Ma van die jaar: Waardeer hulle

Ek dink wat Driehoek ons weer wys, is om net stil te staan en weer dankie te sê. Ons kinders en dit wat ons het, te waardeer.

Ek het al soveel kere vantevore vir julle gesê dat die “Ma van die Jaar”-naam bloot spottend is, want ek is ver van die regte ma van die jaar.  Ek is goed ongeduldig, raak gou geïrriteerd en ek hou daarvan dat dingetjies vlot moet verloop anders neuk al die balle neer wat ek so versigtig in die lug probeer hou.

Ek kort alleentyd om my aan die lewe en gebalanseerd te hou, anders word ek knorrig en basies verander ek in die heks van Endor. Ek moet nou en dan tyd kry om net bietjie stil te sit en te dink, my musiek te luister, te lees, te skryf, te wees. Met kinders wat tot by jou kom sit as jy in die bad lê, is dit nie aldag maklik nie. En ek verstaan dat hulle met my wil gesels en dis vir my lekker om met hulle te gesels, maar soms wil ek net Zerelda wees.

Meng  werkstres, verkeerstres, huisstres, kinders wat baklei, dinge wat breek,  ‘n deurmekaar huis, rekeninge, te min tyd, en en en bymekaar en klits dit saam met ‘n buierige ma en die resep is ‘n perfekte, chaotiese brousel.  Dan probeer ek tot tien tel, maar eindig by drie en die bure begin die welsyn se nommer op soek. Oukei, dis nou nie regtig so erg nie, maar julle ken mos die alewige skuldgevoel van die moeder. Skree op ‘n kind en jy wroeg vir twee dae daaroor, skree op die volgende kind en ‘n verdere wroeging van drie dae breek aan.

Ek probeer hard, maar soms is dit net nie goed genoeg nie.

En hier is die Hoërskool Driehoek-tragedie en ek wonder opnuut daaroor. Ek sien nie die kinders gewoonlik in die oggend nie. Ek ry so 05:20 by die huis en dan sien ek hulle eers in die middag as ek by die huis kom. Maar soms is dit moeilike aande, ‘n gesukkel om hulle in die bed te kry, Ma se lont raak kort, Pa se lont raak kort, kinders se lonte ontbreek sommer heeltemal en die slaaptydstorie word uitgewurg en die “Liewe Jesus, kyk op my u kindjie neer …” word met dun lippies gebid. Dit raak een van daai aande wat jy net op die bed neerval en wens vir ‘n Biral of drie, vier of vyf.

Maar wat as jou kind die volgende dag sterf en jy sit vir die res van jou lewe met die gedagte dat my laaste woorde vir my kind was: “Gaan slaap nou net! As ek nog een keer die woord “games” hoor, gaan ek dit verloor.” Ek wil nie die antwoord weet nie.

Hoe het dit daardie oggend in die Driehoek-slagoffers se huise gegaan? Was daar tyd vir ‘n vinnige soentjie, ‘n drukkie, was daar tyd vir ‘n “ek is lief vir jou”?  Ek hoop dat daar tyd vir hulle was, want die hemel weet, ek kan my die ouers se pyn nie indink nie. Ek het vriende wie se kinders dood is, al baie jare gelede, en daardie pyn bly rou. ‘n Kind se dood is nie iets waaroor jy kan kom nie. Dis nie iets wat jy kan verwerk nie. Dis basies om elke dag te cope sonder om heeltemal inmekaar te val. My een vriendin het al vir my gesê dis ‘n pyn wat nooit weggaan nie, jy voel dit elke oomblik van die dag, maar jy weet jy moet een tree voor die ander sit. Jy moet met die lewe aangaan.

Kinders is so deel van ons dat ons hele lewe om hulle wentel. Ek dink wat Driehoek ons weer wys, is om net stil te staan en weer dankie te sê. Ons kinders en dit wat ons het, te waardeer. Hulle in die aand of oggend ‘n ekstra drukkie te gee tussen die “Waar is jou sak?”, “Is jou huiswerkboek in?”, “Het jy jou waterbottel?”, “Hou nou op om TV te kyk!”.

Ek kyk so na my kinders en my wens vir hulle is om eendag gelukkige, gesonde, heel mense te wees. Dit was dalk ook die Driehoek-ouers se wens.  Ek wens vir alle ouers wat kinders verloor, net liefde toe. Mag julle bygestaan en vasgehou word en die mooi herinneringe van jul kinders koester. 

Send this to a friend