Kuns: Wat is “lelik”?

Soos wat die skoonheidsideaal, die strewe na harmonie en volmaakte proporsie, sy oorsprong in die kunsgeskiedenis het by die antieke Grieke, gryp die Middeleeuse uitbeelding van die “lelike” eweneens terug na die Grieke.

Johan Myburg

Oor die band tussen die “skone” en die “lelike” het filosowe sedert Plato al besin en min of meer oorgeengekom dat die “lelike” beskryf kan word as die teenhanger vir die skone, met ander woorde: die afwesigheid van harmonie en volmaakte proporsie.

Androgeen
Nuremberg (androgeen)

Vir die Grieke was daar geen twyfel oor die bestaan van wesens soos siklope en saters nie, en teen die Middeleeue het die register van monsteragtiges taamlik uitgebrei.

Die sogenaamde Nuremberg-kroniek van 1493 het ’n bra omvangryke lys van dié wesens ingesluit – onder meer die sogenaamde “androgeen”, ’n ras met individue wat manlike sowel as vroulik is.

Die Nuremberg-kroniek verduidelik dit so: Die regterbors is byvoorbeeld dié van ’n man sodat die wese ongehinderd kan werk, en die linkerbors is dié van ’n vrou sodat daarmee gesoog kan word.

Bosch Tuin van aardes vreugdes
Bosch (Tuin van aardse vreugdes)

Bruegel
Brueghel (Val van die opstandige engele)

Bruegel
Brueghel (Dulle Griet)

Benewens Hiernonymus Bosch se Tuin van aardse vreugdes illustreer die Vlaming Pieter Brueghel die Ouere ook die “lelike” – soos in uitbeeldings van die duiwel en sy trawante – in werke soos Val van die opstandige engele en Dulle Griet (albei dateer van 1562).

In Brueghel se werk word die magte van die onderwêreld uitgebeeld as half-mens, half-dier-monster.

Arcimbolo
Arcimboldo

Die Italiaanse skilder Giuseppe Arcimboldo (c 1527-1593) het wel nie die boosheid self verbeeld nie, maar sy portrette, saamgestel uit vreemdsoortige groentes, is ’n voortbouing op Bosch se beskouing dat die natuur nie noodwendig lewensgetrou uitgebeeld hoef te word nie.

Dali
Dalí

Die verwronge profiel in Dalí se selfportret El gran masturbador (1929), vertaal as “Die groot masturbeerder”, verwys besonder duidelik na ’n fragment uit die linkerkantse paneel van Bosch se Tuin van aardse vreugdes. Bosch se uitbeelding van ’n rots lyk selfs na die profiel van Dalí, kompleet met ’n (weliswaar afneigende) krulsnor.

Miro
Miro

In Miró se skildery La terre labourée (1923/4), vertaal as “Die bewerkte land”, is dit meer as net die kleurgebruik wat ’n mens aan Bosch se “tuin” laat dink – Miró plant in dié landskap ook verwysings soos afgesnyde ore en swerm voëls. Daar is ’n ooreenstemmende chaotiese energie én orde wat in albei die werke heers.

Send this to a friend