskadu. ’n Voorbeeld hiervan het onlangs aan die lig gekom met die publikasie van die dagboeke van John Rothenstein, die man wat van 1938 vir 26 jaar direkteur van Londen se Tate-galery was. Daaruit blyk dat Moore, ’n trustee van die kunsmuseum, in 1945 alles in sy vermoë gedoen het om die museumraad te ontmoedig om ’n werk van Hepworth aan te koop.

If sculpture [was] nothing more than that, it would be a poor affair,” het Moore, verwysend na ’n Hepworth-beeld, gesê. Op dié aanbeveling het die museumraad daardie jaar nié die betrokke houtbeeld van Hepworth aangekoop nie, maar wel sewe werke van Moore. Hoe dit ook al sy, vandag word albei as vername Britse beeldhouers gereken en word hul werk saam vertoon – onder meer by die Yorkshire Sculpture Park digby die geboorteplek van albei kunstenaars. Barbara Hepworth (1903–1975) het in ’n tyd toe vrouekunstenaars nie volop was nie, op sewe besluit sy wil ’n beeldhouer wees. Nie net het sy voet by stuk gehou en sukses behaal in ’n veld wat deur mans oorheers is nie, maar ook deurgaans na haarself as “sculptor” verwys en nooit as “sculptress” nie.

LEES OOK: Kuns: Henry Moore

Dit was ’n rolprent oor Egiptiese beeldhouwerk wat sy as kind op skool gesien het wat die saadjie geplant het om beeldhouer te wees. “Ek was vasbeslote om beeldhouer te word. Ek het die oortuiging gehad dat mens enigiets kan maak en vorm. Ek wou iets maak waarmee ek kon saamleef en vashou en aanraak, iets met ’n gevoel van ewigheid,” het sy in 1967 in ’n onderhoud gesê. Soos vir brons en hout het sy nie teruggedeins vir klip nie. “Dit is ’n cliché dat ’n beeldhouer ’n gespierde man moet wees wat ’n stuk klip takel. Klip gee nooit aan geweld toe nie.” Wat Hepworth vermag het, was om abstraksie en nie-representatiewe vorms deel van driedimensionele kuns te maak.

In plaas daarvan om ’n vorm af te dwing op die materiaal waaraan sy werk, het sy die medium toegelaat om die vorm te bepaal. “Al my beelde vloei uit die natuur voort,” het sy by geleentheid gesê. “Geen beeldhouwerk kom werklik tot lewe as dit nie na die landskap, na die lug en wolke en bome teruggaan nie.” Hepworth het met die sogenaamde pierced form vorendag gekom, ’n gat in die kern van die beeldhouwerk. Dié nadruk op vorm en ruimte, op afwesigheid wat aanwesigheid beklemtoon, is onmiddellik deur Moore nagevolg en het ’n kenmerk van albei se werk geword. Nadat sy in 1951 van haar tweede man, die Britse skilder Ben Nicholson, geskei is, het sy in haar Trewyn Studios in St Ives in Cornwall gewoon, waar sy dikwels van haar groter beelde in haar tuin vertoon het. Sy is daarna nie weer getroud nie. In haar latere loopbaan het sy benewens tekeninge ook heelwat litografiese drukwerk gedoen. Sy is in 1975 dood toe ’n brand in haar Trewyn Studios uitgebreek het.

Send this to a friend