Klassieke klanke: Isaac Albéniz

Die kitaarweergawe van Isaac Albéniz se Asturias is een van die bekendste en belangrikste werke in die repertorium vir die klassieke kitaar

Deur JOHAN MYBURG

Anders as baie ander lande wat ’n leeueaandeel in die ontwikkeling van Westerse kunsmusiek gehad het, kan mens die musiek van Spanje byna altyd onmiddellik as Spaans herken. Dink maar aan die Lied van die stiervegter uit Carmen, geskryf deur die Fransman Georges Bizet.Sang en dans is twee van die opvallendste elemente van Spaanse musiek, veral dié van Andalusië, maar daar is ook nóg belangrike invloede.

Die komponis Manuel de Falla het aangevoer die belangrikste van dié invloede was van Bisantynse, Arabies/ Moorse, Joodse oorsprong en dié van die sigeuners. Mettertyd het die individuele elemente met volkse elemente versmelt om klanke voort te bring wat eie aan die land en die idioom van Spanje is. Die woord “duende” word vir dié kwaliteite gebruik. Die Spaanse digter Federico Garcia Lorca het duende beskryf as die krag wat van jou voetsole af opkruip en ’n besielde uitvoering tot gevolg het, iets wat “diep sang” (cante jonde) genoem word.

Dit was dié kwaliteit waarmee uitdrukking gegee kon word aan die diepste en universeelste emosie. Daar is kwalik ’n ander komponis wat Spanje, ook as geografiese gebied, so in sy musiek verewig het as Isaac Albéniz (1860–1909). Virtuose pianis wat hy was, het hy wyd gereis en uitvoerings gegee, ook in Puerto Rico en Kuba, waar sy pa ’n regeringsamptenaar was. Maar dit was Albéniz die komponis wat aan die volkse idioom van Spaanse musiek uiting gegee het. Hy het verskeie genres bemeester, maar veral van groot belang was sy stukke vir klavier: Suite Española, España, Cantos de España, Recuerdos de Viaje en sy meesterstuk Iberia, ’n komposisie waarin hy Franse invloed insluit en daarmee die gehore vir Spaanse musiek verbreed het en Spaanse musiek as ’t ware die 20ste eeu ingeneem het.

Suite Española, op. 47, is ’n versameling stukke wat die lewe in verskillende streke van Spanje verklank. Albéniz het ’n suite met vier dele – Granada, Cataluña, Sevilla en Cuba (Kuba wat in die 1880’s nog deel van Spanje was) – geskryf, maar ná sy dood is nog vier van Albéniz se karaktersketse van Spaanse streke – Cádiz, Asturias, Aragón en Castilla – by die bestaande vier gevoeg om ’n suite met agt dele te vorm. Iberia, die suite wat Albeniz tussen 1905 en 1909 gekomponeer het (en wat uit vier boeke bestaan en sowat 90 minute duur), word gereken as dié komponis se meesterstuk – volledig Impressionisties, maar met die beeld- en klankwêreld wat so eie aan Spanje is. Albéniz was meer as ’n komponis wat bloot Spaanse nasionalisme in sy musiek gepropageer het; hy het inderdaad daarin geslaag om aan die sang en dans van dié land ’n nuwe uitdrukkingswyse te gee.

In dié opsig moet mens krediet gee vir Albéniz se leermeester, die komponis en musikoloog Felipe Pedrell (1841–1922), wat hom aangemoedig het om die Spaanse idioom as inspirasie te gebruik. Heelwat van Albéniz se musiek is vir klassieke kitaar verwerk, onder meer die delikate Tango in D, die tweede beweging uit España, asook die Asturias (Leyenda) uit die Suite Española. Die kitaarweergawe van die Asturias is een van die bekendste en belangrikste werke in die repertorium vir die klassieke kitaar. Van Albéniz se komposisies is ook vir orkes verwerk. Daar is talle goeie opnames van Albéniz se klaviermusiek beskikbaar, onder meer dié van sy landgenote Alicia de Larrocha, maar ook van Arthur Rubinstein, Claudio Arrau, John Williams en Marc-André Hamelin.  

Send this to a friend