Klassieke klanke: La Serva Padrona

Die Suidoosterfees in Kaapstad bied vanjaar die kort opera La serva padrona aan

Deur JOHAN MYBURG

Op 1 Augustus 1752 het La serva padrona, die eerste opera van Giovanni Battista Pergolesi (1710–1736), sy première in die Paris Opéra gehad. Op dieselfde program was Jean-Baptiste Lully (1632–1687) se opera Acis et Galatée.Benewens die feit dat Pergolesi se opera in Italiaans was en Lully s’n in Frans, was dié twee operas min of meer ligjare uit mekaar.

Lully was (saam met Jean-Philippe Rameau) die toonaangewende eksponent van die tragédie lyrique (musikale tragedies) met ’n verhaallyn wat na die Griekse mitologie teruggryp, wat gekenmerk is deur groot orkesbesettings, koorsang, danssekwense en weelderige dekor. Met al dié vertoon (humor het nie ’n groot rol gespeel nie) moes dié vorm van opera iets van Franse mag en majesteit laat blyk. Daarenteen het Italiaanse opera buffa (komiese opera) ernstige onderwerpe met humor benader en het dikwels outoriteit bevraagteken en ondergrawe.

Die melodieë was eenvoudig, daar was geen ouverture nie, die operas was aansienlik korter en begeleiding was tot ’n paar strykers beperk. Dit was die geval met La serva padrona, wat iets beteken soos “die diensmeisie wat vrou van die huis geword het”. Hoe het dié opera in Parys se Opéra beland, sou mens wou vra. Franse opera was finansieel in die knyp en kleiner operas (en wat dalk meer tot gehore spreek) was ’n uitweg. Die Suidoosterfees in Kaapstad se besluit om vanjaar wel ’n opera in sy program in te sluit, is bewonderenswaardig.

Met ’n ekonomie wat nie waffers lyk nie, en jong sangers wat die geleentheid moet kry om op te tree en gehore wat graag opera wil kyk, is La serva padrona, soos in 1752, weer die antwoord. Die produksie word onder toesig van die Universiteit van Kaapstad se operaalumni aangebied met Xolane Marman as regisseur en Lisa Engelbrecht as musiekregisseur. As begeleiding word twee elektroniese klaviere ingespan. Die soliste is die bariton Bongani Kubheka in die rol van Uberto, die sopraan Nombulelo Yende in die rol van Serpina, en Devon Florence as Vespone as akteur sonder ’n sangrol.

Die verhaal van dié opera, wat net meer as 45 minute duur, is dié van Uberto, ’n bejaarde enkelloper wat nors is oor sy bediende, Serpina, nie vir hom sjokolade gebring het nie. Serpina het aanstellerig begin raak en eien haar meer mag toe as wat sy eintlik het. As Uberto wil uitgaan, verbied sy dit. Uberto vra Vespone, ook in sy diens, om vir hom wat Uberto is, ’n vrou te gaan soek met wie hy kan trou en sodoende van Serpina ontslae kan raak. In die tweede “bedryf” van die opera sweer Serpina en Vespone saam en sy stel Uberto in kennis dat sy met ene Tempesta, ’n soldaat, gaan trou.

Vespone, vermom as Tempesta, daag op en eis ’n som geld as bruidskat, wat Uberto weier om te betaal. Tempesta dreig hom om óf die bedrag te betaal óf om self met die meisie te trou. Uberto, wat heimlik op Serpina verlief was, besluit om met haar te trou, en sy word inderdaad die vrou van die huis. La serva padrona word in Italiaans gesing (met onderskrifte in Engels) en is op 27 April om 16:00 in die Kunstekaap te sien.

Send this to a friend