Kies ’n boek: Ek wens, ek wens: Zirk van den Berg

Willie Burger kyk na Zirk van den Berg se jongste roman, Ek wens, ek wens

Dit was reeds diep in die nag toe ek Zirk van den Berg se jongste roman, Ek wens, ek wens, deurgelees het. Betower soos ’n kind deur ’n sprokie, kon ek die boek nie neersit nie. En as dit nie toe reeds so laat was nie, het ek dadelik boekwinkel toe gery en al die eksemplare gaan koop om as presente vir my familie en vriende te gee.

Die verhaal gaan oor Sebastian Walters (Seb), ’n middeljarige lykbesorger, wie se lewe nie heeltemal verloop het soos hy gewens het nie, maar wat sy lot aanvaar en weet dat mens nie te veel durf droom nie: ’n Mens het jou werk en jy doen dit, dit help nie om vir ander goed te wens nie. Sover moontlik bepaal hy hom by die voor die handliggende. Hy dink nie oor die verlede nie, dit maak hom hartseer. Hy dink nie oor die toekoms nie, dit maak hom bang. Hy wens wel af en toe vir die een of ander ingryping wat hom van hierdie aardgebonde verdomde lot losruk … Maar dit help nie om sulke drome te droom nie.

Seb word by die werk uitgebuit, die verhouding met sy vrou en sy tienerkinders is nie goed nie, maar hy besef dat om vir beter te wens, nie sal help nie: As kind, ongeag hoe verlore hy gevoel het, kon hy altyd klou aan die idee dat dinge eendag beter sal wees. Nou het hy nie meer sulke illusies nie. Dan word sy lewe op ’n dag ingrypend geraak wanneer ’n tienjarige seun saam met sy ma by die begrafnisonderneming instap omdat die terminaal siek kind presies wil weet wat met hom gaan gebeur wanneer hy sterf. Seb het al alles in sy kwarteeu van lykbesorging gesien, maar hy word diep geraak deur die kind wat talle vrae stel oor hoe sy lyk hanteer sal word en daarop aandring om te voel hoe dit is om in ’n doodskis te lê.

Van hier af neem die vertelling ’n soort sprokiekwaliteit aan. Die oeroue idee van drie wense wat aan iemand toegestaan word, word geaktiveer. Sprokies is verhale met bonatuurlike elemente (feetjiestof, sewemylstewels, towerboontjies, drie wense) wat die leser betower en met verwondering vervul. Die verhale het altyd goeie eindes – hulle is wensvervullend (Ek wens, ek wens). Die protagoniste is meestal goedgelowige, gewone, selfs naïewe karakters (’n Jan, ’n Hans of ’n Griet) wat deur ander mense uitgebuit word. Die “goeie” karakters in sprokies is, juis weens hul naïwiteit, oopgestel vir die moontlikheid van ’n wonderbaarlike verandering wat hulle onverwags en onbepland te beurt val. (Seb is byvoorbeeld dadelik bewus van iets buitengewoons aan die seuntjie.)

Weens hul naïwiteit (Seb word deur die kapitalistiese eienaar van die onderneming en deur sy vrou uitgebuit) is die protagoniste onaangeraak deur die samelewing se verwagtings, deur magsbeheptheid en hebsug. Sprokies laat mens goed voel, nie slegs omdat hulle goeie eindes het nie, maar omdat hulle by lesers ’n geloof in die waarde van die lewe herstel; hulle vervul mens met verwondering oor die lewe en bied hoop dat alles ten goede kan verander. Sprokies inspireer die verbeelding om alternatiewe moontlikhede raak te sien, om ander maniere te vind om in die wêreld tuis te wees.

Al hierdie wonderbaarlike sprokieselemente is in Ek wens, ek wens teenwoordig. Die boek laat mens goed voel en jy wil daardie goeie gevoel aan ander deurgee. Maar Van den Berg se boek is nie bloot ’n eietydse sprokie nie. Die meeste van ons is te rasioneel om te glo daar kan regtig bonatuurlike gebeurtenisse plaasvind. Ons glo nie in sprokies nie. Wat Ek wens, ek wens egter so buitengewoon maak, is dat die bonatuurlike uiteindelik nie ’n deurslaggewende rol speel nie. Eintlik vind daar (dalk) nie regtig iets bonatuurliks plaas nie? Hierin lê Van den Berg se meesterskap en die betowering van die boek. Dit bied die herstel van geloof in die betowering van ons gewone lewens, die hoop op verandering en die gepaardgaande goeie gevoel van sprokies, sonder om op die ingryping van bonatuurlike toorkrag te steun.

Van den Berg vermy al die clichés en die slaggate wat sprokiesagtige vertellings in ’n eietydse, realistiese omgewing onoortuigend maak, wat jou ’n oomblik laat goed voel, maar dan tog laat “wakker skrik” met die wete dat dit maar net ’n sprokie is. Dan voel mens selfs so ’n bietjie bedrieg. Die idee van drie wense word ingespan om spanning te wek – mens kan nie wag om uit te vind waarvoor Seb gaan wens nie. Maar dit laat mens ook nadink oor wat ons eintlik vir ons lewens wens: Wat wil hy die graagste hê as enigiets anders? ’n Werk is ’n noodsaaklikheid, want ’n mens het geld nodig, maar om een te hê is nie nou sy hartsbegeerte nie. Terwyl hy van venster tot venster en deur tot deur dwaal, toesluit waar hy kom, dink hy oor hartsbegeertes. Hy wonder wanneer laas hy een gehad het. Ek wens almal kan die boek lees. (Kwela Boeke)  

Send this to a friend