Kuns: Tintoretto

Tintoretto het die tekenvaardighede van Michelangelo en die kleurgebruik van Titiaan nagestreef. ’n Derde aspek het bygekom: sy eie oorspronklikheid

Deur JOHAN MYBURG

Ná ’n besoek aan die Scuola Grande di San Rocco in Venesië skryf John Ruskin in 1845 in ’n brief aan sy pa: “I never was so utterly crushed to the earth before any human intellect as I was today, before Tintoret. [H]e lashes out like a leviathan, and heaven and earth come together. M Angelo himself cannot hurl figures into space as he does.”

Dat die 26-jarige Ruskin oorbluf kon wees deur Tintoretto se tamaaie skilderye is te verstane, hoewel dit terugskouend dalk ’n bietjie dik vir ’n daalder is. Nietemin het Ruskin, die Victoriaanse kunskritikus wat vanjaar 200 jaar gelede gebore is, ’n leeue-aandeel gehad in die taksering van die werk van die Venesiese kunstenaar Jacopo Robusti (1518–1594), die man wat alom as Tintoretto bekend staan. Sy pa was ’n kleurder (tintore) wat met kleurstowwe gewerk het en Jacopo was van kleins af die tintoretto, die “klein kleurdertjie”.

Sy pa het sy seun se skildertalent op ’n jong ouderdom raakgesien en hom op 15 of so na die groot meester Titiaan geneem om vas te stel of sy telg genoeg talent het om ’n sukses van ’n loopbaan as kunstenaar te maak. Tintoretto was ’n bietjie meer as ’n week in Titiaan se ateljee toe dié hom huis toe gestuur het en hom derhalwe nooit as leerling aanvaar het nie. Daar is mense wat meen Titiaan het bedreig gevoel deur die jongeling, hoewel dit ook moontlik is dat Titiaan getref was deur Tintoretto se onafhanklikheid in sy vormgewing en hom nie as ’n navolger van sý benadering gesien het nie.

Nietemin was twee aspekte wat Tintoretto nagestreef het die tekenvaardighede van Michelangelo en die kleurgebruik van Titiaan. Daarby het nog ’n derde aspek gekom: sy eie oorspronklikheid, wat hom binne sy leeftyd nie goed te pas gekom het nie. Later is hy juis daarvoor geprys. Georgio Vasari, sy tydgenoot en kunsskrywer, was oortuig dat Tintoretto “die flinkste verstand in die wêreld van skilder” gehad het, maar eweso dat hy “oorhaastig” was en “sonder ontwerp” geskilder het, “asof hy wou bewys dat kuns slegs ’n suggestie is”.

Dit was die Franse filosoof Jean Paul Sartre wat met sy verwysing na Tintoretto as “die eerste rolprentregisseur” die aandag op die filmiese gehalte van sy werk gevestig het. Gebeure, ’n ontwikkelende verhaallyn, aksie – dit is die soort goed wat vir Tintoretto belangrik was. Vandaar dalk die kritiek wat dikwels teen hom uitgespreek word; dat sy werk “onklaar” is. Wat wel waar is, is dat Tintoretto se skilderye blyke gee van vrye skilderwerk en ’n selfversekerde hand; asof sonder voortekeninge of veel beplanning, soos Vasari gereken het.

Moontlik is dit dié illusie waarmee Tintoretto so meesterlik beheer het. En waaroor Ruskin opgemerk het: “I don’t believe it took him ten minutes to invent and paint a whole length. Away he goes, heaping host on host, multitudes that no man can number – never pausing, never repeating himself – clouds and whirlwinds and fire and infinity of earth and sea.” Om die 500ste herdenking van Tintoretto se geboortejaar te vier, word Tintoretto: the Artist of Venice at 500 in die National Gallery of Art in Washington (tot 30 Junie) uitgestal. Een van die skilderye wat ingesluit is, is Die wonder van die slaaf (1548) uit die versameling van die Gallerie dell’Accademia in Venesië.  

Send this to a friend