Hoender-en-spinasie-lasagne

Marlo Carstens, ons kosredakteur, kies haar gunstelingresepte vir 2013. Dié heerlike hoender-en-spinasie-lasagne is een daarvan.

6 porsies

Bestanddele

bietjie olie

6 hoenderborsies, in repies gesny

hoenderspeserye na smaak

bietjie olie

2 uie, gekap

7,5 ml (1½ t) vars knoffel, gekap

1 selderystingel, gekap

2,5 ml (½ t) droë gemengde kruie

1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny

1 groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny

410 g (1 blik) tamatie-en-uie-mengsel

2,5 ml (½ t) sout

knypie swartpeper

1 bos spinasie, ontstingel

knypie rooipeper

750 ml (3 k) klaar witsous

250 g (1 boks) spinasielasagnevelle

250 ml (1 k) cheddarkaas, gerasper
Stel oond op 180 °C.

Metode

1 Verhit olie en braai hoenderrepies wat goed met hoenderspeserye besprinkel is, tot gaar. Skep uit.

2 Verhit nog bietjie olie en soteer uie, knoffel, seldery en kruie tot sag. Voeg soetrissies by en soteer nog 2 minute.

3 Skep gebraaide hoenderrepies terug in kastrol.

4 Voeg tamatie-en-uie-mengsel, sout en peper by. Laat vir 12 minute oor matige hitte sonder deksel prut sodat van die vloeistof kan verdamp.

5 Was spinasie en plaas in mikrogolfbak. Voeg 10 ml (2 t) water by. Bedek met kleefplastiek en mikrogolf vir 3 minute op hoog.

6 Trek kleefplastiek af en giet oortollige water af.

7 Roer rooipeper by klaar witsous.

8 Smeer klein bietjie van witsous op bodem van oondbak van ongeveer 34 cm x 22 cm wat met kossproei gespuit is.

9 Plaas spinasielasagnevelle op bodem van oondbak.

10 Skep baie dun lagie hoenderstukkies, dan laag spinasie, weer dun lagie hoenderstukkies en weer laag spinasielasagne en witsouslaag.

11 Hou so aan tot oondbak vol is.

12 Sprinkel kaas oor en bak vir 40 minute of tot toetspen deur lasagne kan steek.

Send this to a friend