’n Storie oor Indië

Vrouekeur en Seagull Travel and Tours het ’n jare lange verbintenis. Ons redakteur, Eldaleen Hugo, was saam met hulle Indië toe. Lees hier meer oor haar ervaring

Deur Eldaleen Hugo

Ibn Battuta, ’n Marokkaanse ontdekker, reisiger en skrywer het reeds in die Middeleeue gesê dat reis jou sprakeloos laat en dan in ’n storieverteller omskep …

Die twee weke wat ek deel van Seagull se toer deur Indië was, is ’n ervaring wat ek moeilik in woorde kan omsit. Hoe was dit? wou mense weet.

Lank, selfs nou nog, kon ek nie met taal verduidelik wat ek ervaar het nie. Indië maak jou stil, sy laat jou dink, sy laat jou in verwondering, sy laat jou na jou asem snak. Indië is nie ’n plek wat jy met foto’s en woorde kan beskryf nie. Indië moet jy self voel, ruik, sien, hoor en proe. En glo my, sy maak aanspraak op jou sintuie – en meestal op almal gelyktydig.

Robert Louis Stevenson was sy tyd vooruit met die neerpen van sy reiservarings. Callum Glennen haal Duncan Milne, ’n PhD-student aan Edinburgh Napier University, in sy artikel oor Stevenson op Business Destinations aan: “Stevenson’s early travel texts established him as a somewhat unconventional writer. At the time, many English writers dealing with so-called foreign lands attempted to provide what they considered to be a ‘matter of fact’ representation of a location or its people – often using broad generalisations. Cultures were described in sweeping terms, and regularly compared – rather disparagingly – to the UK. It was a very didactic thing and it was very much about imposing your own culture and your own standards on a place you’re walking through,” Milne said. “But Stevenson, making it more personal, was also about being receptive. He’s much more of the style of travel writers from a century later. Milne said Stevenson’s journeys through the Pacific showed a desire to genuinely and honestly interact with different cultures: He’s not going there as a tourist, he’s not going there as a colonist, he’s going there as somebody who wants to have meaningful encounters with culture, never in a patronising way, as you often have [with] travel writing of that sort, but again in a very humble way.”

As jy Indië toe gaan, moet jy soos Stevenson reis. Dis anders as waaraan jy gewoond is, maar hou in gedagte wat Stevenson in The Silverado Squatters oor die vreemde en vreemdelinge skryf: “There are no foreign lands. It is the traveller only who is foreign.”

’n Reis deur Indië is nie ’n vakansie nie. Dit moet jy van die begin af besef. As jy uitgerus ná ’n vakansie van twee weke weer vir die alledaagse roetine wil kans sien, dan is Indië nie jou bestemming nie. Indië is jou bestemming as jy bereid is om uit jou gemaksone te klim en sonder oordeel en vergelyking van jou wêreld ’n ander wêreld as vreemdeling te beleef. Indië het my ’n ryker mens gemaak.

G’n mens kan in ’n paar bladsye ’n reis van twee weke deur Indië in besonderhede beskryf nie. Indië maak stories in ’n mens wakker …

Iewers, sowat 8 200 km van ’n klein huisie in Johannesburg, het ’n pottebakker, hurkend met ’n sagte ingelyfde lap as jurk behendig om sy lyf gevou, spesiaal vir my met sy eie hande ’n kleibakkie gevorm …

Die sonbesies was skril daai dag, soos die voriges en die volgendes – voor ’n huisie met ’n sinkdak en blou plastieksakmure wat waai as daar wind is. Een vir een het ’n bol gebreide klei in sy geoefende hande deel van ’n ry potjies op die kaalgeveede grond langs hom geword …

Neffens hom hurk sy vrou wydsbeen in haar sari – die kole in ’n vuur onder ’n kleiplaat tussen hulle is reeds van vroegdag af aan ’t smeul. Meel, ghee, jogurt, melk en gis meng sy in haar hande, druk haar vingers in die bakkie water om die deeg te bind en een na die ander bolletjie deeg brei sy plat en gooi dit op die vuur se kleiplaat waar dit bak tot die lugborrels verskyn. Sy keer die brood met haar kaal hande om. Uit die geklingel van haar armbande weet haar man wanneer sy knie en wanneer sy sonder om te kyk ’n varsgebakte platbrood in die bak langs haar gooi. Sy mis nooit.

’n Koei lê heilig ’n katspoeg verder. Sy beskou die wêreld tussen haar lang wimpers, skud haar kop so nou en dan heen en weer om van ’n lastige vlieg ontslae te raak. Sy is vroegdag, voor die huismense se rituele, reeds gevoer.

