Klassieke klanke: Pablo de Sarasate

Die Amerikaanse skilder James Abbott McNeill Whistler se portret van Pablo de Sarasate, Arrangements in Black, in 1884 tydens Sarasate se besoek aan die VSA geskilder.

Pablo de Sarasate se bekendste werk is Zigeunerweisen, ’n werk wat steeds ’n gehoorgunsteling is

Deur JOHAN MYBURG 

Ná die sukses van George Bizet se Carmen in 1875 was enigiets wat Spaans geklink het hoogmode. Iemand wat munt uit dié situasie geslaan het, was die violis en komponis Pablo de Sarasate. Martín Melitón Pablo de Sarasate y Navascués is in 1844 in Pamplona in Spanje se Navarre-provinsie gebore, waar sy pa die leier van ‘n artillerieorkes was. Toe sy pa sukkel om ‘n stuk op die viool onder die knie te kry, so lui die verhaal, het die klein Pablo die viool opgetel en korte mette daarvan gemaak.

Op vyf het sy pa hom vir vioollesse ingeskryf en op agt het hy sy eerste openbare uitvoering gegee. Op 12 het hy aan die Paryse konservatorium begin studeer. In 1860 het hy sy debuut as konsertviolis in Parys gemaak en die volgende jaar ook in Londen. Sy konsertreise het hom deur die hele Europa, asook Noord- en Suid-Amerika geneem.

Hou ‘n mens in gedagte wie almal werk aan Sarasate opgedra het, blyk iets van dié violis-virtuoos se statuur in die musiekwêreld van sy dag: Camille Saint-Saëns het sy Introduction et rondo capriccioso in 1863 vir Sarasate geskryf en dit aan hom opgedra, en in 1880 sy Vioolkonsert no. 3. In dieselfde jaar het Max Bruch sy Skotse fantasie aan Sarasate opgedra ná sy Vioolkonsert no. 2 in 1874. Ook in 1874 het Édouard Lalo sy Symphonie espagnole aan Sarasate opgedra.

Nietemin was Sarasate nie ‘n hoofstroomvirtuoos van die Romantiek soos byvoorbeeld Joseph Joachim nie; sy aanslag was ligter en hy het ook ‘n ligter soort musiek verkies. Met die musiek van Carmen as ’t ware nog in almal se ore het Sarasate as komponis tussen 1878 en 1882 sy Spaanse danse die lig laat sien en ook ‘n potpourri van die bekendste temas uit Carmen, gepas genoem die Fantasie op Carmen van Bizet, in 1881.

Hy het ook verwerkings van ander bekende operas, soos sy Fantasie op La forza del destino (Verdi), Souvenirs de Faust (Gounod) en Die Zauberflöte (Mozart) gemaak. Sy bekendste werk is egter sy Zigeunerweisen (in Engels bekend as Gypsy Airs) op. 20 van 1878, ‘n komposisie in vier dele vir viool en orkes. Dié werk word steeds in soliste se repertoriums ingesluit en bly ‘n gehoorgunsteling. Die inspirasie vir dié werk het hy waarskynlik tydens ‘n besoek aan Boedapest in die lente van 1877 gekry.

Van die 57 Sarasate-komposisies wat behoue gebly het, het die meeste in vergetelheid geraak – moontlik omdat dit geskryf is in ‘n styl wat gewild was vir die tyd, maar nie in ‘n volgende era kon oorleef nie. In 1890 het Sarasate hom in Biarritz in Frankryk gaan vestig en nog jaar ná jaar aan die fees van San Fermín in sy tuisdorp, Pamplona, deelgeneem. In 1904, ná ʼn konsertloopbaan van vier dekades, het hy op 60-jarige ouderdom nege plaatopnames gemaak. Hy is in 1908 op die ouderdom van 64 dood.

Sarasate se een Stradivarius-viool is aan die Paryse konservatorium nagelaat en die ander een aan die konservatorium in Madrid. Ter ere van Pablo de Sarasate word die internasionale Sarasate-vioolkompetisie jaarliks as blootstelling en aanmoediging vir jong violiste tussen 15 en 27 aangebied. Benewens ´n fris prysgeld sluit die pryse ook konsertoptredes asook opnamekontrakte in. Vorige wenners sluit violiste soos Tamaki Kawakubo en Susanne Hou in.

Send this to a friend