Skop die skooljaar goed af! | Vrouekeur

Skop die skooljaar goed af!

Begin die nuwe skooljaar met woema met ons A tot Z van wenke!

Deur: Shanda Luyt

Goed begin is half gewin, sê die spreekwoord, en dis ook die geval met ’n nuwe skooljaar. Hoe vlotter die begin verloop, hoe makliker is dit vir jou kind om op akademiese, sosiale en sportgebied te voel hy is in beheer sodat hy dit met selfvertroue en ’n positiewe houding kan aanpak. Maar hoe skop jy reg af?

Altyd positief
Wees positief oor skool en die nuwe skooljaar – dis aansteeklik en sal die nuwe jaar sommer baie minder intimiderend laat voel vir jou japsnoet! Gesels oor al die lekker goed wat wag, soos dat hy weer al sy maats sal sien (of wonderlike nuwe maats kan maak) en baie nuwe dinge gaan leer.

Bietjie gestres
Dis heeltemal normaal vir kinders om ’n bietjie angstig te voel voor die eerste skooldag. Jy kan daarmee help deur met jou kind daaroor te gesels en deur sy geloof in sy eie vermoë om die uitdagings te hanteer, te versterk. Sê vir hom: “Natuurlik voel jy bietjie bang, maar ek weet jy sal dit baie geniet. Jy maak mos maklik maats.”

Chaosbeheer
Die begin van die jaar met al sy skoolbriewe, gelde wat betaal moet word en nuwe buitemuurse aktiwiteite, kan chaoties en vir ouer en kind oorweldigend voel. Hou jou huis onder beheer deur reeds voor die skool begin jou stelsels in plek te sit en vaste plekke af te baken vir goed soos skoolbriewe, tasse en kosblikke.

Duursaam werk
So nodig as wat dit is om pryse te vergelyk as jy skoolvoorrade wil aankoop, is dit om te onthou dat goedkoop soms duur koop is. Dit help nie jy koop vir jou kind skoolskoene wat skaars twee maande later weer vervang moet word nie. Belê in goeie skoolskoene, ’n boeksak wat rowwe behandeling kan oorleef en as jou kind se skoollysie spesifieke handelsname aanbeveel, neem kennis – die onderwysers weet al uit jare se ondervinding watter skryfbehoeftes werk en watter nie.

Ek’s nie alleen!
Maak kontak met ander ouers met kinders van dieselfde ouderdom as joune en reël gerus vir jou kind speelafsprake in die weke voor die skool begin. Dit sal nie net sy sosiale lewe ’n hupstoot gee aan die begin van die jaar nie, maar jou ook help om ’n goeie ondersteuningsnetwerk in plek te hê as die skool begin – dit help as jy ’n ander ma in ‘n noodgeval kan bel.

Fantastiese internet!
Moenie hierdie jaar jou voete deurloop agter skryfbehoeftes en ander skoolbenodigdhede aan nie: Doen dit aanlyn! Waltons, Pick n Pay en ander bied ’n aanlynbestellingsdiens waar jy jou kind se benodigdhede kan kry.

Gesonde kosblikke
Jou kind se kosblik moet hom energie gee vir sy skooldag. Maak dit maklik deur vooraf ’n spyskaart uit te werk sodat jy nie saans hoef te wonder wat jy moet inpak nie. Hou dit gesond en smaaklik met vrugte, kasies, jogurt, en so meer, maar bly weg van koek en lekkers (beperk dit tot een keer ‘n week). Bederf hom liewer met ’n briefie in sy kosblik.

Hallo, juffrou!
Skryf vir sy nuwe juffrou ’n brief waarin jy haar by voorbaat bedank vir die bydrae wat sy tot jou kind se opvoeding gaan lewer, haar uitnooi om jou te kontak as daar enige probleme opduik en jou hulp aanbied waar jy kan. Onderwys is ’n ondankbare werk en jou brief kan die begin van ’n vrugbare werksverhouding tussen jou en die onderwysers wees.

Inligtingsvraat
Wees ingelig oor wat by jou kind se skool op julle albei wag. Lees elke brief wat jy reeds van die skool af ontvang het deeglik. Reageer waar nodig. Dit sal jou kind ook gerusstel.

Jóú skedule
Probeer jou werkskedule vir die eerste week van skool só te reël dat dit buigsaam is. Dit sal help dat jy noodgevalle kan ondervang, vergete laaste skoolgoed kan aankoop, en so meer, tot die normale skoolroetine eers gevestig is.

Kom, doen jou huiswerk!
Rig vanuit die staanspoor ’n “huiswerksentrum” in waar jou spruit elke dag huiswerk kan doen – nie voor die TV nie. Kies ’n goedbeligte plek met ‘n gemaklike stoel en skryfoppervlak.

