Klassieke klanke: Trio Elegaique

Trio Elegaique, bestaande uit die violis Sergey Malov, die pianis Bryan Wallick en die tjellis Peter Martens, gee in September uitvoerings op verskeie plekke in die land.

Johan Myburgh

Op 17 September begin die drietal hul uitvoerings in Johannesburg se Linder-ouditorium vir ? konsert aangebied deur die Johannesburg Musiekvereniging (JMV) en tien dae later sluit hulle hul konsertreis af in Durban se Joodse sentrum.

Malov, ? virtuoos met die viool sowel as die altviool, is in St. Petersburg gebore. Nadat hy sy musiekstudie aan die Salzburg Mozarteum en die Hanns Eisler Hochschule in Berlyn voltooi het, het hy vir vioolspel onder meer die Jascha Heifetz-kompetisie in 2008 gewen en vir sy altvioolspel die internasionale Tokio-kompetisie in 2010.

Onder sy leermeesters tel Thomas Riebl, Antje Weithaas, Eberhard Feltz en Andreas Schreiber.

Sy belangstelling in ? histories-gedrewe benadering tot uitvoerings het gelei tot sy studie van die Barok-viool en die violoncello da spalla, minder as ’n halfgrootte tjello uit die Barok-tydperk wat om die nek gehang word en vanuit dié posisie bespeel word.

Benewens sy sololoopbaan is Malov ? toegewyde kamermusikus wat gereeld met ensembles optree.

Wallick is dikwels op Suid-Afrikaanse verhoë te sien. Hy is ? oudstudent van die New Yorkse Julliard-musiekskool het sy debuut in 1998 in Carnegie se Weill-konsertsaal gemaak. Die vorige jaar het hy ? goue medalje verwerf in die Vladimir Horowitz- internasionale klavierkompetisie in Kiëf.

Hy het sy studie in Londen aan die Royal Academy of Music voortgesit onder leiding van Christopher Elton.

Wallick is bekend vir solo-optredes asook vir sy begeleiding van violiste op Suid-Afrikaanse verhoë soos Yi-Jia Susanne Hou en Zanta Hofmeyr asook die sopraan Hanli Stapela. Hy tree ook dikwels op saal met die Kaapstadse Filharmonie asook die KwaZulu-Natalse Filharmoniese orkes.

Martens het studeer aan die Universiteit van Stellenbosch (US), die Salzburg Mozarteum en die Universiteit van Kaapstad. Hy is tans direkteur van die Stellenbosse internasionale kamermusiekfees en artistieke administrateur aan die US se musiekdepartement.

Hy is lid van die Amici-strykkwartet en sy kamermusiekvennootkap met pianiste sluit in Lamar Crowson, Nina Schumann en Leslie Howard.

Verskeie Suid-Afrikaanse komponiste het vir hom werk geskryf: Allan Stephenson het sy Tjellokonsert vir Martens geskryf en Peter Klatzow sy Sonate vir tjello en klavier. Vir die Stellenbosse opname-etiket TwoPianists Records het Martens in 2013 die volledige Bach-tjellosuites opgeneem.

TwoPianists Records is in 2008 begin deur die pianiste Luis Magalhães en Nina Schumann.

Die program vir die Johannesburg-uitvoering (en so lyk dit ook vir die res van die September-toer deur die land) bestaan uit die Trio Élègiaque no. 1 in g van Rachmaninoff, die Klaviertrio no. 2 in e van Sjostakowitsj en die Trio in a, op. 50 van Tsjaikowski.

Dié uitvoering staan bekend as die JMV se Nabarro-kamermusiekkonsert, genoem na ? voormalige erepresident van die JMV, Frank Reginald Nunes Nabarro (1916-2006), ? Suid-Afrikaanse fisikus en ywerige ondersteuner van klassieke musiek.

Die volledige lys uitvoerings is: Op 17 September is die trio in die Linder-ouditorium in Johannesburg; op 18 September in die Tauromenium-konsertkamer in Pretoria; op 21 September in Port Elizabeth; op 22 September in die Drilsaal van St. Andrews College in Grahamstad; op 23 September in die Endlersaal op Stellenbosch; op 25 September in Hermanus; op 26 September in Knysna en op 27 September in Durban.

 

[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/GfiFfqdP5rE” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

Hier is ? opname van Sergei Rachmaninoff se Trio élégiaque no. 1 in g (1892) gemaak tydens die 2009-Verbier-fees. Die soliste is Vadim Repin (viool) Mischa Maisky (tjello) Lang Lang (klavier). Rachmaninoff was 19 toe hy dié trio in Moskou geskryf het.

[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/IesxWe1pT28″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Luister hier na die Klaviertrio no. 2 in e, op. 67 van Dmitri Sjostakowitsj uitgevoer deur die Bella Trio, Stephanie Bibbo (viool), Gabriel Beistline (tjello) en Mimi Lee (klavier). Die opname is in 2011 gemaak in die San Francisco-konservatorium. Die trio is in 1944 geskryf, net ná die Simfonie no. 8. Die trio is een van die eerste werke waarin Sjostakowitsj reflekteer op die tragedie van die Joodse doodskampe tydens die Tweede Wêreldoorlog.

[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/2GAatbgHKUU” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Pjotr Tsjaikowski se Trio in a, op. 50, geskryf in 1881/82, uitgevoer deur Oleg Kagan (viool), Natalia Gutman (tjello) en Sviatoslav Richter (klavier). Dié opname is gemaak in 1986 in die Pushkin-museum in Moskou.

Send this to a friend