Boekhoek: ’n Omgekeerde speurverhaal | Vrouekeur

Boekhoek: ’n Omgekeerde speurverhaal


Hans Fallada: Jeder stirbt für sich allein, in Engels Every Man dies Alone, waarop die onlangse fliek Alone in Berlin met Emma Thompson in ’n hoofrol gebaseer is

Speurverhale volg al die jare ´n wenresep: ´n Speurder, dikwels ´n alleenloper met drank- en vroueprobleme,´n geharde, gedissiplineerde man met ´n hart van goud, agtervolg ´n oortreder en trek hom uiteindelik vas. Die situasies en boewe verskil van boek tot boek, so ook die speurders se geite, maar die lesers hou daarvan om dieselfde formule in verskillende variasies teë te kom. In dié opsig is hulle soos liefdesverhale waar dieselfde storie hom keer op keer op ´n ander plek met ander karakters afspeel.

´n Groot deel van die genot wat lesers uit speurverhale put, is dat hulle uit die staanspoor weet die goeie gaan uiteindelik oor die slegte seëvier. Hulle kan die boek klaarlees en tevrede agteroorsit in die wete dat die wêreld, ten minste soos dit in die roman uitgebeeld word, regverdig en georden is.

Die roman Jeder stirbt für sich allein draai hierdie konsep egter om, en die leser moet harde bene kou voor die onvergenoeglike einde. Dis ´n speurverhaal uit die Naziryk en in Fallada se roman kry die antagonis se werkswyse en standpunt net soveel aandag as die protagonis s’n. Die geykte formules van speurverhale word hier omgeswaai: Waar krimi’s vertel hoe die (goeie) polisielede en speurders die geslepe (slegte) boef of moordenaar soek, agtervolg en uiteindelik vastrek en die goeie dus seëvier, is die (slegte) Gestapo hier op soek na die oortreder van die destydse wette, die (goeie) slagoffer. Die bose seëvier dus en die goeie swig voor die oormag van die negatiewe magte.
Toe die regisseur Billy Wilder in die vyftigerjare die fliek The Diary of Anne Frank gesien het, het hy op ´n vraag gesê dit was aangrypend en roerend, but I would like to know the adversary’s point of view. Dis ´n opspraakwekkende uitspraak, want die antagonis was die Nazi-regime.

Dis eintlik wat ons hier het: ´n storie gesien vanuit die slagoffer én die teenstander (adversary) se oogpunt.
Hans Fallada (skuilnaam van Rudolf Ditze) het Jeder stirbt für sich allein van September tot November 1946 (´n jaar ná die einde van die Twede Wêreldoorlog) geskryf en is in Februarie 1947, kort voor die boek verskyn het, oorlede. Hy het die roman op die waarheid gebaseer. Hy het werklike foto’s en dokumente van die Gestapo oor ´n egpaar as ´n raamwerk gebruik en ´n spannende roman geskryf oor hul patetiese poging om teenstand teen die Naziregime te bewerkstellig. Elise en Otto Hampel (in die roman is hul name effens verander) het van 1940 af poskaarte geskryf waarin hulle teen die Nazi’s en die oorlog te velde trek en hulle dan op openbare plekke neergesit met die hoop dat dit mense sou oortuig om hulle teë te sit. Hulle is in 1942 opgespoor en tereggestel.

Aanvanklik lees jy hoe dié eenvoudige werkers ´n brief kry wat hulle meedeel dat hul enigste seun in die oorlog gesneuwel het. Hulle is verpletter en Otto neem hom voor om iets teen die regime te doen. Hy beraam die plan om poskaarte te skryf en telkens op ´n ander openbare plek neer te sit. Hy is nie baie bedrewe nie en skryf een of twee moeisame kaarte per naweek en hy of sy vrou sit hulle iewers neer waar daar baie mense is en hulle nie aandag trek nie.

Intussen is kommisaris Escherich van die polisie wat onder die Gestapo ressorteer, besig om vlaggies op ´n kaart van Berlyn te steek op elke plek waar so ´n poskaart gevind is en hy probeer metodies om die oortreder te vind.
Die leser volg dus Otto en sy vrou se veldtog en terselfdertyd die speurder se soektog en weet presies wie sal moet swig.

Uiteindelik begaan Otto ´n fout en twee onafgelewerde poskaarte val oop en bloot op die grond by sy werksplek. Dit is dan natuurlik die einde van sy veldtog. En van sy en sy vrou se lewens. Die kommisaris sien in Otto se houding hoe hy self in ´n moordenaar en booswig verander het en pleeg selfmoord. Hy is die enigste persoon wat Otto oortuig het – die mense wat die poskaarte gevind het, was doodbang om self betrek te word en het hulle feitlik ongelees aan die owerhede oorhandig.

In 1946 was die gruwels van die Nazityd nog helder in die skrywer se geheue en die roman verskaf ´n angswekkende blik op die vrees wat alles oorheers het. Bure kon mekaar nie vertrou nie, familielede het mekaar by die SS of die Gestapo verkla, ´n niksseggende gesprek kon tot ´n gevangenisstraf of erger lei. Dit is moontlik die rede hoekom Fallada so vinnig so ´n omvattende roman kon skryf: Die uitmergelende oorlog en die fascistiese regime was nog helder in sy geheue.

Hier is uittreksels uit ´n gedig wat Breyten Breytenbach geskryf het toe hy in eensame aanhouding in ´n Suid-Afrikaanse tronk was. Hy was sewe jaar in die tronk en twee daarvan in eensame aanhouding.
(Jou brief is wonderlik)

….
ek het in groen weivelde geslaap
ek het op die rand van die dal van doodskaduwee
in die laaste nagwaak
gelê en luister hoe die veroordeeldes
deur gange in die grond gelei word,
hoe hulle sing
met die asems in die monde
soos inwoners wat op vertrek staan
omdat die stad brand, hoe hulle sing
met die asems soos boeie,
hoe hulle sing,
hulle wat van die donker in die lig gaan spring
hulle wat gepos gaan word na ‘n bestemminglose adres,
en ek het die onheil gevrees
die tafel voor my aangesig teenoor my teënstanders
is leeg, ek het as op my hoof,
my beker is leeg,
….
ek sal aan jou woorde aan die lug hang,
gee dat ek in jou brief mag woon
in lengte van dae

Send this to a friend