Wildspastei met polentakors

Gebruik hierdie maklike resep en maak ’n wildspatei met die wildsvleis in jou vrieskas

4 porsies

Bestanddele

3 kg wildsboud of -blad
750 ml (3 k) karringmelk
1 lourierblaar
1 roosmaryntakkie
3 tiemietakkies
200 g stukkies spek
1 ui, gekap
5 ml (1 t) fyn knoffel
5 ml (1 t) fyn naeltjies
10 ml (2 t) fyn koljander
1 ℓ (4 k) beesaftreksel
250 g (1 pakkie) sampioene, gekap
1 rooi soetrissie, gekap
1 wortel, gerasper
DEEG
250 ml (1 k) koekmeel
250 ml (1 k) polenta
15 ml (1 e) bakpoeier
250 ml (1 k) melk
125 ml (½ k) olie
3 eiers
1 ui, in ringe gesny

Metode

Stel oond op 180 ˚C.

  1. Sny boud in kleiner stukke en marineer oornag in karringmelk, lourierblaar, roosmaryn en tiemie.
  2. Verhit olie en braai spek tot gaar, hou eenkant.
  3. Braai ui en knoffel in dieselfde pot tot sag. Gooi speserye by en gooi spek terug in pot. Braai tot geure loskom.
  4. Vee karringmelk van vleis af en gooi saam met aftreksel in pot.
  5. Kook vir 4–5 uur of tot vleis baie sag is en uitmekaar begin val.
  6. Gooi sampioene, soetrissie en wortels by en kook tot sag.
  7. Skep vleis uit en maak vleisgarings deur vleis met vurk uitmekaar te trek.
  8. Skep hele mengsel in oondbak.
  9. Deeg Meng droe bestanddele. Klits nat bestanddele by droe bestanddele.
  10. Gooi beslag oor vleismengsel en pak uieringe bo-op. Bak vir 30–40 minute of tot kors gaar is.

Wenk

As die sous te dun is, kan jy dit met ’n bietjie mielieblom verdik

Send this to a friend