Motiveer jouself só | Vrouekeur

Motiveer jouself só

Of dit nou voor ‘n eksamen, gimsessie of groot projek is, daar kom tye wat mens net ongemotiveerd voel. Jy is net doodeenvoudig nie lus nie. Waar kry jy die energie om te begin?  Hier is raad

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Jou splinternuwe gimkaart lê in jou handsak, maar dis winter, dis koud en jy’s nie lus vir oefen nie. Jy weet jy moet leer vir die eksamen, maar jy wil net gou jou sepie kyk. Of jy het ‘n groot werksprojek, maar jy kan net nie jouself sover kry om te sit en te begin werk nie. Klink dit bekend? Been there, done that? Ons almal was al daar. Ons het ‘n paar wenke opgespoor om jou te help om te begin en deur te druk.

1. Twee-minute-reël

Wat is die heel moeilikste van iets wat werk beteken? Die begin. Dwing jouself om vir minstens twee minute aan jou projek te werk. Die kans is dan groot dat jy sal deurdruk en veel langer sal fokus.

2. Evalueer jouself

Hoekom sukkel jy so om aan die gang te kom? Hoekom voel jy so ongemotiveerd? Wat kan jy aan die onderliggende rede doen?

3. Wees dankbaar

Dis die beste manier om gou weer positief en gemotiveerd te voel. Skryf ‘n lysie van dinge neer waarvoor jy dankbaar is.

4. Wees aktief

Raak aan die beweeg sodat jou liggaam endorfiene kan vrystel en sodat jy die energie sal hê om jou doelwitte te bereik.

5. Kry vir jouself ‘n visiebord

Soek ‘n paar prentjies wat weerspieël waar jy jouself aan die einde van die projek wil sien of hoe jy jouself in die toekoms sien. Wil jy graag oefen, maar kan nie deurdruk nie? Kry foto’s van hoe jy graag wil lyk. Sit dit op waar jy dit kan sien.

6. Motiverende woorde

Skryf woorde neer wat jou inspireer en plak dit iewers op, of skryf dit in jou dagboek. Herinner jouself daaraan as jy lusteloos en ongemotiveerd voel.

LEES OOK: Is jy ’n emosionele eter?

7. Skryf dit neer

Skryf het ‘n terapeutiese uitwerking. Stel jou horlosie en skryf neer wat in jou kop opkom. Dit verwyder emosionele klotter.

8. Gebruik die Pomodoro-tegniek

Volgens hierdie benadering moet jy vir 25 minute werk en dan ‘n vyfminuutblaaskans neem.

9. Gebruik sielkunde

Aanvaar dat jy ongemotiveerd voel en dat jy nie enigiets hoef te doen nie. Maar jy het die keuse om jou doelwitte te bereik en die beste daarvan te maak.

10. Maak dit vir jouself lekker

Maak ‘n kopskuif.  Kyk na jou doenlysie, skryf nou drie dinge oor elke item neer waarvan jy hou. Is dit ‘n uitdaging? Hoe gaan dit jou bevoordeel?

BRON: www.inaccordance.co.uk

Send this to a friend