19 wenke om jou eiendom en geliefdes te beskerm

61 huisrowe en 676 huisbrake per dag in Suid-Afrika – hoe boewe werk en hoe om jou eiendom en geliefdes te beskerm.

Volgens die mees onlangse misdaadsyfers wat hierdie week deur die SAPD bekendgemaak his, is die hoeveelheid huisrowe en huisbrake in Suid-Afrika steeds kommerwekkend hoog, met 22 343 rowe en 246 654 inbrake wat in 2016/17 aangeteken is.

“Hierdie statistieke is skokkend – op ‘n daaglikse basis word ‘n gemiddeld van 61 wonings beroof en 676 loop onder inbrake deur. En dis net met inagname van voorvalle wat wel aan die polisie vermeld word”, sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Ons doen ‘n ernstige beroep op Suid-Afrikaners om meer waaksaam as ooit te wees en te verseker dat hulle wonings so veilig as moontlik is, nie alleen om hulle besittings te beskerm nie, maar ook hulself en hul geliefdes.”

Navorsing deur Professor Rudolph Zinn van UNISA se Skool van Kriminele Reg en Polisiepraktyk – wat in-diepte onderhoude met 30 veroordeelde rowers gevoer het – het die volgende sleutel-insigte oor wie hierdie misdadigers is, en hoe hulle te werk gaan, onthul:

  • Meeste van hierdie rowers was mans in hulle vroeë 20’s.
  • Hulle werk gewoonlik in groepe van 4.
  • Elke misdadiger het op ‘n gemiddeld van 103 misdade skuld erken.
  • Hulle motivering was hoofsaaklik geldelike wins.
  • Hulle kies hul teikens op grond van rykdom en hoe winsgewend ‘n misdaad sou wees.
  • Die meerderheid van misdadigers het gesê dat hulle inligting van binne ontvang het – dikwels via huishulpe, tuiniers en sekuriteitswagte.
  • Alle oortreders het gesê dat hulle heelwat tyd voor die aanval sou spandeer om hulle teiken te monitor.
  • Lae sekuriteit en die beskikbaarheid van ontsnappingsroetes is belangrik, maar misdadigers sal enige teiken aanvat as hulle dit as waardevol genoeg sien.

Ontslape SAPD-staatmaker, Piet Byleveld, het genoem dat om ‘n kluis in jou huis te hê veral aanloklik vir misdadigers kan wees as gevolg van die hoë geassosieerde waarde van items in ‘n kluis. Hy het ook uitgewys dat misdadigers goed vertroud is met die polisie en sekuriteitsmaatskappye se reaksietye, en dat hulle binne hierdie perke funksioneer.

Byleveld en Zinn stem saam dat die beste oplossing ‘n geïntegreerde benadering met verskeie sekuriteitsmaatreëls is, eerder as om op ‘n enkele sekuriteitsbuffer staat te maak. Dit sluit in:

  • Om klein hondjies binne jou woning te hê wat jou kan waarsku teen ‘n indringer.
  • Om ‘n elektriese heining op die grenslyn van jou eiendom aan te bring.
  • Om ‘n alarmstelsel met sensors te installeer om jou te waarsku.
  • Die gebruik van ‘n gewapende sekurteitsmaatskappy.
  • Die installering van sekuriteitsligte wat aanskakel wanneer daar enige beweging op die perseel is.
  • Om CCTV-kamera’s en ‘n interkomstelsel te installeer.
  • Die installering van sterk deure en sekuriteitshekke met hoëgehalte slotte.
  • Om gordyne in die aand toe te trek, om te verhoed dat misdadigers bewegings binne die huis kan dophou.
  • Om ‘n veilige kamer te hê waar jy en jou geliefdes kan skuiling vind in die geval van ‘n aanval.
  • Om paniekknoppies byderhand te hou / te installeer waar jy hulle mees waarskynlik sal nodig hê.
  • Om te verseker dat daar ‘n oop uitsig vanuit die straat, en omliggende wonings, na jou huis toe is, wat die kanse verhoog dat misdadigers gesien sal word.
  • Om in ‘n area met goeie toegangsbeheer te woon.
  • Om enige huishulpe, tuiniers, sekuriteitswagte en ander wat toegang tot jou eiendom het se besonderhede en agtergrond deeglik na te gaan.

Virseker voeg ook die volgende handige wenke by:

  • Gaan jou eiendom na om enige kwesbare punte te identifiseer waar voorwerpe soos telefoonpale of bome dit maklik maak om oor die heining te spring.
  • Gebruik hekke wat nie vereis dat jy uit jou motor moet klim om hulle oop te maak nie, omdat dit jou ‘n maklike teiken maak. Wees ook altyd op die uitkyk vir enige verdagte voertuie of individue wanneer jy jou eiendom binnegaan.
  • Wanneer dit moontlik is, varieer jou daaglikse roetine om dit moeiliker vir misdadigers te maak om te voorspel wanneer jy tuis sal wees.
  • Moenie misdadigers in die versoeking stel deur dinge soos grassnyers en voertuie vir verlengde periodes buite te los nie.
  • Sny enige takke weg en verwyder alle voorwerpe soos tuingereedskap wat gebruik kan word om toegang tot jou huis te verkry.
  • Stel jou sekurteitsmaatskappy in kennis wanneer jy vir verlengde periodes nie tuis sal wees nie.

“Ten spyte van ons beste voorsorg, gebeur misdade soos hierdie wel, so dis noodsaaklik om seker te maak dat jy genoegsame versekering vir jou huisinhoud het, en om dubbel seker te maak dat jy gedek sal wees om hierdie items met soortgelyke, splinternuwe items te vervang”, sluit Twilley af.

Send this to a friend