Brei ’n tuniek

Met die verskillende kleure en patroonsteke sal jy vir jou ’n pragtige tuniek brei

Deur CHRISTA SWANEPOEL

Moeilikheidsgraad: ***

Afkortings

r – regs aw – aweregs don – draad om naald gl – glip tes – tesame t2gso – trek 2 gs oor

Wat het jy nodig?

  • ELLE Premier Natural Cotton DK (50 g) 3 x turkoois A 3 x blou B 2 x geel C 4 x lemmetjiegroen D
  • 4 mm-naalde

Patroon 1

Oor veelvoud van 6
1ste ry (RK): *r3, don, gl 2 ste regsgewys, r1, t2gso, don, herh van * tot einde.
2de ry: aw.
3de ry: *don, gl 2 ste regsgewys, r1, t2gso, don, r3, herh van * tot einde.
4de ry: aw. Herh 1ste tot 4de ry.

Patroon 2

Oor veelvoud van 3
1ste ry (VK): r.
2de ry: *r3tes, laat ste op linkerkantste naald, r 1ste van 3 ste, r volg 2 ste tesame adl, herh van * tot einde.
3de ry: aw.
4de ry: r.

Patroon 3

Oor veelvoud van 4 plus 3
1ste ry (RK): r.
2de ry: aw.
3de ry: r2, *r2tes, don, r2, herh van * tot laaste st, r1.
4de ry: aw.
5de ry: r.
6de ry: aw.
7de ry: *r2tes, don, r2, herh van * tot laaste 3 ste, r2tes, don, r1.
8ste ry: aw. Herh 1ste tot 8ste ry.

Patroon 4

Oor veelvoud van 4 plus 1
1ste ry (VK): *r2tes, maar laat op naald, r in 1ste st, dan in 2de st (3 ste). Bring nou 1ste van hierdie 3 ste oor die ander 2, aw2, herh van * tot einde.
2de ry: r.
3de ry: r.
4de ry: r. Herh 1ste tot 4de ry.

Aanwysings

Voorpant

Eerste helfte Met A stel 104 steke op en werk 5 cm in ms, eindig met VK-ry. Met B ms 6 ste, r oor 58 ste, draai en laat oorbl ste op steekhouer. Vlg ry: aw tot laaste 6 ste, ms 6. Patroon is oor 52 ste. Gaan voort met patroon 1 met 2 randsteke weersk en 6 ms aan sykant vir ongeveer 8 cm eindig met 4de ry van pat. Met A werk in ms vir sowat 3,5 cm, eindig met RK-ry. Met C gaan voort met patroon 2 met 2 randsteke weersk en 6 ms aan sykant vir ongeveer 10 cm, eindig met 4de ry. Met A werk sowat 5,5 cm in ms, eindig met VK-ry. Met D gaan voort met patroon 3 met 1 randsteek net aan begin tot werk sowat 60 cm lank is, eindig met VK-ry.

Mousgatvorming

Gaan voort met pat (sonder ms-rand) en heg soos volg af aan mousgatrand: 4 ste 1 keer, 3 ste 1 keer, 2 ste 2 keer, 1 st 6 keer. ** 41 ste. Gaan voort tot mousgat sowat 12,5 cm lank is, eindig met RK-ry (aan halsrand se kant). Heg 17 ste af, pat oor 24 ste tot einde. Pat 1 ry en heg af aan halsrand se kant in vlg en elke alt ry soos volg: 3 ste 1 keer, 2 ste 2 keer, 1 st 2 keer. 15 sts. Gaan voort in pat tot werk van begin af 80 cm lank is, eindig met VK-ry. Heg af. Gaan terug na begin, glip 10 ste op steekhouer.

Tweede helfte

Heg D aan oorbl 36 ste en voltooi tweede helfte soos volg met 6 ste ms aan syrand deurgaans tot mousgat en patroon oor 30 ste. Werk in patroon 1 met 3 randsteke aan weersk vir sowat 22 cm, eindig met 4de ry. Met A werk 4 cm in ms, eindig met VK-ry. Met B r 1 ry. Werk in patroon 4 met 1 randsteek aan begin tot werk 60 cm lank is. Vorm mousgat soos eerste helfte. 19 ste. Gaan voort tot mousgat sowat 9,5 cm lank is, eindig met RK-ry (aan halsrand se kant). LET OP DAT HALSVORMING IN STROOK IN MIDDEL GEDOEN WORD. Heg af aan halsrand se kant soos volg: 2 ste 1 keer en 1 st 2 keer. 15 ste. Gaan voort in pat tot werk van begin af 80 cm lank is, eindig met VK-ry. Heg af.

Middelstrook

Keer terug na 10 ste op steekhouer, heg A en werk in ms tot so lank soos eerste helfte, eindig met VK-ry. Heg 5 ste af, ms tot einde. Werk 1 ry in ms. Heg 2 ste af, ms tot einde. Werk 1 ry in ms. Heg 3 ste af. Met regte kante op mekaar werk ms-strook aan twee sypanele vas.

Agterpant

Werk soos voorpant, maar met die twee panele omgeruil. Ná die ms-band sal jy dus eerste met D begin. Gaan voort tot agterpant 80 cm lank is. Heg af.

Nekband

Werk regterskouernaat toe. Met RKV en A tel op en r ongeveer 101 ste eweredig om halsrand (ongelyke getal) en werk in ms vir ongeveer 6 rye. Heg af.

Mourande

Werk linkerskouer- en nekbandnaat toe. Met RKV en C tel op en r ongeveer 81 ste om mourande. Werk in ms vir 8 rye. Heg af.

Om te voltooi

Met regte kante op mekaar werk sowat 20 cm onder arms toe.

Send this to a friend