Vrugtetertjies met bloubessies

Ná ’n besoek aan Frankryk was Mareli Visser versot op hierdie elegante vrugtetertjies. Die geskroeide botter gee ’n unieke smaak aan die smelt-in-die-mondkors

Deur MARELI VISSER

6 tertjies

Bestanddele

DOPPIES
180 ml (¾ k) botter
80 ml (1/3 k) water
30 ml (2 e) olie
30 ml (2 e) suiker
1,25 ml (¼ t) sout
500 ml (2 k) koekmeel
VULSEL
60 ml (¼ k) suiker
45 ml (3 e) mielieblom (Maizena)
15 ml (1 e) koekmeel
1,25 ml (¼ t) sout
3 eiergele
375 ml (1½ k) melk
30 ml (2 e) botter
5 ml (1 t) vanieljegeursel
1 houer bloubessies

Metode

Verhit oond tot 200 °C.

  1. Doppies Smelt botter, water, olie, suiker en sout in pot totdat botter aan kant begin verbruin.
  2. Verwyder van hitte en roer koekmeel by totdat deeg vorm.
  3. Druk deeg in tertpannetjies om kors te vorm en prik met vurk.
  4. Bak vir 10 minute tot goudbruin en laat afkoel.
  5. Vulsel Klits suiker, mielieblom, koekmeel, sout en eiergele tot glad.
  6. Roer melk by en plaas op matige hitte, kook tot dik en gaar.
  7. Verwyder van hitte en roer botter by tot glad en voeg dan vanieljegeursel by. Skep in glasbak, bedek met kleefplastiek en verkoel in yskas vir twee uur.
  8. Spuit vulsel in tertdoppies en versier met bloubessies.

Send this to a friend