Tussendeur vee twee kinders elk met ’n tuisgemaakte kort grasbesempie die werf glad. Die heldergeelgoue oorbelletjies in die vierjarige dogtertjie se ore glinster. Haar kop is ’n week gelede weer glad geskeer. Haar swart hare is so paar millimeter uitgegroei en skyn bykans blou in die son. Sy lyk soos ’n elfie. Kort voor lank gaan haar ma dit nie weer skeer nie – dan kan dit groei tot sy dit ook kan vleg. In die middel van haar en haar boetie se voorkoppe is ’n swart kol. Dit maak hulle lelik sodat bose mense hulle nie steel nie.

Hulle vee ook onder die frangipaniboom waar die soet geur van die blomme soms sterker is as die reuk van koeimis, afval, vuil, rook en petroldampe van bromponies wat verbyry. ’n Hond snuffel onder die frangipani en ’n stowwerige wolkie hang vir ’n wyle in die lug sodat die vrou by die vuur haar hande moet waai om te keer dat die stof in haar deeg beland. Sy vee die sweet op haar voorkop met die agterkant van haar hand af en gee ’n snuif terwyl sy ’n jeuk onder die gevoude punt van haar sari oor haar skouer met haar ken teen haar skouer stomperig gekrap kry. ’n Haarsliert val oor haar gesig en dié vee sy kort-kort met haar bo-arm uit haar gesig.

Laatmiddag wek die aroma van speserye, met presisie afgemeet vir ete, met dié van wierook en klapperolie voor die huisie met die blou plastiekmure, die ouma uit haar middagslapie. Sy kom orent, vou haar kaal voete gemaklik onder haar boude in, en maak haar vlegsel tydsaam los om bietjiesbietjies haarolie uit die botteltjie onder die bed in haar handpalms te vryf. Tydsaam olie sy haar hare stukkie vir stukkie en vleg dit vars. Sy rek na die katoendoek aan die voetenent van die lae houtbed, vou dit netjies op, buk vorentoe en sit dit weer aan die voetenent van die bed. Sy swaai haar voete rats grond toe en sonder om te kyk voel-voel sy met haar voete na haar plakkies skuins onder die bed. Sy steek haar voete, breed van kaalvoetloop, met ringe aan die tweede tone in die plakkies en staan op. Sy vee denkbeeldige krummels van die bed se latte van tou, waarop sy tot nou-nou gerus het, af. Die klere, doeke en lappe wat sy net voor haar middagslapie gewas het, is reeds kurkdroog waar sy dit op ’n groot plat klip vasgeplak het – skoon, droog en gestryk. Sy vou dit een vir een op en verdwyn in die huisie in. Sy gaan regmaak om netnou die pad af ondertoe te stap, na die oewer van die rivier vir die daaglikse offerande aan die Ganges.

Die pottebakker se bakkies en potjies staan netjies in ’n krat gepak – reg vir oplaai en gebruik … Een van die potjies beland op ’n ashoop in ’n restaurant se agterplaas. Dis daar waar die reisiger die potjie tussen skille, papiere en gebreekte klei ontdek. Versigtig vis sy dit uit en vou dit toe om saam te neem na ’n ander wêreld ver van hier.

Sy ken nie die pottebakker nie. Hy kan een van 1 363 416 218 mense in Indië wees. Hy weet nie sy handewerk staan nou op ’n kombuisvensterbank in ’n huis in Johannesburg nie. ’n Kosbare skat wat ’n reisiger in Varanasi op ’n vullishoop in ’n eetplek se agterplaas ontdek het. Dié waardelose, gebruikte bakkie is een van miljoene groottes en vorms wat jaarliks deur pottebakkers gemaak word om uit te eet, te drink en dan weggegooi word om weer in die aarde vir nuwe lewe te ontbind.

Hier het ons voetspore gelaat

Agra

As jy op die kaart kyk, kan jy sien hoe Agra, Delhi en Jaipur die Goue Driehoek in Indië vorm. Ons toer skop amptelik af in Agra. AGRA lê op die oewer van die Yamunarivier en is bekend vir die Mughal-era-geboue, waarvan die bekendste die Taj Mahal, Agra Fort and Fatehpur Sikri is.

Die Taj Mahal is nie sonder rede een van die sewe moderne wonders van die wêreld nie. Bouwerk aan dié mausoleum in opdrag van die Mughal-keiser, Shah Jahan, het in 1632 begin en die kompleks is finaal in 1653 voltooi. Shah Jahan het dit ter nagedagtenis aan sy vrou, Mumtaz, laat bou. Sy was nie sy enigste vrou nie – die heersers in Indië het meer as een vrou gehad, maar Mumtaz was sy gunstelingvrou. Vir iemand soos ek wat ’n skewe portret in ’n dokter se wagkamer reguit skuif, is die uitstekende vakmanskap, perfekte proporsies, balans en simmetrie van hierdie mausoleum ’n droom – trouens dis deurgaans sigbaar in die res van Indië se ontwerp- en bouwerk.

