Is sjokolade se dae getel?

Kenners waarsku dat ons in die volgende 30 jaar nie meer aan sjokolade gaan smul nie …

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Die lekkerte van sjokolade … Ons almal ken hierdie bederf. Kan jy jou lewe daarsonder voorstel?

Blykbaar gaan ons oor die volgende 30 jaar moet, want kenners sê die kakaoplant word ernstig deur aardverwarming bedreig.

Die kakaoboom gedy in reënwoudtoestande en soek die hewige reënval van die ewenaargebied. Die klimaat word al hoe warmer, wat droër grondtoestande beteken en ‘n temperatuurverhoging van slegs 2,1 °C oor die volgende 30 jaar as gevolg van aardverwarming kan die einde vir die sjokoladebedryf beteken.

Dit is volgens die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie. Boere in lande soos die Ivoorkus en Ghana, wat meer as die helfte van die wêreld se sjokolade produseer, moet nou besluit of hulle kakaoproduksiegebiede na berggebiede moet skuif. Maar so ‘n groot skuif kan weer ekostelsels bedreig.

Die tipiese Westerse verbruiker eet gemiddeld 286 sjokoladestafies per jaar. Vir elke 286 stafies, moet daar tien kakaobome geplant word. Volgens ‘n artikel op www.metro.co.uk gaan ons in die volgende paar jaar ‘n tekort van ongeveer 100 000 ton sien.

BRON: http://metro.co.uk

Send this to a friend