Kuns: Jeff Koons

Jeff Koons gee vir mense wat hy dink hulle wil hê. En daarby bemark hy sy eie werk ywerig. Daarvoor moet mens hom krediet gee

Deur JOHAN MYBURG

“Dis die taak van die kunstenaar om mense te wys wat hul potensiaal werklik is. Dit gaan nie oor die objek nie, en ook nie oor die afbeelding nie. Dit gaan oor die kunskyker. Dit is waar die kuns gebeur.”Dit is die siening van Jeff Koons (64), die Amerikaanse kunstenaar wat tans in die hartjie van Oxford, in die Ashmolean, die wêreld se oudste openbare museum, 17 van sy werke uitstal.

Werke wat goedkoop lyk, maar inderwaarheid peperduur is. Tot einde verlede jaar, toe David Hockney hom onttroon het, was Koons die lewende kunstenaar wie se werk in daardie stadium die hoogste veilingprys nog behaal het. Koons se Balloon Dog (Orange) is in 2013 op ’n veiling van Christie’s vir $58,4 miljoen verkoop. Dit is met dié siening dat Koons die wêreld se kunsversamelaars (of dan ’n segment daarvan) oorreed het om kuns (én hul eie rol in die kunswêreld) in ’n nuwe lig te sien. Veral ten tyde van die ekonomiese opswaai van die 1980’s, toe mense vir elitisme in die kunswêreld begin moeg word het.

In dié omgewing was Koons allermins die voortsetting van die tradisionele kunstenaar wat swaarkry omdat sy kuns nie verstaan word nie; hy sou mense gee wat hulle wil hê en daarby sy eie werk ywerig bemark. Daarvoor moet mens Koons krediet gee. Sy inspirasie het hy, in navolging van Marcel Duchamp vroeg in die 20ste eeu, gevind in die soort goed wat mens in tweedehandse winkel sou kry: opblaasspeelgoed, stofsuiers, ornamente van porselein en goed wat mens in die algemeen nie as kuns sou beskou nie. Die selfversekerde manier waarop Koons met “swak smaak” in sy loopbaan omgegaan het, het vreemd genoeg by uitgesoekte gehore aanklank gevind.

Versamelaars wat sy werk aankoop, laat blyk dikwels dat hulle “die grap kan vat”. Oor Jeff Koons is niemand onaf nie – óf jy hou niks van sy werk nie, óf jy is gaande daaroor. Daar is Britse kunskritici wat die Ashmolean-uitstalling (tot 9 Junie) as “kru” en ’n “goedkoop en onbeduidende vertoon van baie blink dog vervelige kuns” beskryf. Nietemin verkoop kaartjies om die uitstalling te sien, soos soetkoek – volgens die museum vinniger as wat kaartjies in 2014 verkoop het vir Cézanne and the Modern, die Ashmolean se uitstalling wat die meeste mense die vinnigste getrek het.

In die Ashmolean-uitstalling is Balloon Venus (Magenta), gemaak tussen 2008 en 2012, die een werk wat dalk die meeste aandag trek. Dié rekenaargegenereerde weergawe van ’n ballon wat in die vorm van die Venus van Willendorf gevou is, die terracottabeeldjie van 11 cm van ’n goedbedeelde vrou wat sowat 30 000 jaar oud is. Dis van gepoleerde staal gemaak, 2,59 m hoog en weeg bykans 1,5 ton. Daar is nog vier ander weergawes van dié beeld – in geel, rooi, oranje en pers.

In die Gazing Ball-reeks, wat eintlik net replikas van skilderye van Titiaan en Rubens is, elkeen met ’n gepoleerde bal daarop aangebring, sit Koons ’n werkwyse voort wat hom al voorheen in die moeilikheid laat beland het. Dit was werk uit sy Banality-reeks wat ’n rits kopieregsake tot gevolg gehad het, waarvan hy verskeie verloor het. Onlangs was Koons ook in die nuus nadat hy na wat berig word 30 assistente in sy ateljee afgedank het. In 2015, toe sy ateljee met die Gazing Ball-reeks besig was, was daar soveel as 100 skilders in sy diens.

Send this to a friend