Tien digitale gewoontes vir ooggesondheid | Vrouekeur

Tien digitale gewoontes vir ooggesondheid

Hier is inligting en handige wenke vir beter ooggesondheid, digitale gewoontes en hoe om ernstige oog-en visieprobleme te voorkom. Ons vergeet vinnig hoe belngrik nommer 8 is!

Elektroniese toestelle vorm deesdae ‘n integrale deel van die hedendaagse wêreld, nie net in die werksplek nie maar ook wat rekreasie betref. Alle moderne rekenaars, TV-skerms en selfs selfone het nou hoëdefinisie skerms en gebruik LED lig en ander soorte ligbronne wat blou lig uitstraal. Hierdie blou lig het ‘n baie kort golflengte en produseer daarom ‘n hoër hoeveelheid energie. Oormatige blootstelling kan die oë se retinas beskadig, tot katarakte en makulêre degenerasie lei en selfs slaapprobleme tot gevolg hê. Mellins i-Style, (www.mellins.co.za), ‘n vooraanstaande oogkundige groep het inligting en handige wenke vir beter ooggesondheid, digitale gewoontes en hoe om ernstige oog-en visieprobleme te voorkom:

  1. Oorweeg ‘n rekenaarbril – Hierdie brillense is spesifiek ontwerp vir digitale gebruikers. Dit is veral gemik op persone in hulle 30’s en vroeë 40’s wat vir die eerste keer probleme met naby-visie ondervind. Die ontwerp ondersteun die lensspier wat dit dus makliker maak as dit gedurig tussen die skerm en ander afstande moet fokus. Dit help sodoende om versteurde visie, moeë of droë oë en nekspanning te voorkom.
  2. Kies brillense wat bloulig blokkeer – Die beskermende laag elimineer spesifiek die skadelike blou-violet lig wat deur LED’s, televisie-, rekenaar- en tabletskerms uitgestraal word en retinaskade kan veroorsaak. Zeiss se DuraVision BlueProtect is so ‘n produk wat blou-violet lig blokkeer en gevolglik verhoed dat dit die oë bereik.
  3. Dra jou bril meer veral as jy ‘n kontaklensdraer is – Ruil jou kontaklense vir jou bril wanneer jy baie rekenaarwerk doen om oogspanning te verminder. Haal ook jou kontaklense uit as jy die middag tuis kom en dra jou bril.
  4. Onthou die 20/20/20 reël – Neem elke 20 minute ‘n 20 sekonde breuk van jou digitale skerm en kyk na ‘n voorwerp 20 meter ver. As jy ooit versteurde visie ervaar het nadat jy werk van naby gedoen het, is dit gewoonlik ‘n teken van oogspanning.
  5. Gebruik ‘n anti-reflektiewe skerm om die skerp lig van UV-lig en kunsmatige beligting op jou rekenaar- of tabletskerm te verminder.
  6. Maak verstellings aan jou rekenaar – Deur die skrifgrootte en helderheid op jou skerm te verander, sal dit makliker wees om teks op jou rekenaarskerm te lees en so oogmoegheid te verminder. Teks moet omtrent twee to drie keer groter wees as die kleinste teks wat jy kan lees. Die rekenaarskerm se helderheid moet dieselfde wees as die area direk agter die skerm en jy mag dalk verstellings deur die dag moet maak as jou werksplek deur natuurlike lig verlig word.
  7. Knip jou oë meer of gebruik oogdruppels – Wanneer jy voor ‘n rekenaar of met ‘n tablet werk, is jy geneig om jou oë minder te knip wat jou oë vogtig hou en droogheid en irritasie verminder. As jou oë droog word en oë knip nie veel verligting gee nie, veral by kontaklensdraers, sal oogdruppels help wat deur jou optometris aanbeveel word.
  8. Posisie, posisie, posisie – Ergonomie is belangrik, kies dus ‘n gemaklike stoel met ondersteuning en posisioneer dit só dat jou voete plat op die vloer is. Verstel jou rekenaarskerm en al die ander toerusting by jou werksplek om moontlike oogspanning te verminder. Jou rekenaarskerm moet ongeveer ‘n armlengte weg wees wanneer jy in jou stoel terugsit. Posisioneer jou rekenaar só dat jou oë dieselfde hoogte as die bokant van jou monitor is en jy effens afkyk op die skerm. Sit bietjie verder terug as jy ‘n groot skerm het.
  9. Strek jou bene – Staan ten minste elke twee ure op en beweeg rond.
  10. Gebruik ‘n toep (‘app’) – Verander ook jou iOS se stellings na night shift (nagskof) wat ‘n filter bied of laai gratis toeps (apps) af vir jou slimfoon en tablet wat bloulig verminder soos Bluelight Filter for Eye Care, Twilight, EyePro-Blue-Light Filter, Blue Light Filter-Night Mode, Bluelight Filter-Night Mode, f.lux en Bluelight Filter-Eye Care.

As jy vergeet om gereeld ‘n kort rustyd vir jou oë te neem, is daar gratis programme of toeps soos eyeCare-Protect Your Vision, EyeLeo, Eyes Relax en PC Workbreak wat jy van die internet kan aflaai vir jou rekenaar of selfoon, en wat jou sal herinner wanneer dit tyd is om ‘n breuk te neem.

Send this to a friend