Ons besoek ook Agra Fort wat deur die Mughal-keiser Akbar in 1565 NHJ gebou is en die antieke stadkompleks, Fatehpur Sikri, wat die hoofstad van die Mughal-ryk was.

Jaipur

Jaipur in die provinsie Rajasthan is omring met heuwels waarop forte (ter beveiliging destyds) gebou is. Dié stad is in die 18de eeu gebou en het ’n muur reg rondom waarop tekens van gevegte steeds sigbaar is. Ek kon nooit regtig verstaan hoekom Jaipur die pienk stad genoem word nie, vir my lyk dit meer oranjerig. Hier het ek agtergekom dat die geboue inderdaad eintlik ’n terracottakleur geverf word, maar die son verbleik die kleur mettertyd, wat dit ’n pienkerige skynsel gee. Die hele stad word elke sewe jaar oorgeverf en dan is als terracotta, tot die son dit weer verbleik.

Jaipur is bekend vir vakmanskap oor generasies heen in die sny en slyp van halfedelstene (veral granaatstene en robyne) asook koperinlegwerk, lakwerk, drukwerk op lap (moeselien) en die weef van die wonderlikste tapyte. Die kuns van inlegwerk met halfedelstene word van geslag na geslag oorgedra en wat jy op die antieke mure sien, word vandag nog net so gedoen.

Het jy al gehoor van iemand wat seesiek raak op ’n olifant se rug? Wel nou het jy. Dié rit op na Amer Fort was net kort genoeg om nie groen om die kiewe af te klim nie. Ek moet bieg, ek was nogal ambivalent oor hierdie avontuur, want ’n mens lees dikwels van olifante in ander wêrelddele wat onder slegte omstandighede vir toeristepret aangehou word.

Ek het toe maar besluit “when in Jaipur …” veral nadat ek uit ’n betroubare bron verneem het dat daar streng toesig oor die behandeling van dié olifante met hul veelkleurige grimering is. Van bo-af het jy ’n panoramiese uitsig oor die Maota-meer en die historiese ou stad. Die dowwe pastelkleure op die mure in dié fort is beeldskoon, en die ingewikkeldheid en kuns van die mosaïekinlegwerk slaan jou asem weg.

Op ons besoek aan Jaighar Fort bo-op die Cheel ka Tella (Hill of Eagles) wat deel van die Aravalli-bergreeks uitmaak, kyk ons oor die Amer Fort en die Maota-meer. Hier het ek vir die eerste keer met my eie oë gesien hoe die “vensters” lyk waardeur kokende olie en water op die vyand onder die beskermende muur gegooi is wanneer die vesting aangeval is – iets waarvan ek nog net gelees het.

Delhi

Delhi is die derde stad wat deel van die Driehoek in Indië uitmaak. Dis die hoofstad en ’n interessante vermenging van oud en nuut.

Hier het ek eindelik agtergekom wat die verskil tussen New en Old Delhi is. Old Delhi is die oorspronklike Delhi voor die Britte met hul G&T’s, safarihoede en wit linnepakke hul stempel op dié stad kom afdruk het. New Delhi is tydens die kolonisasie van Indië deur die Britte gebou, kort ná die verskuiwing van British India vanaf Kalkutta na Delhi in 1911. Getrou aan die Britte is die strate breed en wemel dit van indrukwekkende koloniale geboue.

Qutab Minar is die wêreld se hoogste losstaande baksteenminaret, en toring uit oor die geskiedkundige gebied waar Qutbuddin Aibak (1150 tot 1210) die grondslag gelê het vir die Delhi Sultanaat. Dis ook Qutbuddin wat die Moslemgeloof na Indië gebring het.

Van geloof gepraat – dit het my opgeval hoe verdraagsaam mense teenoor mekaar is – hoewel die meerderheid mense Hindoes is, is daar ook Boeddhiste, Moslems, Sikhs, Christene (die Europeërs se invloed) en gelowe soos Jainisme en Zoroastrianisme (die geloof waarmee Freddy Mercury grootgeword het).

India Gate is die bekende baken wat mens op reisbrosjures sien, en is op aandrang van die Imperial War Graves Commission (IWGC) in 1917 onthul ter nagedagtenis aan al die soldate in die British Indian Army wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het.

’n Riksjarit deur Chandni Chowk, die besige basaar, laat jou klou om jou balans te hou, maar jy besef gou jy kan terugsit en die omgewing waarneem – van mense wat reeds van vroeg af by hul stalletjies voor spartaanse kamers kook, tot handelaars met hul waentjies oorvol met vars groente en vrugte en koeie wat heiliger as priesters is. Volgens ’n toergids ry ’n busbestuurder eerder ’n mens as ’n koei raak – die gevolge is minder.

