Wees superproduktief

Jy begin die Maandag vars en vrolik en teen Woensdag wens jy dat jy net die lotery kan wen, want jy kan nie ’n dag langer werk nie. Hoe bly ’n mens gefokus by die werk?

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Werk is nie die prettigste ding in die wêreld nie, maar as ‘n mens wil eet en leef, moet jy maar werk. Om produktief te raak en te bly, is weer ‘n ander storie. ‘n Mens begin die dag heel positief, maar teen middagete wil die oë toeval. Ons het ‘n paar wenwenke opgespoor.

  • Stel vir jouself tydsdoelwitte. Sê vir jouself jy gaan nou 50 minute werk en dan tien minute rus.
  • Moenie dat jou aandag deur sosiale media afgelei word nie. Stel ʼn tyd vas wat jy gou kan gaan loer.
  • Dieselfde geld vir e-posse. Skeduleer tyd per dag wanneer jy dit kan nagaan.
  • Gebruik die eerste halfuur van die dag om jou dagboek na te gaan en alles neer te skryf wat gedoen moet word.
  • Doen die heel belangrikste take eerste in die oggend.
  • Moenie aan meer as een taak tegelyk werk nie.
  • As jou kantoor ‘n warboel is, gaan dit onnodige stres veroorsaak. Sorg dat jou werksruimte netjies is.
  • Moenie ja sê vir elke versoek nie en delegeer dit wat jy nie kan doen nie.
  • Drink genoeg water by die werk om jou vars te hou.
  • Stel vir jouself weeklikse en maandelikse doelwitte.
  • Skryf elke enkele ding wat jy moet onthou neer en gebruik tegnologie tot jou voordeel deur vir jouself “reminders” te stel.
  • Beperk onnodige vergaderings.
  • As jy slaperig by die werk voel, loop ‘n draai. Vars lug verrig wondere!

BRON: www.robinsharma.com

Send this to a friend