Klassieke klanke: Gerrit Jordaan

Gerrit Jordaan, tydelike orreldosent en vir ses jaar navorsingsgenoot aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom en deesdae vryskut-konsertorrelis, het vroeër vanjaar die geleentheid gehad om deel te neem aan Klang-Zeit, ‘n reeks konserte van hedendaagse musiek in die Duitse stad Münster.

JOHAN MYBURG

Dié uitnodiging het gekom ná Europese konserttoere wat hy in 1998, 2000 en 2007 onderneem het. Jordaan se uitvoering in die slotkonsert was op die St. Lambert-kerk se Schuke-orrel. Met “Neue Heimat” (nuwe tuiste) as die tema vanjaar het hy werk daar gespeel van Stefans Grové, Kevin Volans en Surendran Reddy.

“Ek probeer altyd Suid-Afrikaanse orrelmusiek uit verskillende hoeke belig,” sê Jordaan. “Kevin Volans se “Walking Song” is byvoorbeeld geïnspireer deur delikate riet-ensemble musiek, of Surendran Reddy se werke wat ‘n mengsel van klassieke- en jazz-elemente (‘n styl wat hy “clazz” noem) bevat, of Bongani Ndodana-Breen se “But there went up a mist…” wat verwys na die mens se oorsprong in Afrika. Dit bly ‘n opwindende soektog om geskikte nuwe Suider-Afrikaanse musiek te vind, wat ek gewoonlik kombineer met werke uit die klassieke repertorium.”

Die klassieke repertorium is waarin hy as student onder leiding van Stephanus Zondagh en Wim Viljoen onderlê is. Sy doktorsgraad het hy aan die NWU verwerf met Daleen Kruger as studieleier.

Maar benewens Bach en Buxtehude speel hy ook graag werke van komponiste soos Henk Temmingh, Jeanne Zaidel-Rudolph en Michael Blake. As student was hy deel van Obelisk, ‘n groep Pretoria-musikante wat gereeld nuwe Suid-Afrikaanse werke uitgevoer het. “So het ek Stefans Grové se orrelmusiek leer ken. Dit was ‘n groot uitdaging om hierdie musiek in te studeer, maar van al die projekte wat ek al aangepak het, was hierdie seker die lonendste. Grové se besondere musiek is die rede dat menige katedraalorrel-sleutels al in my hand geplaas is.”

Volgens Jordaan gebruik Grové die orrel subtiel om die atmosfere van ons vasteland te verklank – soos die misterie van die nag, of die ontwaking van die dag met ‘n polifonie van voëlsang. “Hy boots instrumente na soos die eensnaar-musiekboog of die oorverdowende trom-ensemble. Hierdie werke het my laat soek na ander Suid-Afrikaanse orrelmusiek – musiek wat oor ‘n eie identiteit beskik.

In ‘n tyd waarin orrelstudente wêreldwyd afneem en kerke maklik van die orrel ontslae raak en eerder van alternatiewe begeleiding gebruik maak, is Jordaan nie negatief oor die toekoms van die orrel nie. “As ek op Facebook kyk na wat alles op die orrelfront in die land gebeur, onder jong orreliste uit verskillende gemeenskappe, lyk die prentjie glad nie so duister nie. Die internet het dit moontlik gemaak vir eendersdenkendes om as groep te kommunikeer en mekaar te inspireer om hierdie vlam brandend te hou.”

Boonop beskik Suid-Afrika oor ‘n orrelkultuur met ‘n rykdom van noemenswaardige instrumente, nuut en histories. “Internasionaal bekende orreliste besoek steeds graag ons land,” hou hy vol. “In Afrika is daar ook orrelkulture, veral noemenswaardig is Nigerië waar orrelkomponiste al meer as vyf generasies floreer.”

Jordaan is voorsitter van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (Sakov), ‘n liggaam wat hom beywer vir die bevordering van Protestantse kerkmusiek in die Afrikaanse kerke en funksioneer as ‘n professionele liggaam in belang van die kerkorrelis (www.sakov.org.za).

 

 

Gerrit Jordaan besig met ‘n meesterklas in Ijsselstein, Nederland, in Oktober 2015.

Gerrit Jordaan agter die Verschueren-orrel in die Amsterdamse Orgelpark (www.orgelpark.nl).

