Ma van die jaar: ‘Ek is verveeld, Ma!’ | Vrouekeur

Ma van die jaar: ‘Ek is verveeld, Ma!’

MA_VAN_DIE_JAAR

Zerelda Esterhuizen skryf dat die woorde “ons is verveeld” in dieselfde klas as  “are we there yet” is. Jy wil ’n pofadder kraam. ’n Grote

As my nou skuins bedinges wil hê, moet ‘n kind vir my sê: “Ek is verveeld!”

Hoe de duiwel is kinders van vandag verveeld terwyl hulle soveel het om hulle mee besig te hou? Die kinders van ons gewone middelklasouers is gelukkig genoeg om ‘n swetterjoel speelgoed te hê, dan is daar nog elektronika, Netflix en nog opsies en meer opsies.

Met die afgelope vakansie, moes ek omtrent elke liewe middag wat ek by die huis gekom het, hierdie woorde hoor: “Wat kan ons doen, Mamma? Ons is verveeld!”

Kyk  “ons is verveeld” is in dieselfde klas van “are we there yet?”. Jy wil ‘n pofadder kraam. ‘n Grote.

Natuurlik moes ek ook hoor hoe al die maats met vakansie is, see toe natuurlik, en dat hulle die enigste kinders in die Suidelike halfrond is wat op hul dorp agtergebly het en nooit nêrens heen gaan nie. Foeitog, die arme, arme bloedjies. En hul wrede ouers!

Ek het een Vrydag van die huis af gewerk, met hulle daar natuurlik, en ek moes my net keer om nie ‘n glas wyn te gooi voor die Boeing oor is nie. Veral die oudste was seker elke tien minute by my waar ek voor die rekenaar gesit het: “TOT HOE LAAT WERK MAMMA? WAT KAN ONS DOEN? ONS WIL IETS DOEN!”

En dan natuurlik stry die twee oor net mooi als – van wie die meeste koeldrank in hul glase het tot wat om te speel.

Ek het asemhalingsoefeninge gedoen en watervalle gevisualiseer om nie my polse stomp af te kou nie.

As kind het ek een Barbie met ‘n stemmige wit rokkie en pienk lintjie en een Flower Princess (met gebreekte knieë) gehad waarmee ek my ure lank besig gehou het. Ek en my boetie het cowboys en crooks gespeel en paaie en damme in die grond gebou. Ons het nooit nêrens heen gegaan nie en ons weeklikse uitstappie was die biblioteek en ons jaarlikse uitstappie die Sondagskool se piekniek. ‘n Crème Soda en ‘n pie was ‘n hoogtepunt.

As ons my ma geïrriteer het, het sy geskree: “Vlaktes toe!” en dit het beteken dat jy jouself maar tot aandete buite moes besig hou.

TV het jy (as jy klaar gebad het) vir ‘n uur of twee in die silwerskoon sitkamer gekyk met jou hande netjies op jou skoot gevou – groot oë vol verwondering oor hierdie wonderwerk wat  op ‘n kassie afspeel. Mense op die TIEWIE!

LEES OOK: Ma van die jaar: Wat sal jy vir jou jong self sê?

Ons moderne kinders is bevoorreg. Myne het tonne flieks om te kyk (as hulle wil!), hulle het boeke, hulle het kunsvlytgoed, hulle het speelgoed, hulle het … Hulle het en hulle het.
Maar tog is dit steeds nie genoeg nie. Vir hul ouers (regte twee home bodies) is daar niks lekkerder as om by die huis te kom en net rustig te wees nie, maar nee, ons oudste (die sosiale vlindertjie) wil byvoorbeeld altyd iewers heen gaan en plekke en mense sien (wat geld kos, natuurlik!)

Kinders soek net nog iets om hulle vir tien minute besig te hou voor hul aandag weer na ‘n nuwe ding verskuif .

Dis asof kinders vandag net nie kreatief genoeg is om hulself besig te hou nie. Sit hulle voor ‘n tablet neer en hulle verval vir ure in ‘n trans waar net die vingers beweging toon. Die oë is stokstyf en dit lyk asof hulle Tik saam met hul Rice Krispies ingekry het.

Wie se skuld is dit? Is dit ons wat hulle te vroeg voor ‘n TV, tablet of foon plant net sodat ons kan kosmaak,  iets in die huis kan doen of vaderland, net ‘n kans kry om asem te haal en te whooozzzaaah?! Of het kinders vandag net te veel opsies? Te veel dinge om hulle besig te hou?

Ons as kinders kon immers net tussen twee dinge buite kies: 1) om van die dak af te spring en 2) om karretjies of iets anders te speel. Ons het maar gewoonlik gespeel.

Op ‘n manier moet ons hierdie kinders weer kreatief laat dink en nuut na die wêreld laat kyk. ‘n Lepel verbeelding saam met hul kos ingee.

Kyk, ek lees al van geboorte af vir myne stories en vertel hulle van fabels en ander fabelagtige goeters, maar sit ‘n skerm voor die twee en hulle verander in zombies wat net op een ding kan fokus. Ek smeek hulle letterlik om te lees – bied selfs belonings aan (wat hulle en ek later vergeet …)

My oplossing? As ek maar een gehad het … Minder skermtyd is beslis een daarvan. Meer boeke is nog een. Meer gesinstyd is nog een. Teater is nog een.

Maar ek sê nou vir julle. Die volgende keer as hulle vir my sê: “Ek is verveeld,” gaan ek tot tien tel, ‘n waterpoel in ‘n groen woud visualiseer en skree: “Vlaktes toe met julle!”

Send this to a friend