Boekhoek: Flanagan se visse

boekhoek

Richard Flanagan se Man Booker-wenner The Narrow Road to the Deep North van 2014 (die titel is ´n mondvol en ek noem dit sommer Hardepad) handel oor die Australiese oorlogsgevangenes wat aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog ´n spoorlyn onder die haglikste omstandighede in die huidige Thailand moes bou. Hulle is soos slawe behandel, deur die Japanse wagte mishandel en moes sonder medisyne en met karige rantsoene probeer oorleef.

Margot Pakendorf-Schultz

Een van die karakters, Darky Gardiner, praat obsessief oor ´n vistenk by Nikitaris se eetplek waar hy en sy vrou altyd gaan eet het. Sy grootste begeerte is om die visse te gaan bevry wat daar in die tenk rondswem terwyl die mense voor hulle sit en vis eet. Vir hom is hulle net sulke gevangenes soos hy en sy kamerade. ´n Paar van sy pelle breek toe ná die oorlog, toe hy al doodgemartel is, by die eetplek in en gaan gooi die visse in die see. Die gesprek wat hulle later met Nikitaris het, is bevrydend en lig die trauma effens vir hulle.

Die leeskring waaraan ek behoort, praat in Desember oor Hardepad, en oudergewoonte lees ek ook ander boeke van dieselfde outeur wat ek toevallig (en nie so toevallig nie!) besit. Gould’s Book of Fish; a novel in twelve fish het in 2001 verskyn, die Statebond-prys in 2002 gewen en wêreldwyd opslae gemaak (behalwe in Suid-Afrika, waar niemand nog daarvan gehoor het nie en ek het dit net met ´n gelukslag vir R15 by ´n liefdadigheidswinkel in die hande kon kry).

Daar was werklik iemand met die naam William Buelow Gould wat in die 19de eeu na die destydse strafkolonie Van Diemensland verban is en daar visse en blomme en ander dinge geskilder het. Sy boek met visskilderye word in ´n museum in Australië bewaar. Die roman het ook mooi afbeeldings van dié visse op die omslag en tussen die hoofstukke. Gould was ´n vervalser, liegbek, dief, alkoholis en moontlik ´n moordenaar wat keer op keer die geleentheid gekry het om vry te wees en dan weer oortree het en ingeperk is.

Die roman is eintlik die vertelling van Sid Hammet, ook ´n vervalser en bedrieër, wat volgens hom op ´n ander uitgawe van Gould se visboek afkom, een met aantekeninge oor sy lewe op verskillende tye en uiteenlopende materiale geskryf, selfs goiing en lap, met ink van ´n inkvis, sy eie bloed en so meer. Dié boek, vertel hy, het magiese eienskappe: Toe hy die laaste bladsy in ´n kroeg gelees het, gaan hy badkamer toe, en toe hy terugkom, is die kelner besig om die water waarin die boek verander het, op te vee. Die roman bestaan hoofsaaklik uit ´n poging om die fragmente wat hy gelees het, weer te gee. Dis wat Hammet beweer, maar hy is ook ´n bedrieër en liegbek en so weet die leser nie wie se lewe daar opgeteken is nie en twyfel eintlik of enigiets daaromtrent waar is.

Die boek herinner aan Tristram Shandy en die karakters aan Dickens. En eintlik ook aan Hardepad: die gevangenes word mishandel, leef soos slawe en is uitgelewer aan die giere en buie van die wagte. Hulle moet ook ´n spoorlyn op Sarah-eiland bou en die oerwoud uitkap, al is daar nêrens waarheen die trein kan ry nie oor dit so ´n klein eiland is en dit net in ´n sirkel kan beweeg. Dis baie snaaks en aweregs én slim geskryf. Nie net die gevangenes is vol stories en slenters nie (nogal soos dié in Hardepad), maar die kommandant en surgeon en wagte en handlangers van die gereg is ook uiters eienaardig – so asof almal nie reg wys is nie.

Gould is op Sarah-eiland, wat van 1822 tot 1833 as gevangenis vir geharde oortreders gebruik is en berug was as die “harshest penal settlement in the Australian colonies” soos Wikipedia sê, in ´n sogenaamde saltwater cell aangehou – as dit lae gety is, staan hy op droë grond in sy voetboeie, maar as dit hooggety is, moet hy aan balke hang om nie te verdrink nie. Dis daar waar hy glo sy aantekeninge maak en die visse oorteken. Hy hou hom so met visse besig dat hy later self een word: “My tragedy was that I became a fish”, sê hy aan die einde. Die boek is dus so aweregs dat die evolusie op sy kop gekeer word: ´n mens kry kieue en skubbe en gaan terug water toe omdat hy hom so in hulle ingeleef het.

Hier volg ´n uittreksel uit die gedig is Glaukus klim uit die water, wat DJ Opperman geskryf het nadat hy van ´n koma na volle bewussyn teruggekeer het, dus die omgekeerde van wat glo met Gould gebeur het:

Hy skud die skubbe en die druppels af

en lig hom teen ´n vin

die vaste wêreld in.

En uit vier knoppe van die selakant

knop

voet na voet

hand na hand

kruip en waggel ek orent

langs die eersterivier

deur bos en tussen oorblare van die olifant

oor ´n wankelplank…

Klim in ´n groot wit bad,

was af die slym,

dep met ´n handdoek droog,

trap versigtig,

o altyd so versigtig

vir die gly,

vir die terugglip tot vis,

tot jakopeweroog.

Send this to a friend