Laaste dae!
Gebruik die laaste dae om vir oulaas seker te maak alles is reg. Dit sal wondere doen vir sy gemoedsrus. Die laaste dag is vir ontspan, lekker saamkuier, storietyd en vroeg in die bed – môre is ’n groot dag!

Merk elk liewe ding
Daar’s niks wat so maklik wegraak soos skryfbehoeftes nie en as jou kind sy dure ongemerkte skoolbaadjie iewers laat lê, is dit vir altyd verlore. Merk gaan jou oneindig baie geld spaar. Daar is oulike merketikette te koop, maar ’n gewone swart permanente merker werk ook.

Noodgevalle
Leer jou kind hoe om in moeilike situasies of noodgevalle op te tree. Weet hy byvoorbeeld wat hy moet doen as jy nie betyds opdaag om hom by die skool te kom haal nie? Moenie hom bangpraat nie, maar gee ’n praktiese aksieplan: “As jy sien Mamma is baie laat om jou te kom haal, gaan vra jou juffrou sy moet vir Mamma bel.”

Op jou merke, gereed …
Maak seker jyself is reg vir die eerste skooldag: Is die motor vol petrol? Het jy die kamera byderhand as dit jou kind se heel eerste dag skooldag is?

Pootuit
Verwag dat jou kind in die eerste week van skool totaal en al uitgeput sal wees. Laat hom toe om in die middag ’n bietjie te slaap as hy moeg is.

Qui-vive
Wees paraat! Rus jou kind met die nodige veiligheidsvaardighede vir die skoolomgewing toe: Hoe om ’n straat veilig te kruis, om nie met vreemdelinge te praat nie, of om homself teen boelies te beskerm.

Reg ná skool
As jou kind ’n nasorg moet bywoon, verseker jou reëlings hiervoor is alles gefinaliseer. Maak seker jou kind weet presies hoe hy van die skool by die nasorg moet kom, wie hy moet kontak as dinge verkeerd loop en wat by die nasorg van hom verwag sal word.

Skryfbehoeftes
Probeer so gou moontlik ’n lysie by die skool kry van watter benodigdhede jou kind moet hê en koop vroegtydig terwyl daar nog voorraad is. Dit sal jou kind ook rustiger laat voel. Wees op die uitkyk vir terug-skool-toe-promosies (dit begin gewoonlik kort ná Kersfees) en koop dan genoeg voorraad vir die hele jaar.

Toets die roete!
As jou kind na ’n nuwe skool toe gaan, ry die roete skool toe in spitsverkeer, sodat jy kan uitwerk hoe lank dit jou sal neem. Jy wil nie op die eerste skooldag jou kind ’n uur laat by die skool aflaai nie! Hou in gedagte dat daar in vakansietye baie minder verkeer as in die skoolkwartaal is.

Uniforms
Dit werk lekker as jou kind drie stelle skoolklere het – een in die kas, een aan die bas en een in die was. As jy vir die eerste keer koop, soek rond vir die beste pryse, want dit kan baie wissel. Maak minstens ’n week voor die skool begin seker jou kind se skooldrag pas nog vir hom, anders wag daar dalk ’n onaangename verrassing vir julle! Moenie nou al wintersdrag aanskaf nie – kinders rek ongelooflik in ‘n kort tydjie!

Vergaderings en nog wat
Woon die inligtingsvergaderings aan die begin van die jaar by. Daar word inligting uitgegee wat die lewe vir jou en jou kind baie makliker kan maak. Verder is dit die ideale geleentheid om jou kind se onderwyser te ontmoet.

Waar, wat en wanneer?
Maak seker jy weet presies wat op die eerste skooldag van jou en jou kind verwag word en dat hy ook weet. Waar moet hy aanmeld? Hoe laat moet julle daar wees?

X-tra aandag
Bederf jou spruit in sy laaste vakansieweek met ’n bietjie ekstra aandag en gesinstyd – speel bordspeletjies, lees saans bedtydstories of tel hom net ’n bietjie op jou skoot vir koestering (selfs hoërskoolkinders hou nog soms van ’n skootsit!). Hoe veiliger jou kind in sy huis voel, hoe meer sal hy gereed voel vir die uitdagings op die skoolgrond.

Ydelheid en versorging
Dis belangrik dat jou kind netjies vertoon in sy skoolklere. Laat sny in die laaste week sy hare (in lyn met die skool se riglyne), sorg vir die regte haarbykomstighede vir jou dogter en kyk dat hul naels netjies en kort en hul skoene skoon is.

Zillion goed om te doen?
Hou kop deur stelsels in plek te sit: Dit sal help met beter beplanning en tydsbestuur en verseker dat almal weet wie wanneer waar moet wees. Kyk byvoorbeeld na ’n witbord waarop julle almal se buitemuurse aktiwiteite en programme van dag een af kan aanteken, ’n jaarkalender waarop julle jul jaar rofweg vooruit kan beplan, of ’n sentrale plek vir belangrike nommers, soos van sleutelonderwysers.

Send this to a friend