Suiwelprodukte is deel van die Indiese dieet – room, botter, ghee, jogurt en kaas is in bykans alle disse. Van kos gepraat – disse verskil van streek tot streek en ek het die lekkerste okra-gereg nog in Indië geëet. In die noorde kook mense meestal met mosterdolie en in die suide met klapperolie.

As jy van sterk kos hou, gaan jy baie eet op jou reis in Indië – en moenie dink kerriekos is beperk tot ’n hoofmaal nie – dis ontbyt, middagete en aandete.

Stoele is nie ’n ding nie. Mense sit veel eerder plat op die grond of hurk vir ure met hul knieë langs hulle ore terwyl hulle gesels, werk of kook.

Twee ervarings in Delhi staan vir my uit. Die een is Gandhi Smriti waar Mahatma Gandhi die laaste 144 dae van sy lewe deurgebring en waar hy op 30 Januarie 1948 ná sy sluipmoord dood is. Daar kon ek onder meer sy bekende bril sien, maar ook die eenvoudige bed in die vertrek waar hy gewoon het.

Die ander een is ’n besoek aan die Sikhgurdwara, Bangla Sahib, wat een van die bekendste Sikh-gurdwaras (Sikh-tempels) is en die besoek aan die reusekombuis waar Sikhs elke dag tyd afstaan om te help kosmaak vir mense wat dit nodig het.

Varanasi

Varanasi lê op die linkerkantste oewer van die Gangesrivier en wemel van tempels en paleise wat letterlik van die watervlak af teen ’n helling van trappe, terrasse en geboue opgaan.

Elke aand klim inwoners (en toeriste) die trappies na die oewer van die Ganges vir die daaglikse uitvoering van “Aarti” – ’n rituele offerande aan die rivier. Met sonsopkoms kry jy ’n blik op dié gedeelte van Varanasi as jy dit op die rivier in ’n ghat (boot) van ’n afstand af beskou. Dis dan wanneer jy die verassings sien – op oop brandstapels neffens die mense wat swem, mediteer, wasgoed was of bad al langs die oewer af.

As jy dié ritueel vanuit ’n vreemdeling se perspektief aanskou, gaan die waarde en die heiligheid van die verassings oor jou kop – dit kan jou selfs teen die bors stuit. Dis veral hier, aan die oewer van die Ganges wat Stevenson se insig oor mense wat na verre en onbekende lande reis my herinner het dat dié mense en hul gewoontes nie vreemd is nie. Ek is die vreemdeling.

Varanasi – ’n stad waar dit vir my gevoel het tyd staan stil.

Kochi

KOCHI lê in Kerala in die suide van die land en is oorspronklik deur die Portugese gebou. Indië het kolonisering deur die Britte, die Hollanders en die Portugese beleef. In Kochi is die grootste getal Christene – dit sien jy duidelik uit die aantal kerke.

Dis in dié stad wat ons een aand ’n Kathakali-vertoning bygewoon het. Kathakali is ’n vorm van Indiese dansdrama en het in die 17de eeu in die suide ontstaan. Die aansit van oormatige grimering word voor die gehoor gedoen en die kostuums en gesigmaskers kan babas bang maak. Dis fassinerend en word deur manlike akteurs opgevoer.

Aan die suidelike kus van Indië lê Kumarakom, wat bekend is vir huisbote wat op die rivier en kanale vaar. Weerskante groei klapperbome, sien jy mense werk in ryslande en staan huisies waar mense in hul bekende wêreld leef – onbewus van my lewe kilometers ver. Ons tweedaevaart is kalm en rustig – ’n welkome lafenis ná ’n sensoriese oordosis om asem te skep en te begin verwerk wat ek ervaar.

Kathakali-akteurs sit grimering aan voor die vertoning.

Moembaai

In MOEMBAAI is daar ongelooflike rykdom en vreeslike armoede – soos in Suid-Afrika – maar volgens mense wat Moembaai gereeld besoek, is dié stad ’n bewys van die afgelope tien jaar se vooruitgang in Indië. Tekens van verbetering en vooruitgang gee my altyd moed.

Twee dinge wat in Moembaai vir my uitstaan, is die dabbawalas en die openbare wassery wat ek sommer die wishiwashi noem. Die dabbawalas is ’n tradisionele “lunchbox”-diens wat met treine en fietse gelewer word en die wishiwashi is ’n gebied in Moembaai waar mense se wasgoed gewas word nadat dit by jou huis afgehaal en weer daar afgelewer word. Volgens Moembaaiers sluip daar nooit foute in nie.  

Send this to a friend