Kies ’n boek: Die verevrou

Willie Burger kyk na Jan van Tonder se jongste roman, Die verevrou

Met 313 bladsye is Die verevrou verreweg Jan van Tonder se dikste boek tot dusver. Sy bekendste roman, Roepman, tel onder die beste grootwordromans uit die afgelope klompie jare. Dit was ’n subtiele dog ontstellende verhaal oor die verlies van onskuld. Aan die begin van Roepman wil die jong Timo by sy ouma weet wat “onskuld” is. Sy ouma antwoord dat dit iets is wat mens nie weet jy het nie, totdat jy dit verloor. Hierop wil Timo weet wat dit mens dan help om in die eerste plek onskuld te hê.

Die verevrou gaan weer oor mense se verlies van onskuld. Soos in Die kind, gaan die verhaal ook oor liefdesverhoudings. Maar Die verevrou is meer ambisieus as die vorige romans en eintlik word twee afsonderlike verhale oor die verlies van onskuld vertel, verhale wat oor meer as 50 jaar strek en wat in Algerië, Parys en die Klein-Karoo afspeel. Die “verevrou” van die titel is Liora Papalato, ’n Franse Algeryn wat as kind in die 1940’s en 1950’s op ’n plaas op die soom van die Sahara grootword. Haar ouers boer onder meer met volstruise en sy word op die plaas deur haar tannie opgelei om die fynste modeskeppings met volstruisvere te maak. Hulle word gedwing om die plaas tydens die Algerynse oorlog te verlaat, maar Liora werk eers, tydens die oorlog, ’n tyd lank as verpleegster in Algiers, voordat sy ook soos die meeste ander Franse na Frankryk moet vlug.

Jare later, in 1992, onderneem sy ’n reis na Oudtshoorn, waar sy haar uiteindelik vestig. Liora se verhaal word vertel deur heen en weer te spring tussen 1948, toe sy ’n sesjarige dogtertjie op die plaas was, haar belewenisse op Oudtshoorn as 50-jarige vrou, haar tienerjare tydens die opbouende spanning in Algerië aan die einde van die 1950’s en die oorlogtyd en haar Paryse verblyf aan die begin van die jare sestig. Parallel hiermee word die verhaal van Candice Amat van die Klein-Karoo vertel. Sy raak as tienermeisie op ’n jong kunsstudent, die seun van ’n boer, verlief. Hul verhouding oor die kleurgrens tydens die apartheidstyd is egter gedoem en hulle word verder, soos in die meeste liefdesverhale, weens misverstand en koppigheid verhinder om by mekaar uit te kom.

Die twee verhaallyne loop uiteindelik saam wanneer Liora en Candice weens albei van hulle se passie vir volstruisvere ontmoet. ’n Langer verbintenis tussen Algerië en die Klein-Karoo word gelê deur ’n Joodse volstruishandelaar van Oudtshoorn wat dikwels Liora-hulle se plaas besoek het en oor jare heen ’n noue verbintenis met Liora en haar ma gehandhaaf het – en na wie Liora in 1992 in Oudtshoorn kom soek. Die beskrywing van die bloedige dekoloniseringstryd in Algerië lei tot ’n interessante verbandlegging tussen dié voormalige Franse kolonie se verwerping van die koloniale juk en Suid-Afrika se oorgang tot ’n demokrasie. Albei die verhale gaan oor onskuld wat verlore gaan.

In albei gevalle speel die koloniale situasie en maatskaplike wantoestande ’n groot rol. Ook handel albei die verhale oor die liefde. Liefde word op verskillende maniere ondersoek – selfsugtige, manipulerende verhoudings, skelm verhoudings, verraaide liefde, verbode liefde … Liora vra haar ma: “Hoe kry mens so lief soos jy en oom Moshe; hoe dra mens dit deur tyd en afstand en teenstand?” Haar ma antwoord: “Die liefde dra jóú, Lioratjie, dis nooit andersom nie.” Die vraag is egter of die liefde genoegsaam is om mense deur verskrikking te dra, deur teleurstelling, deur droefheid, deur misverstand. Geleidelik word dit duidelik hoe kompleks liefdesverhoudings is – ouerliefde sowel as romantiese liefde.

Die geheime tussen mense is vernietigend vir verhoudings, al word die geheime soms juis gehou ten einde ander te beskerm. Dit is ’n omvangryke roman, met baie karakters en steeds ingewikkelder verhoudings tussen die karakters. Die tydspronge en die spronge tussen die twee verhaallyne word ingespan om spanning te skep. Die leser het inligting oor dinge wat later gebeur, maar sekere inligting oor wat lank gelede gebeur het, word geleidelik onthul. Op hierdie manier hou die vertelling mens tot aan die einde nuuskierig. Maar nie al die “geheime” wat aan die einde onthul word, is so verrassend of by nabaat só insiggewend nie.

Die Sahara en die Klein-Karoo word in fyn besonderhede beskryf, die skokkende geweld en verskrikking van die oorlog word in onthutsende detail weergegee, maar Van Tonder is eintlik op sy beste waar klein smart gesuggereer word. Die historiese agtergrond en die beskrywings van die verebedryf bied interessante inligting. Dit is ’n veel meer ambisieuse roman as die wat Van Tonder ooit voorheen aangepak het. Dit verdien om gelees te word, maar iewers tussen die talle karakters en uiteenlopende ervarings, tye en plekke, verloor die roman iets van die meesleurende aard en oortuigingskrag van die wêreld van Roepman. (Human & Rousseau)  

Send this to a friend