Hier is die volledige onderhoud met Gerrit Jordaan:

Orrelmusiek word alom vereenselwig met kerkmusiek. Dink jy dit is omdat orrels hoofsaaklik in kerke aangetref word?

Dit is so dat die orrel vandag veral met kerkmusiek geassosieer word, maar die orrel as instrument kom ‘n lang pad – dit het al in die Romeinse ryk vóór Christus bestaan. Aanvanklik is die ‘hidrolis’ (‘n orrel waarvan die lugdruk met water gereguleer is) gebruik vir musiek tydens banket-geleenthede, met openbare spele of tydens sirkus-opvoerings. Tot keiser Nero het dié instrument bespeel.

In ons Suider-Afrikaanse konteks is die rietfluit-ensemble (wat eie is aan verskeie inheemse groepe se musiek, waar ‘n groep spelers elk een toonhoogte produseer op ‘n fluit of riet en saam melodieë met begeleiding produseer) ook ‘n soort ubuntu-orrel.

Is daar in Suid-Afrika ‘n waardering vir orrelmusiek in kerke’n Benewens begeleiding?

Ek sou droewige statistieke kon aanhaal van hoe orrelstudente wêreldwyd verminder en hoeveel kerke die orrel verkoop en eerder van alternatiewe begeleiding gebruik maak, maar ek stel nie daarin belang nie. Dit is jammer as ‘n goeie orrel uitgegooi word. ‘n Orrel sou die kroon kon span as dit as orkes-instrumente gebruik word – dink maar aan Saint-Saëns se Orrelsimfonie of Muse se Meglomania.

As ek op Facebook kyk na wat alles op die orrelfront in die land gebeur, onder jong orreliste uit verskillende gemeenskappe, lyk die prentjie glad nie so duister nie. Die internet het dit moontlik gemaak vir eenders-denkers om as groep te kommunikeer en mekaar te inspireer om hierdie vlam aan die brand te hou.

Is daar in Suid-Afrika ‘n waardering vir orrelmusiek buite kerke?

Die orrel as konsert-instrument se gewildheid het ook plaaslik sowel as internasionaal afgeneem. Oor die eeue heen het die orrel verskeie kere insinkings in populariteit beleef, komponiste soos Mozart en Beethoven het byvoorbeeld slegs enkele werke vir orrel geskryf, al was albei in ‘n stadium orreliste aan die hof. Suid-Afrika beskik oor ‘n orrelkultuur met ‘n groot rykdom van noemenswaardige instrumente, nuut en histories. Boonop besoek internasionaal bekende orreliste steeds graag ons land. In Afrika is daar ook orrelkulture, veral noemenswaardig is Nigerië waar daar orrelkomponiste al oor vyf generasies floreer.

As ‘n mens dink aan musiek vir die orrel is dit gewoonlik dié van Bach en Buxtehude wat by jou opkom. Benewens jou voorliefde vir musiek uit die Barok (en ook die Romantiek) is jou belangstelling in nuwe musiek vir die orrel. Hoe het dié belangstelling ontwikkel?

As student was ek deel van die Pretoriase groep musikante Obelisk wat gereeld nuwe Suid-Afrikaanse werke uitgevoer het. So het ek Stefans Grové se orrelmusiek leer ken. Dit was ‘n groot uitdaging om hierdie musiek in te studeer, maar van al die projekte wat ek al aangepak het, was hierdie seker die lonendste. Hierdie besondere musiek is die rede dat menige katedraalorrel-sleutels al in my hand geplaas is.

Grové gebruik die orrel subtiel om die atmosfere van ons kontinent te verklank – soos die misterie van die nag, of die ontwaking van die dag met ‘n polifonie van voëlsang; hy boots instrumente na soos die eensnaar-musiekboog of die oorverdowende trom ensemble. Hierdie werke het my laat soek na ander Suid-Afrikaanse orrelmusiek – musiek wat ‘n eie identiteit beskik.

Jy het in Februarie deelgeneem aan Klang-Zeit in Münster, Duitsland. Hoe het dié uitnodiging gekom?

