Kuns: Piet Mondrian

Hoewel hy bekoor was deur die vernuf van die Kubiste het die Nederlandse skilder Piet Mondrian (1872-1944) volgehou dat dié kunsbeweging nie abstraksie tot sy uiterste beproef het nie.

JOHAN MYBURG

In Parys, waar hy hom in 1911 gaan vestig het, het Mondrian eerstehands kennis gemaak met die Kubisme en met die kunstenaars wat in die idioom gewerk het.

Terwyl Picasso, dalk meer as Braque, sy medevoorloper van die Kubisme, altyd die figuratiewe aspek in abstraksie beklemtoon het, was Mondrian se vooroorlogse werk dikwels só abstrak dat dit moeilik of selfs onmoontlik was om die onderwerpe wat hy geskilder het te herken.

Net ná die Eerste Wêreldoorlog, in 1917, het Mondrian en Theo van Doesburg (1883-1931) ? tydskrif begin met die titel De Stijl. Van Doesburg, die redakteur, het die titel van die tydskrif só verduidelik: “Stroop die natuur van sy vorm en wat oorbly is het styl.”

Soos soveel ander kunsbewegings van die vroeg 20ste eeu was ‘n nuwe estetika die oogmerk vir die rigting wat mettertyd bekend word het as De Stijl. Benewens skilders het dié beweging ook argitekte soos Gerrit Rietveld, ontwerpers, beeldhouers en ‘n digter gelok.

Van Doesburg (hy is gebore as Christian Emil Marie Küpper) word nie onthou vir sy kuns nie, maar vir sy stukrag en die rol wat hy gespeel het in argitektuur van sy tyd. Mies van der Rohe, die laaste direkteur van die Duitse Bauhaus, het byvoorbeeld gereeld bydraes gelewer tot De Stijl.

Dit was egter Mondrian wat met sy “nieu-plastisisme” die gesig van De Stijl geword het – die kenmerkende doeke met ‘n wit agtergrond waarop hy vertikale en horisontale lyne in swart en met die drie primêre kleure gebruik.

“Ek glo dis moontlik dat horisontale en vertikale lyne wat met sorg gekonstrueer is, en wat gelei is deur ‘n hoë vorm van intuïsie én met harmonie en ritme … ‘n kunswerk kan word – net so sterk as wat dit eg is,” het hy opgemerk.

Op sy beurt het Van Doesberg gesê “vir ons is die vierkant wat die kruis vir Christene is”.

Daar is kunsgeskiedskrywers wat ‘n band aandui tussen Mondrian (en dalk wyer ook ander kunstenaars van De Stijl) se kuns en hulle Calvinistiese agtergrond – ten opsigte van suiwerheid, harmonie en soberheid.

Mondrian het in Parys gewoon tot in 1938 toe die oorlogswolke begin opsteek het in Europa. Hy is eers Londen toe, maar toe die Nazi’s in 1940 Nederland en Frankryk inneem, is hy New York toe waar hy tot en met sy dood gewoon het.

Oor baldans was Mondrian gek en dit was in New York waar sy werk teen die einde van sy lewe “losser” begin raak het. Broadway Boogie-Woogie (1942-43) is sy laaste voltooide werk en ‘n mens sou dit kon lees as ‘n soort choreografiese diagram van New York uit die lug. Dis heelwat vryer, dog meer gekompliseerd as sy vorige skilderye. Die glans van die verf lyk asof dit neon-ligte is wat die kyker naderlok.

Dis veral dié laaste werk wat so ‘n groot invloed gehad het op die latere skool van abstrakte geometriese skilderwerk. In die geselskap van Wassily Kandinsky en Kazimir Malevich word Mondrian gereken as een van die baanbrekers van abstrakte geometrie.

Dié video bied iets van ‘n chronologiese ontdekkingstog deur die werk van Piet Mondrian.

[iframe width=”400″ height=”300″ src=”https://www.youtube.com/embed/9fmiKOOvLUo?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

 

Kyk ook na dié video oor die Schröder-huis in Utrecht.

[iframe width=”400″ height=”225″ src=”https://www.youtube.com/embed/zyZZktZgamI?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

Send this to a friend