Boekhoek: Giorgio Bassani: The Garden of the Finzi-Continis

boekhoek

Hierdie boek staan al baie lank op my rak ongelese boeke. Ek was maar lugtig om dit te lees, want ek weet dit gaan oor Jode wat in die Tweede Wêreldoorlog in ´n konsentrasiekamp dood is, en dis nie vreeslik opbeurende leesstof nie.

Margot Pakendorf-Schultz

Maar nou het ek dit wel gelees, en ek kan met oortuiging sê dis ´n boek wat jou bybly. Dis glad nie ´n gewone Joodse-slagoffer-boek nie.

Heel aan die begin en heel aan die einde noem die verteller dat die hele Finzi-Contini-familie (behalwe die oudste seun, Alberto, wat voor die tyd aan kanker dood is) in 1943 in Duitse konsentrasiekampe gesterf het. Dis al.

Die roman gaan hoofsaaklik oor ´n kort tydjie, sowat ´n jaar, in die lewe van die ryk Finzi-Continis in hul enorme villa met die uitgebreide tuin en tennisbaan, wat hulle heeltemal van die res van Ferrara afgesonder het. Hulle het agter hoë mure gewoon, die kinders Micól en Alberto het tuisonderrig geniet en net vir die jaarlikse eksamens na die dorp se skool gegaan. Verder het die verteller, wie se naam ons nooit leer ken nie, hulle net by die sinagoge gesien.

Die roman gaan in groot mate oor afsondering en afskeiding: selfs in die sinagoge is daar verskillende verdiepings waar die onderskeie geloofsgroepe aanbid. In die “Italiaanse” groep sit die Finzi-Continis altyd agter die verteller en sy pa, terwyl die vrouens en dogters (afgesonder) eenkant deur hortjies loer. Terwyl die rabbi die laaste seën uitspreek, hou die pa’s hul biddoek oor hul hele gesin se koppe, vrouens inkluis (ook weer ´n in- en uitsluiting!), en die verteller loer deur die gaatjies in sy familie se biddoek na die kinders agter hom en hulle (onder hul pa se biddoek) na hom.

In die herfs van 1938, met die instelling van die fascistiese rassewette wat onder andere verbied het dat die Jode aan die dorp se tennisklub te behoort, maak die Finzi-Continis vir die eerste keer hul groot hek oop sodat jongmense daar kan gaan tennis speel. Die weer speel saam en dis lank sonnig en aangenaam. Dit is interessant dat die naderende oorlog en die gebeure rondom die uitbreek van die oorlog so te sê geen rol in die verhaal speel nie. Die rassewette wat teen die Jode gemik is, word half as ´n onderskeiding en die wetstoepassers as onopgevoede barbare beskou. Italië was ook fascisties en pro-Nazi (selfs die verteller se pa was ´n lid van die fascistiese party, maar met die rassewette is sy lidmaatskap weggeneem – hy beskou dit as ´n klap in die gesig en nie as ´n naderende onheil nie).

Die eintlike spilpunt in die verhaal is Micól, die pragtige dogter van die Finzi-Continis, en haar houvas op die verteller. Sy lei hom deur die tuin en hou hom aan ´n lyntjie. Dis asof dit ´n tuin van Eden is waar die jongmense tennis speel, maar hul ontluikende seksualiteit is steeds in die agtergrond. Dit word verpersoonlik deur Alberto se vriend Malnate, ´n kommunis wat nie Joods is nie, ouer as die ander en reeds ´n werkende man wat nie skaam is om oor sy ondervinding met prostitute te praat nie – hy is dus ´n egte buitestaander. Die verteller word keer op keer deur Micól afgewys en hy vermy die tuin en sy mense later heeltemal. Net eenmaal nog klim hy oor die muur en loop deur die nagtelike tuin – en die sterk vermoede dat Malnate ook daar is en met Micól verkeer, vat by hom pos. Dis asof hy die slang in dié afgesonderde Eden is.

Heel gepas het Micól haar tesis oor Emily Dickinson geskryf – ook ´n afgesonderde oor wie ´n mens min weet. Dus is die blog se gedig een van haar gediggies sonder titel:

This was in the white of the year,

That was in the green,

Drifts were as diffcult then to think

As daisies now to be seen.

Looking back is best that is left,

Or if it be before,

Retrospection is prospect’s half,

Sometimes almost more.

Send this to a friend