Laat jou CV uitstaan

cv_opstel

Dink jy jou CV is oukei? Wel, in vandag se mededingende werksmark is oukei nie altyd goed genoeg nie. Hier is agt wenke om jou CV op te skerp

 

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

 

1 Wys die impak in syfers

Woorde is goed en gaaf, maar syfers gee impak aan jou woorde. Moenie net sê jy het ‘n departement bestuur nie. Dit klink beter as jy sê jy het ‘n departement van 300 mense bestuur. “Ek het 25 artikels per maand gelewer,” klink beter as “ek het artikels geskryf”. “Ek het gesellighede gereël” klink goed, maar “Ek het gesellighede vir 500 mense of met begrotings van R100 000 gereël” is sterker. Jy moet uitstaan en syfers kan jou help.

 

2 Maak jou belangstellings interessant

Mense lys gewoonlik aan die einde van hul CV’s hul belangstellings en dan is dit gewoonlik dinge soos lees, reis en fliek. Klink dit interessant? Nie regtig nie, nè! Jy sal egter stof vir ‘n lekker gesprek kan gee as jy meer spesifiek is. “Ek hou van Quentin Tarantino-flieks, Oosterse kookkuns en is gek na reis, veral na plattelandse gebiede soos die Vrystaat.” Dit klink reeds interessanter!

 

3 Dui jou prestasies aan

Baie mense wen toekennings, kry keuring by uitstekende universiteite se programme, maar sê niks daarvan in hul CV nie. Hoekom nie?

“Ek is vir die Universiteit Stellenbosch se nagraadse navorsingskursus gekeur. Oukei, maar wat van: “Ek is vir die Universiteit Stellenbosch se navorsingskursus gekeur, daar word slegs 50 mense uit 800 aansoeke gekeur.” Indrukwekkend!

 

4 Kry ‘n voet in die deur

As jy by ‘n sekere maatskappy wil aansoek doen, probeer om eers iemand daar te nader vir raad. Maak seker van die werksomstandighede en vra gerus of hy of sy omgee om vinnig na jou CV te loer. Jy mag dalk interessante wenke kry wat ook met die onderhoud kan help.

 

5 Assosieer jouself met bekende handelsmerke

As jy kan en dis van toepassing, voeg handelsmerke by met wie jy al gewerk het. Jy het dalk aan ‘n veldtog vir KPMG gewerk, of jy het Tiger Brands se webwerf ontwerp. Sulke dinge kan jou laat uitstaan.

 

6 Waak teen foute

Gee jou CV vir iemand anders om te lees en na foute te kyk. Spelfoute is onaanvaarbaar en selfs enigiets anders wat onnet kan vertoon, soos ‘n streep wat nêrens heen gaan nie, skep nie ‘n goeie indruk nie.

 

7 Kry die basiese reg

Wat moet alles daar wees? Jou persoonlike en kontakinligting, onderrig en kwalifikasies, werkservaring, vaardighede wat relevant tot die posisie is, jou prestasies en belangstellings en verwysings. Dit moet verkieslik nie meer as twee A4-bladsye beslaan nie.

 

8 Hou dit netjies

Die voorkoms van jou CV moet skoon en netjies wees. Druk dit op nuwe wit tikpapier uit en gebruik ‘n goedgestruktureerde uitleg. Onthou ook dat ‘n mens se oog na die boonste, middelste gedeelte van die eerste bladsy getrek word, so al die belangrike inligting moet daar wees.

 

BRONNE: www.forbes.com, www.theguardian.com

Send this to a friend