Klang-Zeit is ? reeks hedendaagse musiekkonserte wat jaarliks oor twee weke in die stad Münster, Duitsland, plaasvind. Hierdie jaar was die tema “Neue Heimat” (nuwe tuiste). In 1998, 2000 en 2007 het ek Europese konserttoere onderneem en een van die organiseerders van Klang-Zeithet my onthou en die musiek wat ek graag speel, toe die nuwe tema bekend geraak het. Ek is genooi om die slotkonsert van die fees op die lieflike Schuke orrel in die St. Lamberti-kerk te speel. Ek dink as ? musikant buite sy land speel, is dit ? goeie geleentheid om iets van sy klankwêreld te deel. Afrika-tromnabootsings of die piet-my-vrou se roep werk magies op ? kleurryke instrument in ? koue katedraal met ? lang nagalm.

Duitse en Nederlandse gehore waar ek die musiek gespeel het, het gekonsentreerd geluister. Resensente het dit hoog aangeskryf en met van die beste hedendaagse Europese orrelmusiek (soos dié van Jean-Louis Florentz of Thierry Escaich) vergelyk.

Jy het daar die werk uitgevoer van Stefans Grové, Kevin Volans en Surendran Reddy. Hoe is Suid-Afrikaanse nuwe werk daar ontvang?

Ek probeer altyd Suid-Afrikaanse orrelmusiek uit verskillende hoeke belig, byvoorbeeld Kevin Volans se “Walking Song” is geïnspireer deur delikate riet-ensemble musiek, of Surrendran Reddy se werke bevat ? mengsel van klassieke- en jazz-elemente (? styl wat hy “clazz” noem), of Bongani Nododana-Breen se “But there went up a mist…” wat verwys na die mens se oorsprong in Afrika. Ek speel ook graag werke van komponiste soos Henk Temmingh, Jeanne Zaidel-Rudolph en Michael Blake, maar dit bly ? opwindende soektog om geskikte nuwe Suider-Afrikaanse musiek te vind, wat ek gewoonlik kombineer met werke uit die klassieke repertorium.

Benewens dosent is jy ook navorser. Wat is die aard van jou navorsing (en/of jou belangstellingsveld)?

As navorsingsgenoot aan die NWU het ek artikels geskryf oor Suid-Afrikaanse orrelmusiek, koor- en kerkmusiek. Ook het dit vir my ‘n geleentheid gebied om vir Sakov (Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging) drie volumes van Suider-Afrikaanse kerkmusiek te versamel en redigeer. Ons komponiste se musiek klink tog anders as Duitse, Engelse, Amerikaanse, Nederlandse kerkmusiek. Saam met opkomende orreliste en komponiste, het Sakov ook twee dubbel CD’s opgeneem met hierdie musiek.

Boonop is jy ook komponis?

Ek is nogal huiwerig om myself ? komponis te noem, hoewel dit seker die lekkerste aktiwiteit is wat ek myself soms toelaat. Tussen my musiek is drie didaktiese sprokies – in die vorm van operettes wat kinders in die loop van die storie bekendstel aan elemente van musieknotasie “Gieliegap gil ? G”, “Kirts” en “Twee musiekte”. Die NWU se skool vir kreatiewe skryfkuns het my by ? paar van hulle projekte betre. So het ek “Slaaptydmusiek vir fagot en klavier” geskryf vir die Kreatiewe Kreature-projek; die klankbaan vir “Weerkaatsing” en “Weerklank” en het ek drie tuinverse getoonset vir die Byderhand-projek. Ek het ook orrelmusiek, koormusiek en heelwat liedere geskryf.

Is daar CD-opnames van jou orrelspel beskikbaar?

Op die CD Afrika Hymnus (Claremont) speel ek die titelsnit en daar is ? paar koor-CD’s soos Boekevat of Alleluia waar ek die begeleiding doen, maar eintlik moet ek nog genoeg geld spaar om ‘n CD op te neem van Suid-Afrikaanse orrelmusiek.

Hoe lyk jou program vir die afsienbare toekoms?

Ek gaan nou eers weer na Duitsland en Italië, en as ek terugkom is daar konserte beplan in Port Elizabeth, Kaapstad, Krugersdorp, Lichtenburg, Potchefstroom. Hierdie inligting sal onder meer op Sakov se Facebook-blad geadverteer word.

Send this to a friend