Boekhoek: Die skrywer as kulkunstenaar

Die deel van die pizza wat ek gisteraand in ’n restaurant nie kon eet nie, gee ek vandag vir ´n bedelaar op ’n straathoek.

Die droë ding sal vandag net so min of minder na my smaak wees as gister. As kind is ek gedwing om teen wil en dank alles op my bord op te eet. Ek het genadiglik met verloop van tyd geleer om dit sonder gewetenswroegings nie meer te doen nie. Daar is genoeg hongeriges op ons strate.

So kan ek nou ook boeke los. Vroeër het ek verplig gevoel om tot die einde deur te worstel, maar nie meer nie! Ek neem ongeleesde boeke na ´n liefdadigheidswinkel of die biblioteek – iemand sal hom of haar seker oor hulle ontferm. Finuala Dowling se What poets need was so een. Ek kon net nie in die hoofkarakter glo nie. Dit was veronderstel om ´n voltydse digter te wees – waar kry jy ´n voltydse digter in Suid-Afrika? Selfs Deon Meyer moes nog ´n day job hê toe hy al wêreldberoemd was!

Die hele verhaal word deur middel van e-posse van die digter aan sy geliefde aangebied. Sulke e-posse het ek nog nooit teëgekom nie: So iets van styf en duidelike setting the scene is onverteerbaar. Maar die grootste struikelblok vir my was dat ek nie kon glo dat dit ´n man was wat hulle skryf nie. Ek het begin lees en toe weer op die skutomslag gekyk – dis inderdaad veronderstel om ´n man te wees wat onsterflik verlief is op ´n vrou.
Nee wat, so lief as wat ek vir Finuala Dowling se gedigte is – ek plaas een daarvan onderaan die blog – so min kan ek hierdie droë ding afkry en die boek beland maar in die weggeesakkie.
Dit is ´n kuns en miskien ´n vloekskoot as ´n skrywer aan ´n karakter en omstandighede geloofwaardigheid kan verleen. As jy tussen die lees deur oor die karakter peins en selfs snags oor hom of haar droom, as jy jouself of ´n ander in hom of haar herken, as die persoon jou bybly lank nadat die boek op die rak staan, dan het die boek jou metgesel geword. Die meeste skrywers streef sekerlik daarna om so ´n “ware” mens te skep, maar min is dit beskore.

LEES OOK: Boekhoek: Hoekom skryf mense?

Toevallig het ek net voor die digter se e-posse (helaas, geen eposse nie!) so ´n treffende boek gelees: Landnahme deur Christoph Hein. Die protagonis is ´n stugge, hardkoppige seun en later man wat aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog saam met sy ouers uit hul tuiste in Oos-Pruise, wat toe Pole geword het, moes vlug. Soos hy daar in die klas tussen kinders sit wat jonger is as hy oor hy skoolwerk moes inhaal, met sy skoolsak wat sy ma onhandig uit ´n ou leërjas geprakseer het, ´n bot buitestaander wat die ergste nood en armoede ken, herken ek hom.

Sulke seuns was saam met my op skool, met growwe, ongewaste hande (as ons verplig was om volkspele te doen en hande moes vashou, het ek vir dié hande gegril) en oorgeërfde skoolklere wat nie goed pas nie, rof en ongemanierd, arm en wanaangepas. Ek het uit hul pad gebly, maar was ook half gefassineer met hulle, soos met ongetemde wilde diere.

Terwyl ek Landnahme gelees het, het ek vir die eerste keer sedert my skooltyd weer aan dié ongetemdes gedink en hoe hulle die straf vir hul ongedane huiswerk stoïsyns verduur het en almal aangegluur het wat durf waag het om oor hulle te lag. Wat in die skoolpouses woeste gevegte op tou gesit het en gehawend na die klas teruggekeer het.
Dis ´n gawe om ´n karakter so duidelik te kan skilder dat jy hom in jou hart ken.

Hier is ’n tere gedig van Finuala Dowling:

Repair

Two friends of mine, hardly blood brothers,
have this in common: that they lost their mothers
to heaven or a better man at the tender age of four –
the same age as Beatrice when they met us.
Like all my friends they brought her treats,
teased her sweetly or applauded her feats
so that I thought, how good – they are healed –
they are here with us grown ups on the other side.
Until I noticed how when Beatrice cried
the great racking sobs of a child who is tired,
or defeated, or strung out like straining wire,
these friends followed when I carried her to bed,
stayed for the story, the caressing of the head,
waited for the bottle, the curtains drawn across
on a room full of children and their irreparable loss.

Send this to a friend