Boekhoek: Boekverloor se vlaktes | Vrouekeur

Boekhoek: Boekverloor se vlaktes

Om 11 uur op die 11de dag van 11de maand 100 jaar gelede (11 November 1918) het die Eerste Wêreldoorlog ten einde geloop. Maar dit weet almal natuurlik – as jy dit nie weet nie, kan ek net vra waar was jy, wat het jy gelees of op TV gesien?

Ek het kaartjies vir ´n Celebration-konsert in die Linder Ouditorium in Johannesburg gekoop – wat om 11 uur op die 11de van die 11de 2018 plaasgevind het. Ter voorbereiding wou ek my boek met foto’s en gedigte van die Eerste Wêreldoorlog weer plegtig deurlees en aanskou. Maar so wragtie, ek kan dit nêrens vind nie! Die beste geleentheid om met dié pragtige boek die oorlogsgebeure te herleef, is daarmee heen.

So gaan dit mos maar met boekmense – jy raak so geheg aan bepaalde digbundels en romans dat jy skoon omgekrap is as hulle nie is waar hulle hoort nie. En dan staan hulle ewe skielik presies waar jy keer op keer gesoek het. Of nie.

Ek leen graag boeke uit, of eerder, al hoe minder graag omdat hulle te dikwels nie terugkeer nie. Ek dink ek weet wie dit heelhuids en spoedig sal teruggee, maar al te dikwels misgis ek my. Hulle stry dat ek dit vir hulle gegee het, of glo vas dat hulle dit wel teruggegee het. Maar ek weet wat ek weet.

Ek het ook die gewoonte om boeke na tweedehandse-winkels te neem – hersiklering is my tweede naam – maar verbrands as ek dan tog iets weer wou naslaan en weet ek het ´n bepaalde boek self boekveld toe gestuur! Weg is nou maar weg.

Wat ook baie erg is, is as jy mal is oor ´n skrywer en die jongste boek ten duurste gaan koop as ´n geskenk vir ´n vriendin (en eintlik wil jy dit self bitter graag hê) en sy sê liefies dankie en sit dit eenkant neer en LEES DIT NIE! Jy kry al ´n sinking feeling as sy dit uitpak en nie eers daarin blaai of daaroor streel of iets oor die skrywer sê nie.

Maar dit bitterste is as sy dan jare later vir jou vertel van dié wonderlike boek waaroor iemand in ´n boek of artikel aangaan en met knersende tande moet jy haar meedeel dat sy dit self besit omdat jy dit vir haar gegee het. Uit hoflikheid sê jy nie dat jy uit spaarsamigheid maar self die biblioteekboek moes lees en weer teruggee, wat geheel en al nie dieselfde is as om jou eie kraakvars boek te lees en op jou eie rak te sit nie.

Of iemand leen jou boek en kom later skaam-skaam, of nog erger, blatant, vir jou sê dat sy koffie op jou boek gemors het – die einste boek wat jou dogter met haar eie hande vir jou gekoop het! Dan koop sy ´n ander een, wat glad nie soos joune lyk nie, en is heel trots op haarself dat sy so vrygewig is. Jy vat die boek dikbek en sit in die agterste ry van jou boekrak, al was jy besonder lief daarvoor.

Ek is jammer om dit te sê, maar boeke maak ´n feeks van my. Moet dus nie verbaas wees as ek nie ´n boek wil uitleen nie. Dis ter wille van my (en moontlik ook jou) selfbehoud.

Hierdie blog kan nie anders as om met Polonius se raad aan Laertes in Hamlet af te sluit nie:

Neither a borrower nor a lender be;
For loan oft loses both itself and friend,
And borrowing dulls the edge of husbandry.
This above all: to thine ownself be true,
And it must follow, as the night the day,
Thou canst not then be false to any man.

Send this to a friend