Kuns: Judith Mason

Johan Myburg skryf oor die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Judith Mason.

Johan Myburg

In 1964 het Judith Mason haar eerste solo-uitstalling in Johannesburg se Gallery 101 aangebied. Sy was 26 en ’n jong lektor in kunsgeskiedenis aan Wits.

Judith Mason
Judith Mason

Vyftig jaar later is Mason steeds aan’t kuns maak (sien haar kunswerke hieronder) – skilderye sowel as grafiese drukwerk hoofsaaklik van diere en mensfigure of fragmente daarvan in haar kenmerkende sober lynwerk en kleurgebruik. En 50 jaar later verwag sy steeds van ’n skildery om meer as ‘mooi’ te wees. ‘’n Kunswerk moet iets dringends in hom ronddra’, glo sy. ‘Soos die dringendheid van ’n telegram.’

In ’n ontredderde laat-20ste en vroeg-21ste eeu besit Mason voelhorings waarmee sy  haar tyd lees en weergee. Met omsigtigheid, wat nie met skroomvoetigheid verwar moet word nie, registreer sy benewens die skade wat mense mekaar kan aanrig ook die kwaliteite wat die goedheid in mense wys – soveel te meer in die omgewing van onreg en kwaad.

Singer
Een van Judith Mason se
litografieë in vyf kleure,
Singer (70 x 51 cm) is be-
skikbaar in ’n oplaag van
25 by The Artists’ Press.

In die Konstitusionele Hof in Braamfontein in Johannesburg hang een van die duidelikste getuienisse hiervan. Die driedelige The Man who Sang and the Woman who Kept Silent (1998), twee olieverfwerke weerskante van ’n plastiekrok aan ’n hanger, het Mason gemaak na aanleiding van twee verhale waarvan sy op die radio gehoor het ten tye van die Waarheids-en-versoeningskommissie. Dis ’n werk waarin sy ‘die klein heroïese gebare van mense’ besing.

Die verhale is dié van Herold Sefola wat gevra het om ‘Nkosi Sikelel’ iAfrika’ te sing voordat hy doodgeskiet is, en die ander is dié van Phila Ndwande, ’n vrou wat as deel van haar marteling tien dae lank naak ondervra is en daarna in ’n knielende posisie geskiet is.

Mason (links)Mason (middle)Mason (regs)
Judith Mason se driedelige werk The Man Who Sang and the Woman Who Kept Silent: links
in olie op doek (166 x 122 cm), in die middel die installasie (200 x 70 x 45 cm) en regs in olie
op doek (190 x 160 cm), 1998. Dié werk is in die versameling van die Konstitusionele Hof in
Johannesburg. Kopiereg: Judith Mason.

Om haar naaktheid te bedek het Ndwanda vir haar ’n broekie van blou plastieksakke gemaak.
Ndwande se liggaam, met die broekie aan, is in ’n vlak graf gevind. Mason was so aangegryp dat sy terstond ’n rok van blou plastieksakke gemaak het met ’n brief aan Ndwande daarop.

Dié rok is die sentrale deel van die triptiek. ’n Blou rok is eweneens deel van die ander twee dele van die werk. Daar lyk dit asof die rok hang aan die ogiesdraad wat terselfdertyd lyk asof dit ’n roofdier net-net in toom kan hou. In die een werk het die dier (as simbool van ‘duister magte’) ’n stuk van die rok beetgekry terwyl die ander werk drie brandende konkas en ’n emaljebeker verbeeld.

Dié werk is deel van die Konstitusionele Hof se permanente kunsversameling.

The Artists’ Press

Mason se grafiese drukwerk is in beperkte oplaag beskikbaar by die The Artists’ Press net buite Witrivier.

Die kundigheid van Mark Attwood (meesterdrukker en direkteur), Tamar Mason (bemarker en mededirekteur) en Jacky Tsila (oplaagdrukker) verseker jare lank al die keurigste handgedrukte kunswerke deur die voorste Suid-Afrikaanse kunstenaars.

The Artists’ Press spesialiseer in litografie. Elke drukwerk is ’n oorspronklike kunswerk.
’n Nuwe reeks van Mason se litografieë is tans beskikbaar by The Artists’ Press se webwerf.

Lees ook meer oor Judith Mason op haar webwerf en besoek ook haar Facebook-profiel.

Send this to a friend