Kuns: Titiaan Vecelli

Titiaan, Ariadne en Bacchus, olie op doek
(176,5 cm × 191 cm). Dié skildery is in die
versameling van die National Gallery in
Londen te sien.

Titiaan het sy vaardigheid en aanwending van tegniek gebruik om gestalte aan die binnewêreld van sy karakters op doek te gee

Deur JOHAN MYBURG

Die meester van kleur, so het Titiaan, as Tiziano Vecelli (c1488–1576) gebore, in Venesië bekendgestaan. Geen wonder dat Tintoretto se pa, ’n man wat met kleurstowwe gewerk het, besluit het sy jong en talentvolle seun moet by Titiaan les neem.

In die 16de eeu was Venesië aan die voorpunt van die tekstielbedryf en ook die poort waardeur waardevolle pigment soos lapis lazuli Europa uit die Ooste binnegekom het. Van jongs af het Titiaan met pigment en olie geëksperimenteer en met sy baanbrekerswerk vir hom die bynaam “prins van skilders” verwerf. Sy nalatenskap het ’n magdom skilders geïnspireer, en doen dit steeds. Soos wat Michelangelo in Firenze as die meester van vormgewing bekend gestaan het, was Titiaan in Venesië die meester van kleurgebruik. Vir die Florentynse aanvoeling was lynwerk die alfa en die omega – waarin Michelangelo uitgeblink het.

Ontwerp was nie Titiaan se forte nie en hy het ook nie vooraf sketse gemaak nie, maar eerder sy skilderye met kleur “ingevul” … en met hope spontaneïteit. Teen 1523, die jaar waarin Titiaan Bacchus en Ariadne as deel van ’n mitologiese reeks vir Alfonso d’Este, die hertog van Ferrara, geskilder het, was hy op die kruin van sy roem en bekend as skilder van portrette, landskappe en veral van uitbeeldings van Ovidius se fabelagtige Metamorfose. Sonder om die gebeure in die skildery te verstaan, word mens reeds deur Titiaan se kleurgebruik ingetrek. Hy deel die doek as ’t ware diagonaal van links onder na regs bo. Aan die bokant is dit ’n kalm blou wat oorheers en aan die onderkant is dit aardse bruin en groen. Die ander kleure wat uitstaan en kontras bied, is skakerings van oranje en rooi.

Kyk byvoorbeeld net na Titiaan se uitbeelding van Ariadne wat nie net alleen staan nie, maar ook met behulp van kleurplasing só verbeeld word dat dit voorkom asof sy van agter belig word – wat haar as ’t ware laat gloei. Die beweging van die posisie waarin sy geskilder word (sy draai weg van die wegvarende Theseus in die rigting van Bacchus) word deur die kolkende rooi serp beklemtoon. Dit is dié soort vaardigheid en aanwending van tegniek waarmee Titiaan as ’t ware die binnewêreld van sy karakters op doek kon weergee. Die verhaal is dié van Ariadne, die dogter van koning Minos, wat op die eiland Naxos deur haar minnaar, Theseus, agtergelaat is. In Titiaan se skildery is Theseus se skip besig om die baai te verlaat. Terwyl Ariadne die vaartuig dophou, verskyn Bacchus en sy drinkebroers en -susters letterlik uit die bloute.

Ariadne en Bacchus kyk mekaar in die oog en daar is liefde met die eerste oogopslag. Bacchus onderneem om ’n getrouer minnaar as Theseus te wees en bied haar terstond ’n sterrekonstellasie (bokant Ariadne se kop in die skildery) as huweliksgeskenk aan. Bacchus, die god van wyn, het volgens Ovidius pas van Indië teruggekeer met sy strydwa wat deur twee tiers getrek word. Titiaan vervang dié twee met luiperds, waarskynlik uit die welgestelde hertog se private dieretuin. In sy lang loopbaan – uitsonderlik vir die tyd van die Renaissance het hy byna 100 gehaal – het Titiaan asimmetrie en dinamiese komposisies deel van die skilderkuns gemaak. Hoewel sy werk gaandeweg donkerder en meer impressionisties geword het, word sy doeke as voorlopers van die emosionele drama van die Barok gesien.  

Send this to a friend