Kleurryke quiche | Vrouekeur

Kleurryke quiche

Hierdie kleurryke quiche sal enige vaal teetafel opvrolik

1 tert

Bestanddele

KORS
410 ml (12/3 k) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
5 ml (1 t) suiker
5 ml (1 t) Aromat met kaasgeur
knippie rooipeper
500 ml (2 k) cheddarkaas, fyngerasper
30 ml (2 e) parmasaankaas
100 g botter, in blokkies gesny
125 ml (½ k) yswater
VULSEL
1 pan gekleurde kersietamaties
4 murgpampoentjies
halwe rooi ui
3 eiers
125 ml (½ k) room
125 ml (½ k) melk
30 ml (2 e) koekmeel
5 ml (1 t) korrelmosterd
5 ml (1 t) sout
swartpeper
rooipeper
5 ml (1 t) basiliekruid
1 wiel fetakaas

Metode

Voorverhit oond tot 180 °C.

  1. Kors Gooi meel, bakpoeier, suiker, Aromat, rooipeper en kaas in voedselverwerker vir een minuut tot kaas fyn is.
  2. Voeg blokkies botter by en kap vir nog drie minute tot broodkrummeltekstuur.
  3. Voeg yswater by en pols tot deeg vorm.
  4. Rol deeg uit en druk in 30 cm-quichepan.
  5. Bak blind vir 15 minute, verwyder uit oond en laat effe afkoel.
  6. Vulsel Sny tamaties middeldeur en laat op kombuispapier lê.
  7. Sny murgpampoentjies in dik skywe en braai liggies in olyfolie.
  8. Sny ui en braai in olyfolie.
  9. Meng eiers, room, melk, meel, speserye en kruie.
  10. Pak groente en feta kunstig op kors en gooi eiermengsel bo-oor.
  11. Bak vir 40 minute of tot gestol.
  12. Laat effe afkoel en bedien.

Send this to a friend