Boekhoek: The art of Frugal Hedonism

’n Derde plek en ander idees: The art of Frugal Hedonism deur Annie Raser-Rowland en Adam Grubb.

Hierdie Australiese boek is moontlik iets wat ons in die huidige resessie kan gebruik: Sy subtitel is A guide to spending less while enjoying everything more. Die skrywers verduidelik hoe hulle ander mense jaloers maak oor hulle so min werk, maar tog die lewe meer geniet as hulle. Hulle werk om net genoeg te verdien om van te leef, en gee bitter min geld uit terwyl hulle voluit lewe.

Hulle het heelwat wenke oor hoe om spaarsamig te lewe: vermy restaurante en alle kitskos of vooraf voorbereide kos, neem altyd ´n packed lunch werk toe en ´n packed snack en bottel water van die huis af as jy uitgaan, eet uit jou tuin, ruil vrugte en groente waarvan jy ´n oorvloed het met bure en vriende se oorvloed, herstel gebreekte goed en koop tweedehands. Hulle is oortuig dat as jy minder werk, jy ook minder uitgawes het – jy betaal minder vir brandstof, vir klere wat jy nie by die huis sou dra nie, vir wegneemkos op pad huis toe, ens.

Een van die interessante idees wat hulle propageer, is dat jy ´n sogenaamde “derde plek” moet vind om in te ontspan, een wat nie geld kos nie, natuurlik. ´n Mens se eerste plek is jou huis en die tweede jou werk, maar elke mens het intrinsiek ´n derde plek nodig. Dis dikwels ´n restaurant, kroeg of mall, maar dit kos alles geld. Hulle stel parke en ander openbare plekke en biblioteke voor, waar jy rustig kan sit en die wêreld beskou voordat jy weer huiswaarts keer. Dink maar aan die oompies oumatjies wat in Suid-Europa op die stadsplein sit en gesels en die geroesemoes bekyk. Die Parkrun-beweging in Suid-Afrika is dalk so-iets, en ons moet moontlik net ons parke terugverower van die parkplakkers. In die boek kla die skrywers oor how lacking in easily-identifiable, free, communal spaces many modern cities are.

LEES OOK: Boekhoek: Hoekom skryf mense?

Annie en Adam is deel van ´n omgewingsvriendelike gemeenskap in Australië wat ´n lewe soos vanouds voorstaan, amper soos in die vyftigerjare toe almal ewe arm was en nie knaend nuwe katoeters moes  (of kon)aanskaf nie. As iets werk, is dit volgens hulle goed en hoef nie vervang te word oor dit die verkeerde kleur of handelsnaam het nie. Dié leefstyl is gebaseer op eerbied vir die omgewing en Annie en Adam en hul bure en vriende ly nie onder  hul spaarsamigheid nie, hulle geniet hul lewe.  Hulle leen goed vir mekaar, kuier saam op voorstoepe, en so meer. Dit maak hul omgewing natuurlik ook veiliger.

Dié afgeskaalde leefstyl laat my aan dié van gemeenskappe soos die Amish en vele ander in die VSA dink. Hulle volg eeue oue voorskrifte oor die lewe en hul leefstyl word grootliks deur hul geloof bepaal. Hulle leef al sedert sowat 1730 hul gestroopte, hardwerkende lewens en is ´n voorbeeld vir vele omgewingsvriendelike organisasies.

Daarenteen is daar ook mense wat probeer om net vir ´n jaar eenvoudiger en goedkoper te lewe. Dis vergelykbaar met mense wat net kortstondig op die Banting-dieet is dan weer terugval in hul ou leefstyl. ´n Paar jaar gelede was daar byvoorbeeld ´n jong man wat gepoog het om binne een jaar net 100 items in sy huis te hê.  Hy het weggegooi en verkoop en ander tot nadenke gestem. Hy het  ´n suksesvolle veldtog op die internet geloods om ander by hom te laat aansluit. Maar na afloop van die jaar het ´n mens niks meer van hom gehoor nie. Hy wou vermoedelik net ontklotter en toe hy dit bereik het, was die poging op ´n einde.

So het Judith Levine ook in haar boek Not buying it geboekstaaf hoe sy en haar lewensmaat een hele jaar net noodwendige goed gekoop het en hoe moeilik dit was. Hul rede hiervoor was egter nie die omgewing nie, maar hul oortrokke kredietkaarte wat hulle op dié wyse wou of moes laat krimp. Hulle was dus aarts-spandeerders wat op ´n kuur gegaan het, en vermoedelik agterna weer hul ou laai uitgehaal het. Hul gebrek aan kredietwaardigheid het haar gekwel, soos sy baie elegant uiteensit: What I want is autonomy, the sine qua non of Western commercial citizenship. To be creditworthy is to be worthy of respect. To buy is to be an adult. A person without money is a child, and all children are beggars. Dis nogal iets om oor na te dink!

Die boekverkope alleen het hulle seker nogtans gehelp om weer lekker te kan kuier en spandeer toe die jaar verby was. Dit is nietemin baie interessant om te sien hoe moeilik dit is om duur gewoontes af te leer, al is dit net vir ´n jaar.

LEES OOK: Boekhoek: Leeskringe en Leserskring

Barbara Kingsolver se boek Animal, vegetable, miracle het die ondertitel Our year of seasonal eating, wat duidelik wys dat sy en haar gesin ook net ´n jaar eenkant gesit het om te sien of hulle net op kos van hul plaas en die direkte omgewing kan oorleef. Dit is om omgewingsvriendelike redes gedoen, maar seker te moeilik om langer vol te hou; dis dus nie ´n leefstylkeuse nie. Sy en haar man het immers ´n werk in ´n groot stad, ver weg van die plaas.

As ek na die jong werkende vrouens en ma’s om my kyk, wens ek hulle kon so ´n gestroopte, gelukkige lewe lei, want hulle trek noustrop met al hul verpligtings. Die volgende gedig deur Evelyn Castelyn spreek hierdie dilemma aan:

Werkende vrou

ek het die son gegroet,
my huis, my man,
die lug se voëls;
my kind getroos: toe maar
Mammie sal nou-nou weer kom;

met my koplamp
en ´n toebroodjieblik
vir ´n dagskof afgedaal
in die skag

en toe ek halfvyf
weer uit die hysbak klim
was my kind groot,
my man was grys
en die swaels het reeds
vertrek met die jaar se somervlug

Send this to a friend