Ma van die jaar: Tierma? Of net ’n lammetjie?

Ma van die Jaar skryf hierdie week oor tierma’s, want een tierma se kinders is Gauteng-atlete en Cravenweek-spelers, terwyl haar eie kroos verward lyk as ’n bal voor hulle beland

Ek het ‘n vriendin wie se kinders briljanter, talentvoller en natuurlik sportiewer as my eie kroos is. Ek gaan nie eens vir julle lieg nie, ek is so effens jaloers. Ek meen haar kinders is Gauteng-atlete en Cravenweek-spelers, terwyl myne (weliswaar die coolste kinders in die heelal) verward lyk as ‘n bal voor hulle beland.

Goeie voorbeeld: Ek het al my dogter ‘n hokkiedoel vir ‘n ander span sien slaan en sy het dit nie eens besef nie. As my seunskind veldwerk op die krieketbaan doen, staan en droom hy en waai vir my terwyl die bal verby hom rol. Die ander ouers gil en jil en ek waai maar bedroë terug. Wat kan mens anders doen?

Ek verwyt nie my kinders nie, nee wat, ek en hul pa lag (met ‘n traan) en ek blameer my eie onsportiewe gene.

Ek sit veel eerder op ‘n bank met ‘n boek voor ek ‘n fiets bestyg of nog erger, draf. Ek vermy daardie tipe hel en voel die lewe is heeltemal te kort om  jouself so uit te mergel. Dis nie dat ek nie van sport hou nie; inteendeel, ek hou daarvan om daarna te kyk en ek werk hard aan my Superbru-keuses. Maar om dit self te doen, is iets heeltemal anders.

My oudste (die “gelukkige” wenner van my gene) begin heel ywerig met ‘n nuwe sportsoort, maar nes die toerusting en klere oud raak en die sweet op haar voorkop pêrel, besef sy dit is nie vir haar nie. “Nee, wat, Mamma, ek sal iets anders probeer …”

Die eintlike kwessie waaroor ek vandag skryf, is nie my diepe hartseer dat my kinders bes moontlik nie eendag Springbokbaadjies gaan dra nie, nee, ek wil oor tierma’s skryf. Die voor- en nadele.  

Ken julle tierma’s?

Prof Amy Chua het in 2011 die begrip met haar boek Battle Hymn of the Tiger Mother bekend gemaak.  Amy, self briljant en die produk van tierouers, het haar kinders van kleins af gedruk. Hulle kon nie TV kyk, speletjies speel of selfs by maats oorslaap nie. Hulle moes altyd eerste in die klas gestaan het, net A’s gekry het en moes vir ure op ‘n slag klavier en viool geoefen het.  

Tierma’s (en natuurlik kry jy sulke pa’s ook) plaas ‘n groot klem op prestasies en verwag niks minder as briljantheid van hul kinders nie. Hierdie kinders het gewoonlik nie ‘n sê in wat hulle wil doen nie.

 “Natuurlik is ek ‘n tierma,” erken die vriendin trots toe ons daaroor gesels: “Ek werk hard aan my kinders se toekoms. Ja, hulle het baie talente, maar as ouers moet ons hulle help om dit te ontwikkel.”

Haar kinders vlieg van die een aktiwiteit na die ander in die middag (waarin hulle uitblink) en staan douvoordag op vir privaat atletieklesse voor skool.

Hulle kla ook maar, erken hul ma, watter kinders sal nie, maar hulle besef dat hulle met harde werk ver gaan kom en hul drome is so groot dat dit selfs hul tierma verras.

Die tierma-storie het my oor my eie mawees laat dink. Ek moet erken ek is soms wel ‘n tierma, veral wat akademie betref. Ek verwag van my kinders om hul bes te doen en hard op skool te werk . Ek dwing hulle egter nie in te lang studie-ure nie, ek glo daar moet balans wees en vrek, hulle is darem nog in die laerskool.  

Al aktiwiteit wat ek werklik afdwing, is my oudste se klavierlesse. Sy wou met alle mag klavier leer speel, het mettertyd belangstelling verloor, maar ek het vir haar gesê sy sal aanhou oefen tot sy ten minste Beethoven se Maanligsonate vlot kan speel. Mag dit asseblief net spoedig gebeur.

Ons versoek ook darem die kinders om elke jaar aan minstens een sportsoort deel te neem, want daar moet darem bietjie geoefen en spangees gekweek word. Kultuurgewys weier my kleinste botweg om enigiets te doen en ek laat maar Godswater oor Godsakker loop. Ek weet nie of ek hom (hulle) moet dwing om enigsins aktiwiteite te doen nie. En ek moet eerlik wees, soms pas dit my as hulle nie aan dinge wil deelneem nie, want 1, dit spaar my geld en 2, dit spaar my tyd.

Ek dink daar is wel voordele daaraan om ‘n tierma as ma te hê. Hulle leer hul kinders om verantwoordelik en produktief te wees en hard te werk vir dit wat hulle wil bereik. Die nadeel? Ek dink dit kan kinders afsit van dit waar hulle ingeboelie word. Dalk net plaas dit te veel druk op hulle wat angstigheid kan veroorsaak en hulle bes moontlik van kindwees beroof.

Hoewel ek soms die heks van Endor soos ‘n VLV-tannie laat lyk, is  my ouerskapstyl steeds meer demokraties as outokraties. Kinders moet natuurlik self ook besluite kan neem en as ouers moet mens dit respekteer.

Elke ma dink mos haar donkie is ‘n resiesperd en my twee resiesperde wen hul eie July by die huis, want natuurlik is hulle die wonderlikste kinders in die wêreld – al is hulle en hul ma ewe bang vir ‘n bal. Waar lê hierdie ma in die dierekoninkry, vra hy? Wel, ek is dalk nou nie heeltemal ‘n tierma nie, maar ek moet bieg: Soms is ek ‘n draak, soms ‘n lammetjie en soms ‘n leeu.

Send this to a friend