Ma van die jaar: Eerstes met oudstes | Vrouekeur

Ma van die jaar: Eerstes met oudstes

MA_VAN_DIE_JAAR

Ek het ’n oudste kind. Die mens wat van my ’n ma gemaak het. ’n Onbehendige ma, ja – een wat dikwels die verkeerde ding op die verkeerde tyd sê en doen, maar nietemin, my dogter het van my ’n ma gemaak.

Sy was die “toets alles en behou die goeie”-baba. Die een wat my aanhoudend laat google het en al wat bababoek laat lees et. Die een wat my en die klinieksuster op voornaambasis gekry het.

Ek het allerlei tegnieke met haar probeer en haar fopspene en bottels was so gesteriliseer dat dit in ‘n laboratorium gebruik kon word. Sy het al wat ‘n ontwikkelingsprogram is gedoen en ek het haar mylpale noukeurig gevolg.

Soos julle weet, is dit nie heeltemal die geval met die kinders wat volg nie. Wie het dan tyd vir google en boeke? Nee, wat jy ken mos al! Been there done that, en ‘n mens het mos die kringe onder die oë en die rekmerke as bewys daarvan.

Maar soos my oudste ouer word, beleef ek weer heelwat eerstes saam met haar. Sy is nou in graad 4 en skielik moet ek weer leer.

My vrek, ek het nie gedink ek sal weer die struktuur van ‘n plant of die sewe lewensprosesse moet leer nie, maar hier gaat ons.

LEES OOK: Ma van die jaar: As jou kind ’n klein helsem word

Ek leer saam met Suster met die doel om haar te leer om te leer … Ek droom van die dag wat ek in ‘n meer toesighoudende hoedanigheid kan funksioneer en MasterChef in rus en vrede kan kyk.

Maar nee, as MasterChef begin,  is ons druk besig met tenses en tafels en word my nerwe dunner by die minuut. Suster leer en dis ‘n gestoei met ‘n skoolsku seunskind wie se graad 1-huiswerk verdere eise aan my rafelfyn geduld stel.

Nog ‘n eerste is dat ek nou ‘n kind het wat besef dat ek nie meer die coolste, slimste, wonderlikste mens op aarde is nie. Haar boetie, dierbare kind, dink genadiglik nog só.

Maar sy suster bevraagteken my voortdurend: “Nee, mamma, regtig, ek was in die klas toe Juffrou …”

Kyk, ek gaan nie stry nie, die kind het wel haar ma ‘n ding of twee geleer, soos om ‘n GIF te stuur.

Weer terug by die eerstes, sy is nou in die senior fase van die laerskool en hulle het onlangs ‘n sokkie gehad. Nog ‘n eerste vir ons.

Pa het eers teëgeskop. ‘n Sokkie op haar ouderdom!? Wat is volgende, ‘n  #$$%^&^%  rave!? Ek moes die man paai en pamperlang en hom uiteindelik daarvan oortuig dat dit ‘n onskuldige laerskoolsokkie is en niemand gaan “drakpille” in ons onskuldige dogtertjie se hande prop nie.

Sy gaan nie met ‘n tatoe of neusring terugkom nie. Nee, sy gaan net maak asof sy op die maat van Kaptein, span die seile kan dans.

Sy is daai aand met groot opgewondenheid vort terwyl ons “hou, hart, hou” geprewel het. Ons kind word groot. En nog is het einde niet!

Daar is ook die eerste kalwerliefdekys met een gawe seunskind, wat my toe weer van ene Fabian laat onthou het.

Ek weet hy klink soos ‘n Chippendale, maar nee, mense, vaal Fabian was my eerste laerskoolliefde en was net ‘n doodgewone seuntjie met ernstige spelprobleme.

Daar gaan nog baie eerstes vir ons wees en al wat ek weet, is dat ek asseblief die voorste sitplek soek, want ek wil niks misloop nie.

My mede-ma’s, susters-met-dieselfde-issues, dis ‘n ander storie as jou kinders groter word. Dis een vreesaanjaende reis, maar is dit opwindend en belonend? Ja, dit is, al doen ons dit met vele skietgebede en al weet ‘n mens nie aldag wie gaan deur op MasterChef nie.

 

Send this to a friend