Boekhoek: Chimamanda Ngozi Adichie en feminisme

Die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie word vanjaar maar eers 40, maar sy is al wêreldberoemd vir haar romans:

Purple Hibiscus (2003), wat die Commonwealth-prys gewen het, Half of a Yellow Sun (2006) – Orange Broadband-prys – en Americanah (2013) – Chicago Tribune Heartland-prys en National Book Circle Award, asook menige kortverhale en essays wat aandag getrek en opslae gemaak het.
Sy is in Nigerië gebore en het in die universiteitstad Nsukka grootgeword – haar pa was ´n wiskundeprofessor en haar ma die eerste vroue-registrateur aan die universiteit van Nigerië. Sy het op 19-jarige leeftyd in die VSA gaan studeer en het ‘n meestersgraad aan Johns Hopkins behaal, wat later ook ´n eredoktersgraad aan haar toegeken het.
Sy is getroud met ´n dokter en het ´n dogter. Sy woon deels in Amerika en deels in Nigerië, waar sy klasse in kreatiewe skryfkuns gee.
Ons leeskring het onlangs Half of a Yellow Sun gelees en ons was almal diep geraak en baie beïndruk daarmee. Dit handel oor die Biafra-oorlog van die laat sestigerjare, waarin albei haar oupas oorlede is. Dit volg die lewens van tweelingsusters en trek die leser in die gebeure rondom die oorlog in; dit is ontstellend en meesleurend. Dit is beslis werd om gelees te word, veral ook om die vooroordele wat menige Suid-Afrikaners jeens Nigeriërs koester, die nek in te slaan.
Adichie se openbare optredes oorskadu egter ongelukkig haar skryfwerk tot so ´n mate dat ´n mens die een nie los van die ander kan waardeer nie. So het sy in 2009 (op 22-jarige leeftyd!) ´n TED-lesing gehou oor die tema “The danger of a single story”, waarin sy beklemtoon hoe belangrik dit is om verskillende kulture te ken en te begryp, soos haar eie en dié van die VSA.
Haar TED-lesing in 2012 met die titel “We should all be feminists” maak nog steeds opslae; dit is ook reeds as ´n boekie uitgegee. Die popsangeres Beyoncé het in 2013 dele van haar praatjie woordeliks in haar lied “Flawless” oorgeneem (hoewel Adichie meen haar opvattings en Beyoncé s’n stem nie ooreen nie) en Dior het ´n T-hemp met die woorde We should all be feminists op as ´n modefoefie gebruik.
Haar jongste publikasie is Dear Ijeawele, or a Feminist Manifesto in Fifteen Suggestions, die uitgebreide weergawe van ´n brief aan ´n vriendin wat haar gevra het hoe om ´n dogter as ´n feminis groot te maak. Feminisme is dus haar tema op die oomblik en sy voel sterk daaroor dat vroue dieselfde regte as mans moet hê.
Iets wat sy egter steeds in onderhoude moet verduidelik, is hoe sy as verbete feminis die voorste stoele van ´n Dior-modeskou kon beset én die gesig van No7, die grimeerhandelsmerk van Boots, kon word. Feministe vanouds was onopgesmuk en daar word steeds gemeen dat grimering en vroulike klere juis aftrek doen aan die konsep van gelykwaardigheid. Daar is byvoorbeeld ´n #nomakeup-beweging in die VSA, wat vroue soos Alicia Keys ondersteun.
In my blog oor Elena Ferrante het ek geskryf dat dit bevrydend is om ´n boek te lees deur ´n skrywer wat agter ´n skuilnaam wegkruip – selfs al is Ferrante se beweerde “regte naam en identiteit” geopenbaar, het sy dit nooit bevestig nie en lesers kan haar romans steeds sonder die besonderhede oor haar lewe geniet.
Adichie is die direkte teenoorgestelde van so ´n anonieme skrywer: haar foto wat No7 adverteer, pryk groot op reklameborde in Londen en elders, sy het ´n Facebookprofiel, sy tree gereeld op om haar mening te lug en haar opinies word hewig bespreek. ´n Mens voel dat daar min is wat jy nie oor haar weet nie.
Die twee skrywers verteenwoordig die oue en die nuwe: aan die een kant ´n ernstige skrywer wat net vir haar skryfwerk bekend wil wees, aan die ander kant ´n skrywer wat die openbare media in al sy fasette benut en uitbuit. Albei is puik skrywers, dis net hul aanslag wat hemelsbreed verskil.
Die gedig by die blog is deur Derek Walcott, wat die Nobelprys vir Letterkunde in 1992 gewen het en op 17 Maart 2017 oorlede is.
Love after love
The time will come
when, with elation
you will greet yourself arriving
at your own door, in your own mirror
and each will smile at the other’s welcome,

and say, sit here.
Eat.

You will love again the stranger who was your self.

Give wine.
Give bread.
Give back your heart
to itself, to the stranger who has loved you

all your life, whom you ignored
for another, who knows you by heart.

Take down the love letters from the bookshelf,

the photographs, the desperate notes,
peel your own image from the mirror.

Sit.
Feast on your life.

 

Send this to a friend