Kies ’n boek: Koshuis deur Erns Grundling

Willie Burger kyk na Erns Grundling se Koshuis

Omtrent almal wat mens ken, het minstens een. Die meeste mense het meer as een. Ek praat van ’n koshuisstorie.Die uitgewery Queillerie het ’n lekker dik boek vol van sulke stories gemaak, saamgestel deur Erns Grundling. Koshuis bevat byna 50 stories oor ervarings in skoolsowel as universiteitskoshuise. Onder die bydraes is stories deur bekende en bekroonde skrywers soos Dana Snyman, Kerneels Breytenbach en Harry Kalmer. Van die ander bydraes is deur bekende joernaliste, soos Bun Booyens, Yvonne Beyers en Toast Coetzer.

Die koshuis as agtergrond vir stories oor grootword is natuurlik ’n gewilde genre. Veral in die Britse letterkunde was die sogenaamde boarding school fiction een van die gewildste genres gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu. Die afgelope klompie jare het Harry Potter nuwe lewe in die koshuisstorie as genre geblaas. In Afrikaans sluit die gewilde Keurboslaan- reeks of Uile-boeke aan by die tradisie van verhale wat in koshuise afspeel. Die bekendste Suid-Afrikaanse koshuisverhale uit die onlangse verlede is seker die suksesvolle Spud-boeke deur John van de Ruit. By sommige mense het hierdie boeke (en rolprente) ’n nostalgiese verlange na hul eie koshuiservarings laat opvlam terwyl dit by menige skoolkind wat soggens by die skool afgelaai en smiddags weer deur ’n besorgde moeder opgelaai word, ’n hunkering na ’n koshuislewe laat ontstaan. In koshuisstories val die klem meestal op die aard van vriendskap, oor lojaliteit en verraad tussen vriende en oor kompetisie tussen aartsvyande.

Komiese voorvalle vind dikwels plaas, terwyl ernstiger gevolge van die noue saamleef met ander ook dikwels uitgelig word. Uiteindelik staan die idee van “inpas”, die vind van ’n “eie plek”, sentraal in die meeste koshuisverhale: die geborgenheid en troos wat binne ’n groep gevind word en die beloning van lojaliteit staan dikwels teenoor die eensaamheid van buitestanderskap. Baie van die verhale is met die ontwikkeling van ’n morele kompas tydens mens se vormingsjare gemoeid. Dikwels is daar een of meer onderwysers of seniors wat ’n rigtinggewende rol speel terwyl daar meestal ook ’n boelie of groep boelies is wat eweneens ’n vormende invloed op die individu uitoefen.

Die vertellings wat in hierdie bundel byeengebring is, volg meestal dieselfde patroon. Aan die een kant is talle van die verhale gevul met nostalgiese verlange na tye wat met goeie vriende gedeel is: poetse, kattekwaad, studentepret – verhale van drank, kameraderie en gedeelde laste. Aan die ander kant is enkele verhale van verwyt en swaarkry ook in Koshuis opgeneem – nie die soort “swaarkry” tydens ontgroening wat later met nostalgie in herinnering geroep word nie, maar die soort pyn wat deur uitsluiting veroorsaak word en wat nie later met enige heimwee opgeroep kan word nie (soos Florence de Vries se Rookwolkies). Grundling wys in die voorwoord daarop dat hy probeer het om ’n “gevarieerde en verteenwoordigende blik op koshuiservaring te gee”.

Ouer en jonger skrywers is ingesluit, mans en vroue. Grundling skryf die “feit dat daar nie meer swart of bruin bydraers is nie” toe aan “Suid-Afrika se apartheidsgeskiedenis en wie kan (of kon) bekostig om koshuis toe te gaan”. Die versameling koshuisherinneringe van studente wat gedurende die 1970’s aan die UWK studeer het en deur Hein Willemse in Hostel (2018) byeengebring is, is egter ’n aanduiding dat daar in die samestelling van Koshuis dalk effens te beperk oor moontlike bydraers gedink is. Net soos die koshuisfiksie meestal in die koshuise van bevoorregte privaat skole afspeel (byvoorbeeld Spud), is die universiteitskoshuisverhale hier ook tot veral Stellenbosch (maar ook Tukkies, Pukke, Kovsies en enkele vertellings oor Kaapstad en Rhodes) beperk.

’n Soort verromantisering van die koshuislewe het moontlik as gevolg van die baie boeke en rolpente daaroor ontstaan, maar veral die staaltjies deur ouers, familielede en vriende, oorgelewerde verhale oor ontgroening, tradisies en koshuislegendes, het verwagtings geskep, en daartoe aanleiding gegee dat elke nuwe generasie behoefte aan wonderlike ervarings het wat hulle later weer kan oorvertel. Soos die komediant Schalk Bezuidenhout in een van die verhaaltjies in Koshuis dit stel: “My pa en sy pêlle van Afslaanmanskoshuis op die destydse RAU is nou nog vriende. Elke keer wanneer hulle bymekaarkom, vertel hulle vir my stories oor hul ontgroening en hoe hulle later as seniors die eerstejaars ontgroen het. Dan mors hulle hul brannas op hul check-hemde soos hulle lag.”

Koshuis is vol sulke vertellings en bied baie leespret. Talle van die verhale is pittige vertellings oor snaakse voorvalle met legendariese karakters wat eens op ’n tyd aan die koshuislewe deelgeneem het. Dit laat mens self onthou van mense en gebeurtenisse wat jy al vergeet het (of wou vergeet!) Heelwat verhale draai die nostalgiekrane heeltemal oop. In enkele gevalle laat ’n soort onkritiese selftevredenheid en onskuld van sommige vertellers mens die gevaarlike kant van nostalgie sien. Alle vertellers is nie ewe bedrewe nie en soms word ’n bietjie te hard probeer om ’n morele lessie uit die prettige of droewige herinnering te wring. Maar dan is daar altyd Dana Snyman wat so onthutsend eerlik soveel insig in die menslike psige bied, so sonder om dit te forseer, dat hierdie een verhaal al die lees van die bundel onvergeetlik maak.   

Send this to a friend