Boekhoek: Ingrid Winterbach – Vlakwater

boekhoek

Wat? ´n Ingrid Winterbach-boek met ´n titel van een woord? Een gewone, algemeen verstaanbare woord?

Margot Pakendorf Schultz

Gewoonlik het haar boeke lang titels wat redelik onverstaanbaar is soos Die boek van toeval en toeverlaat (2006) en Die aanspraak van lewende wesens (2012). Selfs (of veral!) nadat jy dit gelees het, wonder jy wat die titels beteken. Goed, daar is baie toevallighede en lewende wesens in hulle, maar wat is die punt?

So min as wat jy die titels kan verstaan, so min verstaan jy waaroor hulle eintlik gaan. Daar is baie karakters en gewoonlik twee storielyne (insoverre ´n mens van ´n storielyn of ´n storie kan praat by Winterbach), maar alles is lukraak en ongeorden. Daar is baie snaakse situasies en koddige karakters en die dialoog is dikwels skitterend, maar waaroor gaan dit eintlik?

Daar is gewoonlik insekte of diere of selfs skulpe in Winterbach-verhale – in Vlakwater is dit varke en sywurms en ´n windhond – wat ´n MA- student miskien kan navors vir dieper betekenis. Die sywurms wat papies spin het moontlik betrekking op mense wat cocoon, soos die naamlose vrouekarakter wat haar in haar huis terugtrek – dra dit tot die dieper betekenis by?

Die romans het ook altyd kunstenaarkarakters (siende dat Winterbach en haar man albei kunstenaars is, ken sy dié milieu seker die beste) en verwysings na skrywers en kunstenaars. In Vlakwater is daar hordes sulke verwysings: op bl 153 word 5 skrywers en 6 komponiste genoem, en op bl 191 word daar terloops na Ed Kienholz, Joseph Beuys, Holbein, Dostojefski en Japannese oorlogskuns verwys.

Die gewone leser (ek) vra haarself af of jy nou al dié name moet google of word daar van jou verwag om sommer net te weet wat die kunstenaars opgelewer het en of die name bloot deel van die agtergrond is, soos ´n tapyt of muurpapier waarteen alles afspeel.

Of is dit net ´n lui manier, ´n soort snelskrif, om vir die ingeligtes te beduie hoe die karakter is. Moet jy byvoorbeeld die beskrywing van die sonsopkoms deur die naamlose vrouekarakter op bl 197 met google se hulp ophelder? So staan dit daar: “Dit herinner my aan ´n skildery van Andrea del Castagno: die Heilige Drie-Eenheid met Sint Jeronimus” – die een of twee lesers wat al ooit vir Castagno raakgeloop het, sal moontlik begeesterd sê: Ja! Ek sien dit duidelik voor my geestesoog! Maar ons ander arme drommels wat nog nooit van hom (of haar!) gehoor het nie, moet maar aanvaar dat “die kleur van die wolkies hierin die presiese kleur van die onderkante van die wolkmassa bo die berg” is.

Die roman is stellig net so lukraak en deurspek met uiteenlopende mense en gebeurtenisse soos die regte lewe. Maar ons lesers is nou maar gewoond aan boeke wat sin maak van die lewe se deurmekaarspul. Dié dat die meeste mense speurverhale verkies.

Die gedig by die boek vandag is die derde deel van Margaret Atwood (ja, sy dig ook!) se gedig True Stories. Dis moontlik ´n waarskuwing om eerder die versinsels en onvoltooide verhaalbrokke van ´n boek soos Vlakwater te aanvaar as die werklikheid soos ons dit teëkom.

III

The true story lies

among the other stories,

a mess of colors, like jumbled clothing

thrown off or away,

like hearts on marble, like syllables, like

butchers’ discards.

The true story is vicious

and multiple and untrue

after all. Why do you

need it? Don’t ever

ask for the true story.

Send this to a friend