Sjef Nic van Wyk is terug in Stellenbosch met die opening van bistro 13 op Welmoed

Sjef Nic van Wyk, in samewerking met Stellenbosch Vineyards, het pas bistro 13, ’n nuut gerestoureerde restaurant op die Welmoed-wynlandgoed, geopen.

Maryke Roberts

Met die opening van dié nuwe restaurant vier Nic sy terugkeer na Stellenbosch en, belangriker, na die kombuis. “Ek het al gebrand om terug kombuis toe te kom, en wanneer beter as jy betrokke kan wees in die ontwerp van jou droom-restaurant,” sê Nic, wat deel was van die projek vandat die argitekplanne opgetrek is.

Bistro13

13 – ’n Gelukkige nommer

Bistro 13 het sy naam te danke aan die oomblik toe Nic van Wyk sy visier op kook gestel het. Dit was tradisie in die Van Wyk-gesin om op elke kind se 13de verjaarsdag dié mylpaal te vier met ’n maaltyd in die restaurant van sy of haar keuse. Dertien is toevallig ook Nic se verjaarsdagdatum én sy gelukkige nommer. Dertien vang ook ’n mens se oog, en dis met hierdie weer-’n-keer-kyk dat Nic en sy span iets spesiaal wil skep.

Die algemene gevoel van die restaurant, wat 65 persone binne kan bedien en nog 40 persone buite, is elegant en onderbeklemtoon, met warm tekstuur in die gebruik van hout en Ngunivelle. Elke dekorelement het ’n praktiese aanwending, van swarthouttafels tot rouhouttoonbanke en interessante ornamente. Tussen die binnenshuise kaggel en ’n houtdek buite kan gaste in elke seisoen hier besoek aflê.

Kalamari

Waar gewone disse ’n nuwe geur kry

Nic se rol as mede-beoordelaar op Kokkedoor, KykNET se realiteitskookreeks, het gewys waarvoor hy bekend is: uitdagende, tradisionele geure, maar nuut voorgesit. Sy weergawe van die geliefde soetsuur-lamsrib bring dié geure in ‘n ligter eetervaring na ’n slaai. Die biefstuk tartare en varkfilet-hoofgereg is ook disse wat gou-gou gunstelinge gaan word.

Nic is klassiek opgelei en het ondervinding opgedoen met Franck Dangereux by La Colombe, sowel as by Terroir. Hierdie ervaring is duidelik sigbaar in sy spyskaart en restaurantfilosofie. Die spyskaart bestaan uit ruim porsies en elke dis het ’n persoonlikheid, van Provensaalse garnale tot ‘n sampioenrisotto met gruyère en truffelolie.

Sy ontbytspyskaart bied ’n vasgestelde spyskaart van vyf geregte, waaronder ’n Mediterreense ontbyt van platbrood, halloumi, hummus en kwarteleiers, ’n crepe met roereier, gerookte salm en hollandaise, sowel as ’n “bou-jou-eie-ontbyt”-opsie met komponente soos hoenderlewers, spesialiswors, spek en gevulde sampioene.

Die middag- en aandete-opsies bestaan uit sewe voorgeregte, sewe hoofgeregte en ses nageregte. Crème brûlée word opsy geskuif om plek te maak vir ’n crème caramel. Nic se regterhandman, Juan van Zyl, het die laaste drie jaar by Rust en Vrede gewerk as sous-sjef. Hy het ’n passie vir sterk geure en glo daarin om die basiese dinge reg te doen. Só skep hulle kenmerkende disse wat hulde bring aan klassieke Franse tegnieke.

Die spyskaart sal driemaal per jaar verander. Daar sal ook spesiale aanbiedinge op die swartbord wees vir middag- en aandete, sowel as ‘n proespyskaart. Dié proespyskaart heet “The Naked Menu” en bied elemente op die à la carte-spyskaart, maar op ‘n eenvoudige manier voorgesit om die individuele geur uit te bring, of voorgesit met ’n aanvullende element soos ’n sous. “Die gemiddelde persoon kan omtrent vyf geure op ’n slag eien. Ek wil hê dié spyskaart moet net so insiggewend wees as wat dit pret is,” sê Nic.

’n Gesofistikeerde, gesinsvriendelike restaurant

Bistro 13 is kindervriendelik. Daar is ’n Dreamweaver-klimraam en kinders eet uit gekleurde borde van die “Munchkin Menu”, met prettige items soos hoender-en-brokkoligebak, wors met kapokaartappels en ertjies, en visvingers met “groen” (murgpampoentjie-) skyfies. Vir nagereg is daar roomysbroodjies en aarbeie met ’n witsjokoladesous.Ouers wat hou van uiteet het dikwels beperkte keuses, maar bistro 13 bied ontbyt en middagete, en het steeds al die elemente vir ’n gesofistikeerde aand uit.

Die wyn

“Wynmakerye moet deesdae ’n indruk maak en besoekers moet ’n ervaring met die handelsmerk hê, nie net ’n transaksie nie,” meen Stellenbosch Vineyards se besturende direkteur, Eduan Steynberg.

Die proelokaal op Welmoed het ’n grootskaalse vernuwing ondergaan en bied besoekers nou ’n besoek wat lank onthou sal word. Hulle kan wyn proe in die sit-area, of buite op die stoep. Bistro 13 se wynlys bestaan tans grootliks uit Stellenbosch Vineyards-wyne, maar daar is ook wyne van landgoedere uit die area.

Nic beplan om later wyne van kleiner produsente ook by te voeg, sowel as ’n paar internasionales. Spesialisbier sal ook ’n plek op die spyskaart vind, aangesien Nic ’n groot aanhanger is.

Meer inligting

Waar Die restaurant is op die plaas Welmoed, R310, Baden Powellrylaan, Stellenbosch
Kontak Bespreek plek by 021 881 3044, [email protected] of www.bistro13.co.za

SOURCES
Clifford Roberts

Send this to a friend