Redakteursbrief: Ook dít sal verbygaan

Die lewe is nou eenmaal nie ’n gelykpad nie. Daar is goeie tye en daar is minder goeie tye

In “Woestynwysheid” op bl 24 kyk Anne Marais na daai tydperke in mens se lewe wanneer jy voel asof jy in ’n dorre landskap rondswerf en nêrens ’n oase sien nie. Een van die kenners met wie Anne gesels het, verwys na die veerkragtigheid wat elke mens benodig om ná ’n terugslag, teenspoed of trauma op jou voete te lande te kom.

Lanie van Reenen se eerste boek, C’est la Vie (Van lief en leed en kanse vat), het my destyds aangegryp omdat Lanie sonder pretensie haar binneste ná ’n groot teleurstelling in haar lewe vir die leser oopgemaak het sonder om sentimenteel of bejammerenswaardig te wees. Marita van der Vyver het dit opgesom as: “Hartseer en snaaks, vol vonkel en lewenswysheid.” Lanie se vervolg op dié boek is Net mooi fine en dis ’n boek wat jy gerus op jou leeslys kan sit. Die aanhalingsvoorwoord deur Virginia Woolf vat saam wat ek oor Lanie se jongste boek dink: “As soon as you have found the words with which to express something, you are no longer incoherent, your are no longer trapped by your own emotions, by your own experiences; you can describe them, you can tell them, you can bring them out of yourself and give them to somebody else.”

In Net mooi fine kry Lanie dit reg om weer met haar leser te praat asof dit ’n persoonlike gesprek met ’n glas wyn in elkeen se hand is. Ek het plek-plek kliphard gelag, ander kere ’n bietjie geween, maar meer nog het Lanie die vermoë om die goed en die sleg wat met haar gebeur só te verwoord dat ek my eie opdraandes en afdraandes eensklaps met haar fyn sin vir humor en lewenswysheid deur haar ervaring kan sien en verwerk. Haar skryfstyl is gemaklik en daar is nie ’n oomblik wat jy voel enige inligting is oorbodig nie. Jy reis saam met haar per fiets op die Camino Portuguese (trouens jy dink selfs daaraan om dit self te gaan doen) en op haar tog na Everest se basiskamp in ’n later stadium voel jy die pyn in haar knieë en snak jy ook na jou asem so ver bo seespieël.

In Maart 2012 skryf sy in Net mooi fine: “Ek is ’n bietjie in my moer in, weet ek. Dis asof my denke en my lyf se aksies onafhanklik van mekaar gebeur en swaartekrag my nie aan die aarde vashou nie; asof ’n diagram van my brein sou lyk soos ’n slangetjies-en-leertjies-bord. Nes ek voel ek kom vooruit, doem daar ’n herinnering of ’n egte vrees op en ek tuimel af om êrens weer op ’n onderste spar te beland en van voor af te moet begin.” Party mense voel hulle is in ’n dorre woestyn, ander soos Lanie voel asof swaartekrag hulle nie anker nie. Dalk voel jy soos ek al gevoel het asof ’n oorweldigende situasie my soos ’n reusedeining in die see gaan verdrink. Ons almal was al ’n bietjie in ons moer in. Soos ’n kenner in Anne se artikel sê: “Aanvaar dat woestyntye en uitdagings deel van elkeen se lewenspad is.” Die lewe is nou eenmaal nie ’n gelykpad nie. Daar is goeie tye en daar is minder goeie tye. Lanie se fiets en om te skryf, help haar om aan die beweeg te bly op dae wanneer sy eintlik net wil slaap en nie uit die bed wil opstaan nie.

As dit vir jou voel asof jy in ’n woestyn is of sonder swaartekrag ronddobber, lees Lanie se boek. En soos sy skryf oor ’n fietsrit in Kaapstad met ’n blik op Tafelberg: “Keer op keer ontroer dit my en maak dit iets in my hart oop, iets vertroostends; asof die berg my aan haar bors vasdruk. Ek dink aan hoeveel kere ek al die gesig ingeneem het in hoeveel verskillende buie, goeies en slegtes, sowel my eie as dié van die berg. En iets van die tydelikheid van alles vind neerslag. This too shall pass, jy weet dit mos.” Dis die lewe – gelukkig is die slegte tye ook tydelik en eintlik is als net mooi fine as jy daaroor nadink.

Send this to a friend