Boekhoek: Irène Nemirovsky: Suite Française en The Misunderstanding

boekhoek

Dit was ´n uitsonderlike belewenis vir my om Suite Française deur Irène Nemirovsky onlangs in die Duitse vertaling te lees.

Margot Pakendorf-Schultz

Dit speel soos ´n ooggetuieberig van die oorlog in Frankryk van 1940 tot 1942 voor jou af, en wat dit besonder skrynend maak, is dat jy in die voorwoord kan lees dat die skryfster nie die einde van die oorlog beleef het nie. Sy is op 13 Julie 1942 gevange geneem omdat sy glo ´n Jodin en ´n uitlander was (hoewel sy Rooms-Katoliek en beroemd was vir haar Franse boeke) en het op 17 Augustus 1942 in Auschwitz gesterf.

Die boek eindig dus ook amper stomp, en ´n mens lees dat sy benewens die twee novelles waaruit die boek bestaan, nog drie ander beplan het. Desnieteenstaande is dit ´n wonderlik afgeronde stukkie werk as jy in ag neem dat sy nog dae voordat die polisie haar kom haal het, daaraan gewerk het.

Haar dogters Denise Epstein en Élisabeth Gille, self ´n bekende skryfster, is in die sorg van ´n oppasster gelaat en hulle het die oorlog oorleef deur in kelders en Katolieke koshuise te skuil. Hulle het ´n tassie van hul ma oral saamgeneem, maar wou nie wat hulle gemeen het hul ma se dagboek is lees nie, totdat Denise agtergekom het dit was ´n manuskrip. Suite Française het in 2004 vir die eerste keer verskyn

Irène Nemirovsky is op 11 Februarie 1903 in Kiëf gebore – sy was dus nog nie 40 jaar oud nie toe sy orlede is! – as dogter van ´n ryk Russiese bankier en ´n ma wat haar verwaarloos en geïgnoreer het. Hulle moes in 1918 tydens die Oktoberrevolusie van hul weelderige huis in Sint Petersburg vlug en al hul besittings agterlaat. Hulle het hulle in Parys gevestig en weer vermoënd geword. Sy het met nog ´n ryk bankier, Michel Epstein, getrou en hulle het twee dogters gehad.

Irène het van kleins af Frans geleer en omdat sy as enigste kind sonder geselskap grootgeword het, het sy baie gelees en vroeg al begin skryf. Kortverhale van haar het al vroeg in tydskrifte verskyn, maar haar eerste gepubliseerde roman was Le Malentendu, wat sy op 18-jarige ouderdom geskryf het en in 1926 verskyn het. David Golder, wat in 1929 verskyn het, het haar egter regtig beroemd gemaak. Daar is selfs ´n rolprent daarvan gemaak. Dis interessant dat dit eintlik baie anti-Semities is, en in baie van haar boeke word Jode negatief uitgebeeld, hoewel sy self Joods was. Sy word ´n “self-hating Jew” genoem.

Toe ek nog verslae en ontsteld was deur Suite Française, het ek toevallig op die Engelse vertaling van Le Malentendu afgekom (The Misunderstanding): Ek het dus haar eerste en laaste boek gelees. Dis moeilik om te glo dat so ´n jong vrou The Misunderstanding geskryf het, maar sy was natuurlik toe al jare lank aan die skryf. Sy teken die liefdesverhouding tussen ´n ryk, bedorwe getroude vrou en ´n man wat al sy geld verloor het en sukkel om met sy geld uit te kom, so sekuur asof sy al jare se lewenservaring het.

Terugskouend kan ´n mens amper sê dat sy alles wat ander oor jare doen, in haar kort leeftyd ingepas het. Daar is ook ´n sirkelgang in haar lewe: Sy was ryk, toe weer arm, toe weer ryk, en uiteindelik brandarm; sy moes uit Rusland en later weer voor die besetting van Parys vlug totdat daar geen uitkoms meer was nie en die Nazis die laaste sê gehad het.

Die uittreksel uit die gedig by dié blog gaan dus oor tyd en die sirkelgang van die lewe.

Uit BURNT NORTON

Time present and time past

Are both perhaps present in time future,

And time future contained in time past.

If all time is eternally present

All time is unredeemable.

What might have been is an abstraction

Remaining a perpetual possibility

Only in a world of speculation.

What might have been and what has been

Point to one end, which is always present.

Footfalls echo in the memory

Down the passage which we did not take

Towards the door we never opened

Into the rose-garden. My words echo

Thus, in your mind. – TS Eliot

Send this to a friend