Help, ek wil georganiseerd wees! | Vrouekeur

Help, ek wil georganiseerd wees!

Jy verdrink pal in al die lysies goeters wat jy moet doen. Weeklikse beplanning sal jou help om kop bo water te hou

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Elke jaar begin jy met jou skoon, nuwe blaadjie. Vanjaar is die jaar wat jy die balle gaan balanseer. Jy gaan georganiseerd wees en jy gaan alles onthou wat onthou moet word. Jou kinders se toetse gaan geteken word, jy gaan mense se verjaardae onthou en jy gaan nie weer ‘n dag sonder brood in die huis wees nie.

Maar soos die jaar vorder, verloor jy stoom en as jy weer sien, is die ou patroon weer daar: Chaos.

Dié wat weet, sê weeklikse beplanning kan die truuk doen.

  1. Benut die “nota-toep” en kalender op jou foon en gebruik jou dagboek. Dit bly die belangrikste reël. Sodra jy iets onthou, skryf dit dadelik neer. Moenie eens daaraan dink dat jy dit self gaan onthou nie! En moenie goed op klein papiertjies neerskryf nie, want dit verdwyn misterieus, nes plastiekhouers se deksels!
  2. Skryf elke week neer wat jy weet jy moet doen en onthou. Sit die aktiwiteite op die kalender en skryf dit in die dagboek neer.
  3. Kry ‘n PVA (plan van aksie). Jy moet nog voor die week begin ‘n plan hê om om by als uit te kom. As jy sien die kinders kort ‘n geleentheid atletiek toe, is dit nou die tyd om dit te reël.
  4. Betrek die hele gesin by die beplanning. ‘n Sondag is dalk ‘n goeie idee. Kinders het mos maar daai nare gewoonte om van mondelinge en take te vergeet wat vinnig Ma se probleem raak. Laat hulle op ‘n Sondag hul boeke uitpluk en kyk na al die briefies.
  5. Trek ‘n inkopielys vir die week op. Almal sê altyd daar is niks so vervelig as om presies te weet wat jy die week gaan eet nie, maar dit bespaar moeite, petrol en geld as jy net een keer per week by die winkels moet stop.
  6. Pasop dat sosiale media nie jou tyd opslurp  nie. Kry spesifieke tye wanneer jy gaan loer wat aangaan.
  7. Die Afrikaanse woord vir “backups” is rugsteun, maar ek dink almal verstaan dit beter as ek sê: Backup alles wat jy op jou foon en rekenaar het.
  8. Ons almal se huise het daardie een plek waar alles beland – van skoolvorms tot rekeninge. Maak daardie plek een keer per week skoon.
  9. Ontklotter daai gedeeltes wat jou van jou sinne kan beroof.
  10. Skryf elke week die dinge neer wat jy moet betaal en doen dit.
  11. Nog iets wat jou gaan kan help om die balle in die lug te hou, is om ‘n veilige toep of dokument op jou tuisrekenaar (aflyn!) te gebruik om jou wagwoorde te stoor.

Bron

Send this to a friend